'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Friday, January 15, 2016

Vir die manne in my lewe

Daar is twee klein mannetjies in my lewe wat elk n kwilt moet kry. So voor dit net by beloftes en voornemens bly het ek aan die werk gespring. Vir 'n kinder kwilt is prentjies altyd n goeie begin punt. Dit maak hul slaap kombersie sommer n storiekombers en 'n lekker aand geselsie met wie hul ook al in die bed sit.

Ek versamel prentjie lap en weet presies op watter rak dit is. Behalwe dat ek verlede jaar die rak reg gepak het. Ek het gedink en gedink, waar sou ek dit gepak het. Einde ten laaste het ek maar begin soek. Op alle moontlike en onmoontlike plekke gekyk. Die leer gaan haal en houers bo uit die kaste gehaal. Toe sommer materiaal gekry wat ek in die komberse kan gebruik.

Ook kry ek die lekker sagte langhaar materiaal wat ek juis vir my kinderkwilts gekoop het. Dit gebruik ek as watteersel en agterkant. Ek het met my kinders gesien dat hulle nie so lief vir hul kwilts was al het dit n flennie agterkant gehad. Die langhaar sagte kombersies was altyd hul keuse. Ek hou nie eintlik van sintetiese lap nie- ek glo dis plastiek en sweterig. Hier moes ek swig as ek wil hê my kwiltswat  met liefde gemaak is, moet gebruik word.

Die prentjielappe kry ek nie. Een of twee verdwaaldes wat by ander lappe is, kry ek wel. Gelukkig het ek twee prente lappe by Quilttalk gekoop toe ek deur George huis toe gekom het van my vakansie by Buffelsbaai. Ek kry ook 'n John Deere paneel en n almanak van 2008  paneel met prentjies wat bruikbaar is.

Die tweede stap is om die kwilt te ontwerp. Ek sien n kwilt wat uit eenvoudige en bietjie meer komplekse blokke bestaan in n nuusbrief van Jinny Beyer. Dit is n kwilt van Heather Spencer Dan's Climb. Sy het dit ontwerp as n Mystery en die patroon kan nou as geheel gekoop word vir fondse om kankerlyers te help met die kostes tydens behandeling. Ek gebruik dit as inspirasie om my Slangetjies en leertjies kwilt vir Siegfried te ontwerp.
Ek hou van strook laswerk. Dit is vinnig om te sny en te stik. My blok groote is 20 cm. Die prentjies moet rame om kry sodat dit 20 cm (plus naattoelating is- 21,5 cm) So dit is my eerste stap en ek kan dit op die ontwerp muur pak. Die groot checkerboard blokke is maklik om te maak met twee stroke van 11,5 cm wat aan mekaar gestik word en dan in skywe van 11,5 cm op gesny word.

Die slangetjies en leertjies blok is meer gekompliseerd en bestaan uit verskillende eenhede. Ek las drie stroke van 6,5 cm aan mekaar en sny dit in skywe op van 6,5 cm.(Dit is die middelste twee eenhede bestaande uit die groen, rooi en blou vierkante)


 Dit kan nie verder gelas word nie die leertjie eenhede moet ek eers maak.

Hier het ek n denkfout gemaak en ipv die vier stroke 4 cm breed te sny doen ek dit 4,5 cm. (As die 4 cm stroke aan mekaar gestik is, word dit in 4,5 cm skywe op gesny.) Weerskante van die skyfies kom n donker strokie 2,5 cm breed. (Ek sny dit maar net korter- die blokkies is dan nie almal ewe groot nie.) Gelukkig vergewe n kinder kwilt mens se foute-dis net nog n gesels onderwerp.

Aan die helfte van die leertjies kom 'n vierkant van 6,5 cm. Dit word dan aan 'n drieblok skyf van 6,5 cm gestik met 'n "leertjie" dwars oor die twee eenhede om die helfte van die blok te vorm. Twee helftes word aan mekaar gestik om die blok te voltooi. Die blok is nogal tydrowend om te maak. Met die blok voltooi kan ek dit op my ontwerp muur pak en die blokke aan mekaar stik.


Ek weet nie hoe ek gekyk het nie, maar ek het gedink dat die slangetjie en leertjie blok in enige oriëntasie kan wees en dit toe net uitgepak. Natuurlik toe dit klaar aan mekaar gestik is sien ek dat die maroon vierkante in die slangetjie en leertjie blok in verskillende rigtings wys. As dit n muurkwilt was, het ek dit defnietief uitgehaal en verander. Nou is dit net nog n gesels onderwerp vir Siegfried en sy Ma Hester. (Sy Pa, my boetie Danie is ongelukkig verlede jaar oorlede)

Ek besluit dat die Slangetjies en leetjies blokke interessant is maar die kwilt baie besig maak en nie noodwendig bydra tot die voorkoms nie. Die volgende kwilt vir Stefnic wil ek vereenvoudig en meer van die Checkerboard blokke gebruik en minder Slangetjies en leertjies. Pleks dat ek dit eers in my EQ7 program gaan probeer stik ek sommer die blokke. Die een geel is op en ek gebruik n ander geel materiaal. Aarde land, Liewe Heksie se gifappeltjies sal heerlik verdwaal in die kwilt!


Nee dit sal nie deug nie! Ek sal die blou materiaal behou (Gelukkig het ek baie daarvan) en dit met iets groen kombineer- of dalk n ligblou?



Ek dink ek kies die groen- dit pas beter by die materiale wat ek reeds in die kwilt gebruik het. Hopelik kan ek vandag ook die raam omsit. My naaldwerkkamer is n oond, my lugversorger kom hopelik Maandag maar tot dan moet ek maar so swetende werk as ek iets gedoen wil kry.

Hopelik werk jy gemakliker-  dan het jy nie n verskoning nie?Het jy al begin aan jou eerste kwilt vir die jaar?

Marié



No comments:

Post a Comment