'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Tuesday, February 21, 2012

Waar sou jy begin?

Toe ek 30 jaar gelede begin Laslapwerk doen het, het 'n basiese kursus bestaan uit die maak van 6-12 blokke wat dan in 'n sampler saam gestel is. Dit is vir my opmerklik hoe baie basiese kursusse nog hierdie holrug geryde resep volg. Dit beteken nie dat mens nie baie kan leer nie- maar beginners wil dikwels nie iets leer nie- maar iets maak.

So wat sal jy iemand leer wat iets wil maak? Daar is so baie wat mens kan doen, dat mens amper nie weet waar jy moet begin nie. Ek dink mens moet klein begin soos 'n tafel loper, 'n kussing oortreksel of 'n babakombers. As daar geen behoefte vir hierdie items is nie- wat van 'n "loper" wat oor die voetenent van die bed gegooi word vir 'n enkelbed so 150cm X 80 cm en 200cm X 80cm vir 'n dubbelbed. (Dit is amper al te groot)

'n Groot kwilt raak swaar en moeilik om te hanteer veral as mens by die kwilt stadium kom. 'n Te ambisieuse eerste projek lei dikwels tot die ontmoediging van 'n moontlike nuwe kwilter. So my raad aan 'n beginner is: Kies 'n projek wat jy regtig graag wil doen en pak eers iets kleiner aan voor jy jou groot droom projek aan pak. Begin dan met 'n maklike patroon waar vierkante of reghoeke gebruik word. Daar is genoeg dingetjies te leer met so 'n projek- sonder dat mens dit kompliseer met skerp hoekies wat by mekaar moet kom.
Hierdie kwilt is van 'n verskeidenheid materiale gemaak
Ek het materiale waarvan ek klere gemaak het, wat ek as "Fabriek scraps" gekry het en my klein "stash" op daardie stadium, gebruik.

Dit is 'n regte outydse patroon en ek wonder hoe dit in vandag se moderne materiale sal lyk? Wat van 'n Kaffe Fasset materiaal wat met 'n Amy Butler materiaal gekombineer is? Hoe sal dit lyk as elke tweede blok net 'n effe kleur is? Of as mens 'n materiaal gebruik met groot rose op of 'n prentjie lap. Dit is wat my altyd so lus maak om aan die werk te spring- daar is so baie moontlikhede en ek het 'n kas vol POTENSIAAL (Dit is my lap versameling).

Kwiltwerk verg vaardigheid en oefening. Vandag het ons die opsie om die werk deur langarm kwilters te laat doen. As jy jou kwiltwerk self wil doen, kies dan die laslap patroon so dat mens  die kwilt patroon met 'n walking voet kan stik.(Dit wil sê reguit lyne wat in 'n rigting loop) Dit is 'n spesiale masjienvoet wat anders as die drukvoet van die masjien nie die materiaal teen die masjien vasdruk nie maar saam met die voertandjies die materiaal na agter beweeg. Dit verhoed dat die drie lae van die kwilt (die bokant, die watteersel (batting) en die agterkant) as 'n eenheid beweeg en nie oor mekaar gly om plooie te vorm nie.

Die vierkantjies in die kwilt is 5 cm groot (finale mate- dit beteken nadat dit vas gestik is- die mate van die vierkant wat jy kan sien). Ek het egter nooit met vierkante gewerk nie!

As jy geskikte lap het- 'n taamlike verskeidenheid, kan jy hierdie eenvoudige kwilt of 'n variasie daarvan maak met die aanwysings wat ek in volgende blogs sal gee.

Alles wat mooi is.

Marié



1 comment:

  1. Ek is baie opgewonde om jou te 'volg'. Klink baie snaaks in Afrikaans. Ek het ook baie lappies wat pragtige ietsie gaan maak, soek nog net die patroon. En stem saam met begin met kleiner praktiese iets en nie soos ek met koningin groottenie.

    ReplyDelete