'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Maandag 23 April 2012

Stysel op die Stikdag

Nou dat ek gereed is om te blog is my kamera net weg. Ek soek al 'n week lank daarna. Ek het foto's met my selfoon geneem en gehoop om dit na my rekenaar via die faks lyn te stuur maar dit wou nie werk nie. Wel die oplossing is om oor iets te praat wat nie foto's benodig nie.

Ons is nou die dag na Robertson vir die Langeberg gilde se stikdag. Wat 'n heerlike dag met 80 kwilters in die saal om saam te stik. Dit is tradisioneel ook hul poeding dag en vir die wat wou, was daar poedings te kus en te keur.

Ek het my stysel by die huis vergeet en moes eers 'n winkel soek. Ek  gebruik stoom as ek my materiaal stryk en my pante oop pars. As ek praat van oop pars, bedoel ek dat daar geen plooi of vou in die naat moet wees nie. (Ek pars wel my naattoelatings na een kant toe en nie soos by klere konstruksie waar mens elke naattoelating na sy eie pant terug vou nie.) 'n Plooi in die naat lei tot onakkuraatheid want die pante is nie die regte groote nie en daar waar mens die speld op die agterkant steek, is nie die werklike ontmoet punt as die naat nie behoorlik oop gepars is nie. Stoom en 'n goeie strykyster is die enigste manier om die pante in posisie te laat bly as mens dit gepars het,  dit fikseer die naat in die posisie.

Stoom kan baie maklik die pante uit proporsie rek en daarom is dit belangrik vir my om stysel te gebruik. Ek gebruik 1 teelepel Robin Starch poeier op 1 koppie water. Ek gooi dit in 'n goeie spuitbottel met 'n pomp. Die ander bottels raak verstop en kan nie 'n goeie fyn sproei maak nie. Skud dit goed en dit is gereed om te gebruik. In hierdie druk pomp bly dit langer vars, maar as dit soos ou brood begin ruik gooi ek dit weg en maak vars stysel aan.

Ek kon nie rou stysel te koop kry nie en het toe ten duurste die kannetjie stysel gekoop.( Ek gebruik te veel stysel om net dit te gebruik.) Stysel help ook om 'n stewiger oppervlakte te gee as mens kwilt so selfs al sny mens nie die materiaal op die skuinste nie, is dit steeds voordelig om dit te stysel. Ek stysel net die materiaal wat ek gebruik want stysel kan glo vismotte trek-  maak dus seker dat die kwilt in wording daarteen beskerm is en was die kwilt by voltooiing.

'n Ander voordeel van die gebruik van stysel en stoom is, as die materiaal goed nat gemaak word, krimp dit. As jy nie jou materiaal vooraf was nie- is hierdie stap nodig om dit te krimp. Dit is veral voordelig wanneer mens klaar geknipte stroke soos Jelly Rolls gebruik wat jy nie kan was nie.

Mens kan die stysel mengsel sterker of flouer aan maak. As jy met 'n baie pap materiaal werk kan jy meer stysel gebruik (2-3 teelepels op 'n koppie water). Wanneer mens stysel gebruik om die randjies van appliek in te vou en oor freezer paper te stryk, is 'n flouer stysel mengsel beter. Indien 'n puntjie op die rand gepars is waar mens 'n egalige ronding wil hê, is dit makliker om dit te herstel as 'n flouer stysel mengsel gebruik word.

Vir masjien appliek werk is stysel ook noodsaaklik om die materiaal te stabiliseer sodat die satynsteke dit nie uit proporsie trek nie. Dit verleen ook stabiliteit as mens sierstiksels op materiaal maak- 'n afskeur stabiliseerder is ook noodsaaklik, maar as jou materiaal self gestysel is, is die resultate net soveel netjiese. Ek stysel ook al my materiaal wat ek vir digitale borduurwerk op my masjien gebruik. Viva Stysel!

Alles wat mooi is


Marié du Toit

Dinsdag 20 Maart 2012

Seminole Werk

Die Seminole Indiane het stroke lap aan mekaar gestik, dit op gesny, die eenhede verskuif en weer aan mekaar gestik om interessante kleur bande te lewer.

Die bande is gebruik as versiering op kledingstukke. Die konsep is eenvoudig maar die moontlikhede legio. Die stroke se breedtes kan wissel, of die kleur samestelling kan interessante sekondêre patrone op lewer.

Die stroke wat aan mekaar gestik is kan ons 'n strookstel noem. Deur die strookstel teen 'n 60 of 45 grade hoek in skywe te sny kan twee verskillende bande (Die klaar produk) gevorm word. In die een band staan die diamante regop op hul skerp punte.


Deur die skywe af te skuif word 'n smaller band gevorm waar die daiamante se skerp punte aan mekaar raak.



Die boek van Cheryl Greider Bradkin, The Seminole Patchwork Book  en 'n tydskrif artikel het my aan gespoor om hierdie tegnieke op gewone laslapwerk toe te pas.

 Ek het die Trip Around the World en Lone Star kwilts met die tegniek gemaak.

Trip Around the world
Uiteindelik het ek ook gesien hoe mens dit in enige projek kan gebruik om laswerk te bespoedig.

In hierdie kwilt is die "ontwerp element" wat die oog deur die kwilt lei, die Nine Patch in hul spesifieke oriëntasie. Al die Nine Patches is gemaak deur eers stroke aan mekaar vas te stik, dit in skywe te sny, elke tweede skyf om te draai en dan vas te stik om die eenheid te vorm. Die eenheid is in die hoeke van die blokke gestik.
Burgoyne Surrounded

Alles wat mooi is


Marié



Maandag 27 Februarie 2012

Daan Desimaal

Toe ek skool toe is, het Suid Afrika net gemetriseer en was Daan Desimaal daar om aan almal bystand te verleen met die metrieke stelsel. Kwilters ouer as 55 het nog met duime te doen gehad maar diegene jonger as 55, het van duime geleer uit Amerikaanse kwiltboeke.

Aangesien ek lief is vir somme maak  (dit is een van die redes waarom ek laslapwerk so geniet- ek kan baie berekeninge maak) en ek maklik diagramme kan lees, het dit nooit vir my sin gemaak om 'n Amerikaanse patroon te volg nie. As ek 'n idee sien waarvan ek hou, het ek self besluit watter grootte ek dit wil hê en my patrone gemaak (indien nodig). Deesdae werk ons graag sonder patrone met die multi lyn liniaal. Ek verkies my liniaal in sentimeters en my hele sisteem is in sentimeters.

Toe ek begin laslapwerk doen het en dit met die masjien wou doen, (daar is in 1980 nog hoofsaaklik met die hand gewerk) het ek gou besef dat die naat toelating en die masjien voet met mekaar  verband moet hou. Die VSA tydskrifte het van 'n spesiale kwartduim voetjie gepraat wat mense moes aankoop of lyne wat op die masjienbed getrek moes word om die mate te gee. Ek het gereken as ek die masjien voetjie van die naald tot die buitekant van my voetjie meet, het ek my naat toelating en so het ek dan 7 mm bygevoeg.

Ek het wel gesien dat my blokke nie altyd die verlangde grootte is nie (So 2-4 mm minder) maar dit was klein verskille wat nie my akkuraatheid beïnvloed het nie. Ek het milimeter grafiekpapier gehad en kon my patroon plate daarop trek. Dit is dan ook die naat toelating van die patroon plate in my boek: Masjienlaslap.

Met die patroon plaat vrye era waar ons met die lyne op die liniaal gewerk het, was ek 1 mm kort van die 1,5 cm wat ek op die liniaal kon lees.  As ek vierkante of reghoeke sny waar daar 'n naat toelating aan elke sy is, moes daar 2 naat toelatings by getel word, dus 1,4 cm.

Ek het weer die masjien voetjie om gedop- gedagtig aan my blokke wat so 4 mm kleiner is en toe die hele voet gemeet. Ja ek het vergeet van die mm spasie wat die naald in beslag neem! Die voetjie was 1,5 cm breed en die helfte daarvan 7,5 mm. Nou kon ek ook patroonplaatvry werk en vierkante en reghoeke met my liniaal en rolsnyer tot 8 lae hoog sny.

In die duim sisteem geld die volgende:
Vierkante:   voeg 1/2 duim by
HST- Half Square Triangles (Dit is driehoeke waar 2 driehoeke uit 'n vierkant gesny word)- voeg 7/8 duim by
QST Quarter square triangles (4 driehoeke word uit 'n vierkant gesny word twee maal oorhoeks verdeel)- voeg 1en 1/4 duim by.

As jy dit uit teken of wiskundig bereken is die mates vir die desimale stelsel as volg:
Vierkante- voeg 1,5 cm by
HST - voeg 2,5 cm by
QST -voeg 3,5 cm by

Dit is belangrik om nie die twee sisteme uit te ruil nie. Moenie die vierkante in sentimeters gebruik en die driehoeke in duime en dan die pante kombineer nie.

Noodsaaklik: Die naattoelating wat jy byvoeg is die naattoelating wat jy moet stik.


Die manier waarop mens die materiaal gids bepaal wat jou naat toelating werklik is. As jy 'n spesiale kwartduim voetjie gebruik maar jy gids die materiaal so dat jy dit duidelik kan sien (dan steek daar 1 mm materiaal uit) stik jy nie 'n kwart duim naat toelating nie maar nader aan 7,5 mm. (Dit is hoekom Amerikaanse boeke van 'n "scant 1/4 inch" naat praat.

Naat toelating steek uit
Dieselfde geld as jy met die 1,5 cm voetjie gids moet die materiaal net gelyk aan die buiterand van die voetjie sigbaar wees en nie uit steek nie.
Korrek
Maak dit saak? Mense wat naat toelating foute maak sal dit nie agterkom as al die pantjies dieselfde is nie. Bv as jy net met vierkante werk raak die naat toelating onbelangrik. Dan is die enigste ding wat belangrik is: konstante handhawing van dieselfde naat toelating.


Die kleefstrook wat mens gebruik om spieëls vas te plak, is dik en bied 'n goeie gids om die materiaal voor die masjienvoet in die regte posisie te hou.

Noodsaaklik: Handhaaf deurgaans dieselde naat toelating.


Alles wat mooi is.


Marié

Vrydag 24 Februarie 2012

Die idees

Die groot lekkerte van laslapwerk is dat mens binne die veilige grense van bestaande patrone jou eie idees vrye teuels kan gee. Trek blokkiespapier nader en begin om dit in twee kleure in te kleur. Los areas oop , maak paadjies voeg nog kleure by met oop areas tussen gekleurde areas en gaan so voort tot 'n ontwerp begin vorm.


Hou twee spieëls op 'n hoek en die hele ontwerp vorm.
Gee die blok 'n kwart draai en 'n ander ontwerp vorm. (Myne is nie heeltemal 'n spieelbeeld nie- ek dink nie ek het die blokke reg ge"flip" in die program nie) Hopelik kry julle die idee.

Dit is altyd goed om 'n idee op papier te beplan voordat mens dit uitvoer- dan het jy 'n padkaart en weet jy waarheen jy oppad is.

Baie mense hou daarvan om patrone uit 'n boek of tydskrif te maak of aan te koop. Op die manier is jy verseker dat daardie mooi kwilt wat jy sien, die een is wat jy sal skep. Met die materiaal reekse wat deesdae te kry is kies party ontwerpers sekere reekse vir hul patrone. In Suid- Afrika is hierdie reekse nie altyd beskikbaar nie en is dit dan jou eerste kreatiewe uitdaging. Soek materiale wat min of meer soos die prentjie van die kwilt lyk of kies jou eie materiale. Van hier is dit dan net nog 'n treetjie om jou eie kwilt te ontwerp.

As 'n patroon of boek jou die nodige tegnieke leer om te volg met stap vir stap aanwysings is dit 'n goeie wegspringplek. As jy net instruksies kry van hoeveel van die verskillende parte van die onderskeie materiale benodig word, het jy dalk nog hulp nodig met tegnieke wat goeie resultate sal lewer.

In hierdie blog hoop ek om tegnieke wat ek gebruik met julle te deel.

Alles wat mooi is.

Marié