'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Wednesday, May 13, 2020

'n Ongeluk en daarna

Ek kan nie op my blog skryf en 'n deel van my lewe net weg laat nie. Die blog is eintlik 'n dagboek vir myself. Almal wat nou in geperk is en nie deel van die noodsaaklike werkmag uit maak nie, sal goed verstaan as ek my tyd na die ongeluk ook as 'n inperking beskou.

Op 4 Februarie het ek oor die pad voor my huis gestap soos ek elke dag meer as een keer doen. My kar was gepak reg om plaas toe te ry, tot die katjies was in die kar. Ek het die groot Fortuner/of bakkie in die systraat gesien, maar aangesien ek 10 m weg was en die kar doodstil gestaan het, het ek geweet ek kan dit nog veilig oor die pad maak.

Die volgende oomblik het skreeuende bande my aandag getrek en toe ek na regs kyk storm die motor teen 'n hoë spoed op my af. Ek gil: "Waarom wil jy my dood maak, ek het niks verkeerd gedoen nie" en die volgende oomblik tref die motor my teen my knie, vergruis dit en laat my in die rondte tol. Ek beland op my arm, breek my bo-arm en dislokeer dit, breek die twee voorarm bene en sny my duim tendon af, wat ek eers 4 weke later uitvind.

Op daardie stadium is ek nie bewus van die erns van my beserings nie en is net gefokus op die 8 myle wat ek beplan het om weer die volgende naweek by Midmar Dam te swem. My bure is dadelik by. Fanie bel eers die dokters van Melkbos en probeer dan die nooddienste. Ek dink nog as ek so bietjie sit sal ek kan opstaan, maar toe ek die meter uit die pad na die sypaadjie skuif besef ek dat die seer nie sommer gaan weg gaan nie. 'n Verbyganger beveel ys aan en my buurvrou Elsa bring dit- wat geweldig baie help.

Intussen kry Fanie die brandweer in die hande, Elsa verlos die katjies uit die kar en ek laat my suster weet dat ons Midmar naweek letterlik in die wiele gery is. Die brandweer se personeel is net gereed om spalke aan te sit toe die nooddienste opdaag. Hulle neem my bloeddruk en spuit eers morfien vir die pyn. (Dit help ongelukkig nie tot eers 3 uur later toe dit my laat slaap.)

Ek word na Netcare Blaauwberg Hospitaal geneem en Dr Gerrieda Herbst, 'n susterskind en spesialis by die hospitaal oorsien die uitslag van die plate en verwys my na die beste arm en knie spesialis en maak ook seker dat 'n internis Dr Kim Barnard na my kyk. (Daar is ook 'n ribbesering met effense long defek wat hulle laat besluit om my in ICU op te neem.)

My arm word drie dae later deur Dr Mackerdhuj opereer, die hand en voorarm is in 'n spalk. Die swelsel in my been moet eers sak waarna dr Van Bornman die operasie 'n week na die ongeluk kan uitvoer. Ek is vir 2 weke "ingeperk" in 'n bed en is vir elke ding afhanklik van die personeel en my besoekers. Tot my selfoon kan ek nie gelaai kry as iemand my nie help nie.

Ek probeer in die hospitaal my geliefde handlaswerk doen. Dit is pynlik en so 'n groot gesukkel dat ek dit vir eers laat vaar. Ek is afhanklik van pyn medikasie wat my konsentrasie vlak beperk en my ook baie laat slaap. Na twee weke kan ek na Nurture Cape View gaan om my rehabilitasie verder te voer. Ek leer om van die bed na die rolstoel na die toilet te verplaas en dit is vir my 'n reuse vooruitgang. Bietjie onafhanklikheid waar dit regtig saak maak!

Ek werk bietjie aan elemente van my "crosses" kwilt. Dit is 'n moeilike en tydsame proses, maar ek kry darem iets uit gerig.

Hier kry ek daagliks fisioterapie en die arbeidsterapeut maak seker dat ek leer om met een hand klere oor my kop te trek en in die badkamer, met hulp, myself te was. Ek ontdek ook dat my duim nie agteroor kan buig nie en dit lei tot 'n verdere operasie . Gelukkig net een dag in en uit die hospitaal. My duim is in 'n spalk wat handlaswerk verder onmoontlik maak.
So lekker om na 2 weke se skeiding weer my kleinkinders te sien
Na twee weke kom my sussie Carla my van die hospitaal omgewing verlos. Ek word baie by haar bederf. Elke oggend word ek gestort, kos word aan gedra en ek het geen huis take nie. Sy is 'n fisioterapeut en oefen is elke dag op die program. Marijke. Pat en Marelize kom verras my met 'n kwilt wat 'n klomp Laslapvriendinne vir my gemaak het en wat Irene Voster gekwilt het.



Middel Maart kan ek begin om te staan en met 'n kruk vir kort endjies te beweeg. Ek mag slegs 50 % gewig op die regterbeen dra. Ek sien wel die naweek op Melkbos dat ek met die masjien kan stik!

Toe die inperking af gekondig word, word my tyd by Carla en Gert kort geknip. Alhoewel 'n week se Fisioterapie nog goed sou wees, wil ek nie nog 3 weke daar bly nie.

Ek kom plaas toe waar die werklikheid om sonder hulp klaar te kom, my inwag. Soggens gaan Stephanus boer. Ek kan net was by die wasbak, moet alleen aantrek en self ontbyt maak. Ons mag op die plaas rond beweeg en ek gaan my dogter help met haar kinders, maar is in die begin maar eintlik 'n nul op die kontrak. Saans braai Stephanus en ek maak met 'n groot gesukkel slaai want die linkerhand kan nie lekker sny nie en my regterhand is in die spalk. (Vir meeste take is jou duim noodsaaklik so alhoewel my ander vingers oop is, is daar min wat ek met die hand kan doen.)

Ek kan nou wel laswerk doen met die masjien. Die rolsnyer wat op 'n liniaal monteer is, wat ek wou gebruik sny treurig en my linkerhand moet vinnig leer om hierdie werk oor te neem. Dit gaan maar met 'n gesukkel en onakkuraatheid gepaard. Ek neem deel aan Edyta Sitar se "Lock Down Mystery," alhoewel ek eintlik 'n klomp halfklaar goed ingepak het om aan te werk.

Sy het die heeltyd in haar instruksies gesê dat mens dit nie aan mekaar moet werk nie. Ek het toe gedink dat sy dalk op die ou einde 'n ander uitleg sou doen en het die blokke in EQ geteken en met verskillende uitlegte gespeel.

Uiteindelik het ek dit op hierdie weergawe aan mekaar gewerk.

Ek voltooi ook nog 'n kwilt deur Edyta Sitar ontwerp, Sew in Love. Ek het reeds 37 van die 49 blokke gemaak en in 5 seksies vas gestik. Ek wyk van haar patroon af. Ek sien 'n baie mooi blok, My Favourite star, wat vir my meer soos 'n blom lyk en maak 8 daarvan.


Ek maak ook 4 hart blokke om by die tema te pas.   Ek voltooi die kwilt met twee foute! As ek die twee blokke in hul regte oriëntasie gestik het, sal ek 'n geskikte raam beplan- ek het so 'n idee of twee!

My hand kan aan die einde van April uit die spalk kom en dit is duidelik dat ek Arbeids en Fisioterapie vir my hand en arm dringend benodig. Ek kan nou self bestuur en moet Melkbos toe om die nodige terapie te kry. Dit is so jammer dat ek nie in die water kan kom in die inperkings tyd nie, dit sou baie help om my rehabilitasie te versnel.

Ek is dankbaar dat ek nou weer handwerk kan doen. Toe ek nie kon nie, het ek gehekel. As mens eers gewoond is om met handwerk besig te wees, kan jy nie net sit nie!

Alles wat mooi is en kyk goed voor julle oor die pad loop!

Marié






  

No comments:

Post a Comment