'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Wednesday, May 2, 2012

'n Lekker Stikdag

Vandag het ons Swartland kwilters 'n stikdag op Riebeek Kasteel gehad. Almal wat wou, het hul roos lappe gesny in die verskillende breedtes. Die wat die kwilt al gemaak het of nie hul swaar masjiene wou saambring nie, het hulle met handwerk of breiwerk besig gehou en saam die geselligheid belewe.
Rita- regs, se roos kwilt
Die roos kwilt is 'n baie lekker projek. Daar is niks skerp puntjies wat mooi hoef te pas nie. Mens knip groot blokke van mooi groot roos materiaal. Van kleiner drukstowe word smaller stroke gesny om Four- en Ninepatches te maak. Wag laat ek nou mooi Afrikaanse name bedink? Wat van Skaakmat (vir Checkerboard of four patch of Two Patch soos dit ook bekend is?)



                                                                    en Nege blokkies?

 Ag ek is nie goed met dit nie- wil julle nie help en voorstelle maak nie? (By die Boland gilde - nuut gestig 3 maande gelede het hulle die mooi naam "Oe en Aaaa" vir "Show en Tell" gekies, daar was ook voorstelle van "Haal uit en wys" en nog 'n paar goeies wat ek nie nou kan onthou nie)

Ons het ook twee ander blokkies gemaak waarvan een deur  Elmarie sommer die klaviertjie gedoop is.

                                         Die ander blokkie lyk so

Ons het dit alles met strook laswerk gedoen. Die seminole werk van ons eerste vergadering die jaar het baie gehelp dat almal die konsep van strookstelle, waarvan skywe af geknip word, goed verstaan het.

Ek het vandag weer besef hoe 'n belangrike rol stysel kan speel. Party mense het papperige materiaal wat met stysel baie makliker hanteerbaar sou wees, gehad of moes kleiner naattoelatings stik wat dan op gewip het en met stysel mooi sou plat lê.

Die stikdag is in die ACVV saal gehou en ons het die lekkerste sop gehad. Die pampoensop was soos poeding. Rita se lekker vars brood was ook 'n heerlikheid en daar om die brood tafel het ons eers botter se lof besing en idees uit geruil om botter met olyfolie smeerbaar te maak.

Almal is met 'n klompie voltooide blokke huis toe om daar oor die volgende weke die kwilt te gaan klaar maak. Kwilters is darem net ander kwilters se beste vriende. Ons deel nie net ons liefde vir lap en ontwerp nie maar ook mekaar se lief en leed. (Rita se hond het kleintjies gekry in haar awesigheid en aan die einde van die dag was daar 8- wie soek 'n Boerboel gekruis met 'n Great Dane-Bokser Pa ('n baie slim hond) se kleintjies?

Alles wat mooi is liewe kwilt vriendinne,Marié




2 comments:

  1. Hou van jul Afrikaanse beskrywings vir die engelse terme!! Veral Oe&Aa klink lekker - kan net dink hoe mooi is die kwilte wat daardie geluide gaan uitlok!!

    ReplyDelete
  2. Lyk na 'n lekker dag, en mooi kwilts. Groete. Trienie

    ReplyDelete