'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.
Wys tans plasings met die etiket Millefiori. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Millefiori. Wys alle plasings

Vrydag 29 Mei 2020

Kaleidoskoop in Materiaal

My Oupa het 'n koperkleurige Kaleidoskoop gehad. As klein dogtertjie was dit vir my 'n absolute magiese apparaat. Ek kon regtig vir lank daarmee sit en dit draai en draai. Ek weet nou nog hoe teleurgesteld ek was as die kaleidoskoop 'n patroon in net een of twee kleure vertoon het. Ek het aan hou draai tot ek by die multi kleur patrone gekom het en hulle dan een vir een bewonder. Dit is seker waar my liefde vir kleur vandaan kom. Dit is daar dat ek gesien het jy kan nie te veel kleure in een ontwerp hê nie en hoe meer kleure hoe mooier!

Ek speel al lankal met Kaleidoskoop effekte in my 8 puntsterre en het al 'n paar kwilts uit Sarah Nephew se boeke waar heksagoon ontwerpe  gebruik word, gemaak. One -block Wonders van Maxine Rosenthal het my nooit gemotiveer om een te maak nie- die feit dat ek nie self kon kleure byvoeg nie en moes werk met wat die een materiaal my gee, het dit nie uitdagend genoeg gemaak nie. Ek kon wel in haar boek en ook in Bethany Reynolds se boeke "Stack-n-Wack" leer hoe om vinnig en maklik my Kaleidoskoop pante uit te sny.

Ek het nie 'n Afrikaanse benaming vir "Fussy cut" nie. Dit is waar mense 'n spesifieke element uitsoek in die materiaal en dit uitsny. Dan soek jy verder na 'n identiese element en sny dit ook presies so uit, tot jy 5 of 6 van dieselfde het- soos jou patroon vereis. Nou is jou lap vol gate. As jy 'n tweede element soek word jy beperk deur jou vorige snitte. As die tweede element nie genoeg materiaal om dit het nie, omdat dit in die eerste rondte te naby daaraan gekom het, moet jy dit laat vaar. Op die ou einde sit jy met 'n baie stadige proses en 'n groot vermorsing van materiaal.



Geskikte materiale vir Kaleidoskoop patrone

STAPEL, SOEK EN SNY

Die proses kan bespoedig word deur identiese lae materiaal op mekaar te STAPEL. Die patroon wat op die materiaal gedruk word word meestal elke 60 cm herhaal maar soms ook elke 30 cm. Om 6 herhalings te kry benodig jy dus 1,8m- 3,6 m afhangende van hoe groot 'n enkele deel is. Die patroon word ook  oor die breedte herhaal daar is soms klein verskille en dit is ook nie reg langsaan nie maar 'n bietjie op geskuif. Deur daardie herhalings ook te gebruik kan mens  wegkom met net 1,8 meter. (Die presises lengte word deur die hoogte van die herhaling bepaal.)

Vir 'n groot projek waar jy baie van die materiaal in 'n kaleidoskoop gaan gebruik benodig jy 3,6m. (Vir my LaPasagaclia  (Willyne Hammerstein se Millefiori boek) het ek die kaleidoskoop in verskeie aspekte van die sirkel ontwerpe gebruik en het die hele stuk op gebruik en moes nog by koop)

Materiaal waar die patroon dig op mekaar is, kan amper teen mekaar uit gesny word. As die patroon yler is moet jy ideale gedeeltes soek. Dan verloor jy baie materiaal. Om in die soektog te help het jy twee goed nodig.

As jy 'n vensterpatroonplaat maak, kan jy dit oor die materiaal skuif om moontlike gedeeltes van die materiaal te identifiseer.
Met twee spieeltjies wat aan die eenkant vas is en soos 'n boek kan oopvou kan jy sien of 'n gedeelte van die patroon vir jou 'n mooi kaleidoskoop effek gaan gee. Dit werk goed met simmetriese motiewe- andersinds gee dit vir jou 'n spieëlbeeld wat ook help, maar nie die ware voorkoms vertoon nie.

Twee spieëls gee 'n aanduiding of 'n mooi effek verkry sal word.
Die elemente wat ek gebruik is dikwels nie staties nie. Ek sal 'n groot blom opsny in drie pante om verskillende effekte te lewer. Ek hou van die verassing as mens die pante afpak en die ontwerp voor jou verskein- net soos met my Oupa se kaleidoskoop.

Daar is so baie plekke waar mens 'n Kaleidoskoop in jou Laslapwerk kan gebruik. Willyne Hammerstein het al haar 4 de Millefiori boek uit gegee en oral gebruik sy die Kaleidoskoop effek.Nou vir die soektog na die regte materiaal.

Die groot lekkerte van so 'n materiaal in jou projek is dat dit die blokke of elemente saam bind. Dit gee ook vir jou die  kleurpalet waarin jy kan werk en mens soek dan net ligter en donkerder skakerings van die kleure in die kaleidoskoop lap om in die projek te gebruik. Jou kwilt vorm outomaties 'n samehorige geheel.

Wil jy deelneem aan die Corona Ster projek waar ons ook hierdie Kaleidoskoop effek gaan gebruik? Sluit aan bydie Corona Ster Facebook groep:
https://www.facebook.com/groups/244744929929209/

Alles wat mooi is en Kaleidoskope in het vir jou,
Marié

Woensdag 06 Januarie 2016

'n Nuwe Jaar en nuwe Planne

Hier by ons is n gesegde: Jou planne moet net nie op raak nie. Ek probeer dit nou gestand doen met n plan vir die nuwe jaar. Ek het baie projekte waaraan ek wil werk en baie half klaar projekte waaraan ek moét werk. Ek word egter gepootjie met te min lus en energie en nou ook die warmte en' n lugversorger in my naaldwerkkamer wat nie wil werk nie.

My blog is vir 3 jaar lank verwaarloos. Gelukkig het dit nog nie in die kuber ruimte verdwyn nie. Ek sal nou my blog gebruik om my verantwoordbaar te hou. Ek voel altyd ek kan nie blog as ek nie foto's het nie. Met my iphone is dit maklik om die fotos op die rekenaar te kry en met die probleem oor kom, kan ek sekerlik nie meer dit as verskoning gebruik nie. (Het nou eers weer gesukkel- maar hopelik weet ek nou hoe.)

Ek het besluit om net maandeliks planne vir die maand te maak. So my plan vir die maand is:

1.Werk aan die kwilt op die raam. Die laslapwerk is al seker in 2009 voltooi, maar dit word nou eers gekwilt. Ek het n dik wol watteersel wat ek vanaf Sneeuberg bestel het. (Hulle maak nou toe so help bie ek gee die link nie.) Dit word eintlik in motor stoffering gebruik. Dit sal baie moeilik wees om dit te kwilt as dit nie op die raam is nie aangesien die vreeslike pofferigheid veroorsaak dat die lae skuif en mens dan plooie in kwilt.

Op die raam dra die dik watteersel daartoe by dat die ruimte om te kwilt al hoe kleiner word. Ek het dus net die eerste twee rye blokke gekwilt en toe dit net af gerol om in die naatjies (ditch) te kwilt om die lae op mekaar te anker. Nou moet dit omgedraai word om die anderkant te kwilt en dan sal ek dit ook afhaal en draai om elke sy bo te kry en te kwilt.

Wat is die ander haak plekke? Die Bernina 830 gee n groter ruimte om te kwilt maar is nie gelukkig met die vorentoe en agtertoe bewegings wat ek van haar vereis om die vere te kwilt nie. As ek weer sien is die spanning uit of die garing breek of die garing maak n knop aan die onderkant. Die masjien is pas gediens, ek sit nuwe en ander soortige naalde in, gebruik al die garings wat ek het maar ek kry steeds probleme. Sulke tye is dit maar op my tande byt en beplan aan die langarm masjien wat ek graag wil koop.

2. My tweede projek vir Januarie is my handlas projek- "Millefiori soos ek wil" wat ek met Willyne Hammerstein se patroon La Pasagaclia aanpak. Hierdie projek sal my n paar maande besig hou. Ek werk saans daaraan maar moet werklik n punt maak om elke aand te werk anders sal dit nie klaar kom nie. My handlasprojek van verlede jaar is ook nog in dele omdat ek nie voldoende tyd daaraan spandeer het nie.



Dis so lekker om die kaleidoskoop effek te sien.


3. Ek moet n ster blokkie maak vir ons Boland gilde se "sew a Row" projek. Die inligting sal ek sommer op my blog sit sodat lede daarna kan kom kyk.

4. Dan moet ek ook voorberei vir die klas wat ek gee om die "Dear Jane" kwilt te maak.

5. Ek het materiaal gekoop om Katja se New Heksagon projek aan te pak. Ek het deur mekaar geraak daar in Quilttalk en net 5 herhalings gekoop ipv 6 soos ek vir hierdie projek benodig. Ek het begin met die projek maar is nie tevrede met die algemene voorkoms nie. Ek sal maar verder soek vir die regte materiaal en dan weer oor begin.



6. Hierdie kwilt is n Patroon wat ek op Craftsy gekoop het. Rita het my gehelp om die blomme in die middel te rangskik. Nou moet ek die raam vasstik en dan weer haar hulp kry om blomme op die raam te rangskik.
Blomme is darem net altyd mooi.


7. My laaste projek vir Januarie is n kinder kwilt vir Siegfried, my oorlede broer se 3 jarige seuntjie. Ek wil sommer ook n klas hier in Riebeek aanbied vir 'n kinder kwilt en die patroon bied lekker geleentheid om basiese dinge in laslapwerk te leer. Hier is my EQ voorstelling van wat ek beplan.
Beplande kinder kwilt
Nou ja as ek by al hierdie kwilts uitkom kan ek myself sekerlik op die skouer klop. Ons sal sien hoe ek vaar.

Is jou planne vir die nuwe jaar al reg?

Marié