'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Sunday, November 7, 2021

Nog Mosaiëk

 Die afgelope twee maande het ek aan die buiterand eenhede spandeer. Eers het ek net op die 4 hoeke gekonsentreer, toe het ek die 4 blokke van die bo en onder sy gedoen en daarna die 4 blokke aan die sye.

'n Sykant eenheid met die volgende stap.

Ek het nie genoeg van die helderblou gehad nie maar gelukkig 'n baie soortgelyke materiaal, wat ek toe by die sykante gebruik het. My volgende stap was om die klein "Grandmothers Flower" agtergrond eenhede voor te berei en in die korrekte oriëntasies in te las. Ek het besef om groot stukke agtergrond heksagone wat almal dieselfde is aan mekaar te las, sou vir my net te siel dodend wees. 



Op my skets in EQ8 kon ek mooi sien waar ek met die agtergrond kon speel. Ek het baie gesukkel om die regte liggroen materiaal in my lap versameling te vind. Alhoewel dit radikaal in voorkoms van die agtergrond materiaal verskil vorm dit nie 'n kontras met die agtergrond nie en sal mens na aan die kwilt moet wees om die rosette van die agtergrond te onderskei.

Die voorbereide hoek met die agtergrond lappies asook die groen en donker rand.
Die lappie in die middel van die rosette het al die kleure wat in die kwilt is daarin maar omdat dit ook op 'n ligte agtergrond is, is dit net 'n spatsel kleur in die agtergrond.

Die vierhoeke is voltooi met die groen en donker rand om. Die buiterand moet nog gemaak word. Die eenhede daarvoor is al gemaak. Ek het nou begin om die bo en onder rand te maak.

Net die rand gedeelte

Die rosette in gespeld

My agtergrond materiaal wat wit met 'n vuilgroen drukwerk daarop is, is baie min. Ek kan nie iets anders in die middel van die kwilt gebruik nie- dit gaan nie reg lyk nie, maar ek kan die groter gedeeltes in die buiterand met halwe GMFG in vul in die ligte groen materiaal. Dit is altyd voordelig om in eenhede te werk. Dit kan mens gemaklik in geselskap sit en doen. Ek tel gewoonlik hoeveel ek benodig en maak dan daardie hoeveelheid. 

Vir die rand het ek het eers 'n sak vol donker heksagone 2-2 aan mekaar gewerk, so ook met die groen en die agtergrond. Dit kon ek ook in geselskap doen of waar ek gemaklik op die bank gesit het.

Toe ek die donker rand aan mekaar werk, was dit makliker om by 'n tafel te sit. Met die hoeke moes ek ook onthou om twee identiese eenhede en twee spieëlbeelde te maak. Ek het een hoek gemaak en dit toe as "patroon" gebruik om die ander hoeke te maak. Die spieëlbeelde het ek onderste bo gemaak. Ek kon maklik die groot eenhede op die tafel uitsprei om dit as gids vir die ander eenhede te gebruik. Die lappies wat 2-2 aan mekaar gewerk was, het die laswerk by die tafel bespoedig. Dit was maklik om hierdie eenhede net in die regte oriëntasie te draai en vas te werk om die rand wat in verskillende rigtings krul te maak.

Ek maak die buiterand se agtergrond ook net 'n bietjie interessanter om te las

Gisteraand moes ek eers hierdie GHFG maak,want ek het nie genoeg vir die rand gehad nie. Vir my is dit soos saad saai. Die klein eenhede lyk na niks maar dan is dit gereed om in die groter geheel in te gaan en is die laaste stap eintlik gou. Mens doen 'n groot klomp voorbereidings werk wat eintlik na niks lyk nie en dan ewe skielik het jy hierdie wonderlike resultaat as 'n maand se werk op een dag by mekaar kom. 'n Ander voordeel is dat mens die eenhede kan pars en seker maak die nate is mooi plat. As die groter eenhede gevorm word is dit nie so moeilik om die nate mooi plat te pars nie, want die helfte is reeds gepars.

My doelwit is om teen Kersfees die kwilt klaar te hê. Dit sal die gouste wees wat ek al 'n handlas projek voltooi het. (Ek werk terselftertyd aan twee ander handprojekte ook, net vir afwisseling om dinge interessant te hou en te verseker dat ek nie iets nuuts bedink nie!)

Alles wat mooi is,

Marié

No comments:

Post a Comment