'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Monday, April 15, 2013

Handlas in Bloem

Mense is dikwels verbaas om te sien dat ek, 'n masjien kwilter, hand laswerk doen. As ek hulle dan vertel dat ek omtrent 1 kwilt per jaar met die hand maak is hulle nog meer verbaas. Hand laswerk is baie "vervoerbaar". Ek het baie oninteressante dae langs my kinders se netbal bane met my laswerk verwyl.

Die wonderlike is ook dat herinneringe aan die verskillende projekte vas geknoop is. As ek na my Liberty projek kyk onthou ek die paar dae in Mainz. Ek was op 'n wyn skou om ons wyn (Middelpos) te probeer verkoop. Ek het bietjie gaan stap en niks vermoedend langs die moderne hoofweg af gestap. Ek is by 'n groot afdelings winkel in om wol onderklere te gaan soek. Toe ek by die winkel se agterdeur uitloop was dit soos om in 'n ander wêreld te beland. Ek het regtig soos Alice in Wonderland gevoel.

Hier was keisteen straatjies met ou wêreldse winkeltjies. Vol verwondering het ek in die straatjie gestap en alles in gedrink. Toe ek daarna in my hotel kamer aan my hand projek werk het ek hierdie verwondering vir ewig in die kwilt vas gewerk.

Ek vertel in my Engelse blog hoe ek 'n vinnige handlas metode ontwikkel het. (Regs kliek op die verligte woorde en kliek op "Open in a new tab". Dan kan u daar meer lees en weer terug kom na hierdie skrywe).

Tydens Bloemfontein se Nasionale Fees bied ek op 3 Julie 'n handlas klas aan. In die klas gaan die vinnige handlas metode toegepas word om 'n Feathered Star te maak. 'n Ster met die hand is maklik. Wanneer dit met die masjien gemaak word moet mens die Y nate afsonderlik stik wat tydrowend is. (Mens stik eers, speld dan die volgende naat in posisie en stik dit dan vas) Met handwerk werk mens net die een sy vas, herposisioneer vir die volgende sy en gaan aan om die sy vas te werk.

As 'n mens sulke klein driehoekies moet vas werk behels masjien werk dat mens noukeurig moet speld om te verseker dat die hoekies mooi skerp is. Aangesien die puntjie dikwels deur 'n naattoelating toe gevou word kan mens foute maak en moet jy uittrek en weer oor speld. Met handwerk speld jy ook, maar jy sit in 'n gerieflike stoel (as jy by jou huis aan jou handprojekte werk) en vou die naattoelatings weg om presies korrek te kan werk- so geen uittrek is nodig nie.

Daar is 'n plek vir hand en masjien werk. Ongelukkig het baie kwilters se handlaswerk by heksagone begin en geeindig. Appliekwerk word dikwels met die hand gedoen en die handwerk entoesiaste kan gerus die vaardigheid om met die hand te las ook aan leer.

Ek wil graag my vinnige metode wat handwerk bespoedig, met julle deel. Die metode behels dat eers net die een stel lappies gemerk word. Die patroonplaat word dan na die eerste sy vas gewerk is, op die naatjie van die ander lappie geplaas om die ander sye te merk. Laspante word ook eers agterna los gesny wat die verlore raak van laspantjies beperk. (Ek noem my metode LAS- EERS-SNY-DAN.) Wanneer die individuele pante gesny word, word die rolsnyer gebruik en word 2 lae gelyktydig gesny. Dit is alles dinge wat die handlaswerk bespoedig en dit moontlik maak om kwilts vinniger met die hand te las. (Vinniger werk se voordeel is dat jy meer kwilts in dieselfde tyd kan maak- ons kry nie meer tyd nie en moet die tyd wat ons het effektief benut)
Tydens die Fynbos Wegbreek in Riebeek Kasteel het 14 entoesiastiese kwilters hierdie muurbehangsel aan gepak. As jy 'n nuwe vaardigheid wil leer en hand laswerk deel van jou repertoire wil maak, dan sien ek jou op 3 Julie in Bloemfontein.





1 comment:

  1. Ek is seker daarvan die tyd langs die netbal baan is 'n rusige plekkie om handewerk te doen. Jou kwilts is baie mooi Marie.

    ReplyDelete