'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Sondag 10 Maart 2013

Moderne Kwilts

Ek was 'n bietjie awesig van my blog, maar is met nuwe voornemens gereed om weer bietjie hier te skryf. Ek is lekker besig met allerhande projekte. Aan die einde van die maand gee ek klas by Dot's Quilts met die tema "Moderne Kwilts". Dorothy is mal oor moderne lappe en haar winkel het 'n wye verskeidenheid van hierdie soort materiale.

Kwilters wat in hierdie genre werk sê dit is moeilik om die moderne kwilt in woorde vas te pen, maar as jy dit sien, sal jy dit erken. Daar het al heelwat boeke oor die onderwerp verskyn en nou is daar ook 'n tydskrif wat hieraan gewy word, beskikbaar. Quiltcon is van 21-24 Februarie in Austin Texas deur die Modern Quilt Guild aangebied.

Alhoewel baie moderne kwilters kunskwilts maak, is daar net soveel wat kwilts maak om gebruik te word en as "binneversierings" items gebruik word om by te dra tot die dekor van 'n huis. Moderne materiale het dikwels groot motiewe in verskillende kleure gedruk. Die kleure is vars helder kleure sonder grys of bruin wat in die kleur vermeng is. (Daar is natuurlik ook uitsonderings) Die materiale word dikwels met wit materiaal gekombineer om 'n sterk kontras te vorm. Die kwilt ontwerp is eenvoudge las pante soos vierkante of reghoeke. Daar word nie tipiese blokke soos byvoorbeeld sterre gemaak nie. Weer eens is daar ook uitsonderings en dit is nie te sê dat mens dit nie kan doen nie.

Hier is 'n baie mooi Dear Jane kwilt wat met Kaffe Fasset materiale gemaak is.

Vir hierdie klas gaan hierdie kwilt met die "octagon" of Melon Patch blokke gemaak word. Die sukses van die kwilt word bepaal deur die materiaal kombinasies. Daar is ook 'n paar kleiner dingetjies waarna mens moet oplet. Die patroonplaat vir die Oktagon kan maklik verkeerd op die materiaal neer gesit word en dan word die pante nie korrek gesny nie. Die driehoeke moet ook aan die skuinssye vas gewerk word en nie op die sye wat op die draadrigting gesny is nie- dit sal verkeerde resultate gee.

Hierdie maklike kwilt bied aan mens die geleentheid om "mindful" te werk. Wanneer mens op iets konsentreer word verbindings in die brein gevorm. Dit help om die brein te verjong. So wanneer jy met jou laslapwerk doenig is, raak daarin verdiep en konsentreer daarop- slaan die dwalende gedagtes hok, vir 'n nuwe brein.

Alles wat mooi is vir 'n jong vars brein

Marié

Maandag 23 Julie 2012

Te veel moontlikhede

Daar is niks so verlammend soos 'n te wye keuse nie. Ek het hierdie blokke gemaak in 'n Quilt University klas met Karen Combs. (Sy gee ongelukkig nie meer daar klas nie- maar die boek is net so volledig.)
3 Blokke-een met ligte vierkante, een met donker vierkante en een wat diagonaal in lig en donker verdeel is met driehoeke en vierkante.
Ek kon nie besluit watter uitleg ek sou gebruik nie. Dit was 'n groot werk om die blokke te maak en ek wou nie dit aan mekaar stik en dan later spyt wees nie. Uiteindelik het ek besluit dat hierdie blokke nou aan mekaar gestik moet word. Toe ek die boks  oop maak- sien ek dat ek eintlik reeds 'n goeie uitleg beplan het.
Begin van uitleg
Ek weet nou al te veel moontlikhede lei tot besluitloosheid- so ek het dit net eenvoudig volgens die diagram uit gelê op my ontwerp muur. Tot my verbasing het ek so baie blokke gehad dat ek nog 'n rand patroon ook kon beplan. 
Uitleg sonder raam

Daar is steeds blokke oor. Ek sal nog 'n geleentheid kry om weer eens te besluit hoe ek die kleiner kwilt sal uit lê.
Ek het al twee kwarte aan mekaar gestik en gepars. Hopelik sal ek die ander twee kwarte vandag kan voltooi.

Vir hierdie kwilt het ek baie materiale gebruik wat oor was na ek dit in ander kwilts gebruik het. Mens raak moeg om dieselfde lappies oor en oor te gebruik Jy voel ook "skuldig" as ou bekendes in die klas bly lê- so asof jy jou ou vriende verwerp. Op hierdie manier kon ek die geliefde lappies eens en vir altyd op gebruik.

Alles wat mooi is en geniet jou "scraps".

Sondag 15 Julie 2012

Alle kwilts is nie suksesvol nie

Ek eksperimenteer graag. Dit beteken dat ek nie altyd die uitkoms kan voorspel nie. Soms is die eindproduk onsuksesvol. Dit beteken nie dat dit nutteloos was of 'n Flop is nie. Ek leer baie tydens so 'n "onsuksesvolle" kwilt. Dikwels is die les wat om nie te doen nie.

Ek wou die kwilt in meer moderne materiale doen. Die uitslag het net weer eens vir my bevestig dat besige materiale nie vir kwilts met sterre en fyn skerp puntjies gebruik moet word nie- julle is welkom om  my verkeerd te bewys

Ek het 'n klas in Quick strip  paper piecing op die webwerf "Craftsy" gedoen. Ek het gelukkig nie soos gewoonlik die moeilikste ontwerp gekies en my eie idees tussen in gegooi nie. Ek het presies soos die instruksies gemaak behalwe: Ek het nie die patrone uit gedruk nie- ek het een patroon gedruk en toe dit bo-op 'n stapeltjie van  12 papiere gesit. Ek het met 'n naald sonder garing op al die lyne gestik. Die voordeel is dat mens ook aan die materiaal kant die lyne kan sien.

Die eerste keer wat ek aan "Paper based piecing" blootgestel is, is daar gedemonstreer dat dit op deursigtige papier afgetrek word sodat mens aan albei kante die lyne kan sien.

Die groot nadeel van "Paper based piecing" is om die papier agterna te verwyder. Daarom verkies ek om nie deur die papier te stik nie, op "freezer paper" te werk en die materiaal daarop vas te stryk. Ek vou dan die papier weg en stik langs die vou.

Die strook metode wat in hierdie klas gebruik word, is egter baie nuttig en het die tydsame proses wat "Paper based piecing" gewoonlik is, baie bespoedig.

In die klas word daar stap vir stap van eenvoudige patrone na meer ingewikkelde ontwerpe beweeg. Ek kan regtig die klas aan beveel. Vir die prys van een klas kan 5-7 kwilts van verskillende patrone gemaak word.

Mag al julle kwilts mooi en suksesvol wees.
Marié

Maandag 25 Junie 2012

Is kleur keuses moeilik?

Toe ek 30 jaar gelede begin laslapwerk doen het, was ons grootste probleem om geskikte materiaal in die hande te kry. Om materiaal van die VSA te bestel het die verkryging van 'n banktjek behels- wat 'n beslommernis was dit net nie! Hier in die Kaap kon ons uit die klein verskeidenheid materiale van Biggie Best kies. Verder het ek by Sacks & Futeran (ai waar is daardie ou winkel van ons!) geskikte Da Gama materiale uit gesoek.Wat 'n vreugde toe die Suid Afrikaans vervaardigde Percy Burlin reeks op die mark gekom het. 


Ons het dit nie toe besef nie, maar die beperkte keuse het dit vir ons eintlik makliker gemaak. Dit was defnitief nie oorweldigend soos wat nuwe kwilters vandag moet ervaar nie.
Ster: hoofsaaklik Percy Burlin materiale

As gevolg van die beperkte materiaal keuse en my onervarenheid het ek aanvanklik 'n monochromatiese kleurskema gebruik. Mens kan nie eintlik 'n fout maak as jy net pink lappe gebruik nie?  Die patroon/ontwerp  in 'n monochromatiese kleurskema sal net duidelik uitstaan as mens seker maak dat daar genoeg verskil tussen ligte, medium en donker materiale is. Die essensiële vaardigheid het ek  dus op hierdie wyse aan geleer.


Ek het baie gesukkel om die konsep van 'n agtergrond mooi te verstaan. Ek wou graag 'n verskeidenheid lap gebruik soos aan beveel deur my geliefkoosde skrywers van daardie tyd, Beth Gutcheon en Jinny Beyer. Ek het dan soms 'n ligte en 'n medium materiaal as agtergrond gebruik. Dit het gelei tot snaakse vorms in die agtergrond wat my patroon versteur het. Aanvanklik het ek Laslap blokke gemaak en dit in kussings gebruik. Ek kon dus na my handewerk kyk wanneer ek in my sitkamer ontspan het. Op hierdie manier het my eie werk belangrike lesse aan my geleer.
Dit is min of meer soos dit gelyk het- met die versteurde agtergrond.


Mens leer maar net die beste deur te doen, en dan jou werk te bestudeer. Beginner kwilters gee graag hul werk weg. Sorg dat jy genoeg kwilts vir jouself maak en dit gebruik sodat jy die lesse wat jou kwilts jou kan leer kan ervaar.


Alles wat mooi is
Marié