'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Donderdag 21 Oktober 2021

Mosaiëk Groei

Ek het die afgelope maande regtig lekker aan my Mosaiêk kwilt gewerk. Ek het nie gedink dat die 2 cm 6-kantige patroontjie my aandag so sou hou nie. Ek het regtig gedink dit sou maar 'n vervelige projek wees. Toe nou nie! Hierdie kwilt is deur twee Mosaiëk vloerteel ontwerpe geinspireer- sien my vorige blog. Dit lyk wel heel anders, maar ek is tevrede met die rigting wat die kwilt self aan geneem het.

Middel met ligblou heksagone wat nog kort. (onder om)
Ek het toe nie 'n alternatiewe blou gebruik nie maar die openinge gelos in die hoop dat ek die ligblou Grunge sou vind. Verlede week by Fabric Contessa was my geluk daar toe ek dit in die "oorskiet" stukkies mandjie kry- in 'n netjiese rolletjie gedraai. Die Grunge materiaal is baie uniek. Dit is 'n effe kleur maar met verfkwas hale van ander kleure soos lig groen en wit daarop. Dit is eintlik 'n wonderlike agtergrond materiaal .
Grunge in die voorgrond en enigste alternatief daaragter

'n Pers Grunge vir die wat nie weet hoe "Grunge" materiaal lyk nie- Die foto wys beter as die ligblou.

Ek werk nog steed die kwilt in seksies en werk dit dan aan mekaar vas.

Die middelste gedeelte is vas gewerk met losstaande eenhede buite om.

Die buite groot blokke het nie klein heksagone in die middel nie maar een stuk materiaal. 


Ek is gelukkig om buiten die randpatroon materiaal wat ek vir die kleiner heksagone gebruik het, ook 'n bypassende materiaal te h♠ (nie vir die projek gekoop nie, maar aangekoop omdat dit vir my mooi was)



Waneer ek die kleiner heksagone maak werk ek dit in 3 rye en dan die rye aan mekaar. Die groen rande werk ek in 'n sirkel vas (eers 2-2) en werk dan die sirkel aan die middelste 7 heksagone. Dit was 'n goeie rond dra projek die afgelope paar maande. Die "verrassings" wat elke sirkel opgelewer het, het my aangespoor om hard hier aan te werk.





Ek hoop jy het ook 'n projek waaraan jy lekker werk en wat jou inspireer!

Alles wat mooi is
Marié

Sondag 11 Julie 2021

'n Vloer Inspireer

Pinterest is 'n baie lekker plek vir my! Ongelukkig kry ek daar so baie idees wat ek nooit sal kan gebruik nie- tyd is mos darem 'n faktor, al probeer ek dit omseil. Ek het hierdie Mosaiëk vloer in Pinterest gesien en dit in my EQ program begin ontwerp.
Ek het 'n ander vloer voorbeeld gebruik om die rand te ontwerp.
My ontwerp is deur baie verskillende fases en die uiteindelike ontwerp lyk nou glad nie meer soos die oorspronklikes nie.
As verjaarsdag geskenk vir myself- gee ek my verlof om die kwilt te begin. (Ek moet maar gereeld onderhandel as ek 'n nuwe kwilt wil begin.) So ek begin die kwilt op 12 Junie- die naweek na my verjaarsdag, en kan dit nie neer sit nie. Die middel is amper voltooi, die verkillende dele moet net aan mekaar gewerk word. Ek werk nie volgens die English Paper Piecing metode waar die heksagone oor papiertjies getrek word nie. Ek werk'n gewone naatjie en "running stitch" soos ek al my hand laswerk doen. Aangesien ek al so lank laslapwerk doen en 'n goeie aanvoeling vir die naat toelating het, skat ek die naatjie en begin en eindpunte. Dit spaar baie tyd, want ek hoef niks te merk nie. Aangesien heksagone in 6 rigtings kan uit dy, is dit baie vergewensgesind. Ek sny die heksagone van stroke wat ek op mekaar stapel. Ek sny eers 60 grade diamante en dan sny ek die twee punte af met my Perspex Heksagoon patroonplaat
My aanvanklike idee was om die vloer in bruin materiale te interpeteer. Na ek die materiaal begin sny het wat ek in gedagte gehad het, het ek besluit dit sou te vervelig wees. Ek is op die plaas en het nie my hele materiaal versameling hier nie. Gelukkig kry ek 'n materiaal waarop randpatrone gedruk is en ek het baie moontlikhede. My planne verander onmiddelik!

Ek begin in die middel. Ek werk aan eenhede en stel dit dan saam.


Aangesien ek net begin het, het ek nie seker gemaak dat ek genoeg materiaal het nie. Veral die agtergrond ligte blou in die middel raak min. Dit is 'n Grunge materiaal en ek kan nie nog van die ligte blou kry nie. Ek kort so 10 heksagone en sal dit nou maar van 'n ander ligte blou materiaal sny.

Ek raak darem bewus dat ek groot stukke materiaal gaan nodig kry en gaan doen bietjie inkopies spesifiek vir die projek. Nou sal ek darem nie weer te min hê van die "hoof" materiale nie.

Ek voltooi heelwat elemente vir die middel en moet dit nog net vaswerk.



COVID keer my op die plaas vas (My seun raak siek en ons moet isoleer). Ek het die middelste gedeelte by die see gelos en kan nie verder hieraan werk nie. Ek gaan nou voort om aan die heksagone wat buite om kom te werk. Ek hou daarvan as die kwilt so groei. Eers is daar niks en dan as jy die elemente byvoeg het jy ewe skielik 'n kwilt.

Oor 2 weke sal ek die voltooide middel kan wys.

Alles at mooi is.
Marié













Dinsdag 03 November 2020

Windmeul Kwilt

Gereelde lesers van my blog weet al dat ek meer projekte begin as wat ek klaar maak. Op die oomblik het ek ook 'n hele paar handwerk projekte. Een daarvan is my Windmeul kwilt. Ek het nog nie daaroor geskryf nie en dit is nou amper klaar. Ek is nou al 'n jaar en 2 maande daarmee besig.

Ek het dit verlede jaar in Augustus begin voor ons na die Nasionale Kwiltfees in Johannesburg is. Net voor die fees besef ek dat my ander handprojek nie genoeg handwerk sou lewer vir die 10 dae wat ons weg is nie. Nie voordat ek weer sou moes merk en sny nie. Goed wat ek makliker in my naaldwerkkamer sou kon doen.

Dit was dus 'n maklike besluit om stroke te sny vir 'n nuwe projek en al die ligte stroke te merk. Dit is dan gekombineer met medium en donker stroke. Ek kon baie van hierdie stroke waarop driehoeke getrek was aan mekaar vas werk met my Las-Eers-sny-dan metode terwyl ons gery het. Saans as ons in die koffiekamer saam kuier het ek verder gewerk en as ek nie klasse gehad het of na die uitstallings gekyk het nie, het ek hieraan gewerk. So het ek baie fees herinneringe in die kwilt vas gewerk.

Ek het genoeg stroke saam geneem dat ek eers by die huis weer die merk en los sny werk gedoen het en die eenhede aan mekaar begin las het. Direhoek eenhede bied altyd 'n uitdaging as dit aan mekaar gewerk word. Daar is oral skerp puntjies wat moet skerp wees. As dit in 'n Windmeul gerangskik word, kom daar 8 puntjies by mekaar wat almal mooi skerp moet wees.





Toe ek so halfpad met die projek was, het ek 'n baie goeie plan gekry. Ek is nou al vir 3 jaar besig om te probeer mediteer en vind dit baie moeilik. Ek behoort aan 'n Facebook groep "Stitch Meditation" waar die mense die mooiste goed sonder enige beplanning werk- hoofsaaklik borduurwerk. Ek het al baie gedink hoe ek dit in my kreatiewe werk kan inkorporeer. Die besef het by my pos gevat dat ek hierdie laslapwerk van my met konsentrasie en gedagtes slegs gefokus op dit waarmee ek besig is, kan doen. Dit het die kwaliteit van my laswerk onmiddelik baie verbeter en ek het ook nuwe tegnieke (vir my) ontwikkel om die laswerk nog meer akkuraat te maak. Ek pluk ook die vrugte in my lewe van hierdie meditasie praktyk.

Pinterest

Die projek het ek die eerste keer in Pinterest gesien en dit is eintlik 'n miniatuur projek. Die patroon daarvoor is ook hier te kry. Ek het besluit om met dieselfde soort materiale te werk, drukstowwe met klein motiewe sodat die kleurwaarde nie versteur word nie. In 'n paar gevalle het ek wel ander materiale gebruik omdat ek nie nog van die soort materiaal gehad het nie- wat ook interessantheid aan die finale produk verleen.

Ek het 4 cm en 8 cm perspex driehoeke laat maak wat die merk van die eenhede baie vergemaklik het. Karton patroonplate raak pap van die potlood lyne wat so baie daarom getrek word en moet vervang word. Ek het stroke van 13,5 cm gesny en kon 4 blokke uit elke strook merk. Daar was 'n paar gevalle waar ek net drie blokke en 'n paar eenhede kon uit kry (party materiale is net smaller) en hierdie eenhede het ek in die rand gebruik.

Toe ek 50 blokke gemaak het, besef ek my kwilt het te veel blou in en te min groen, mostert en dowwe oranje. Ek het 120 blokke vir die kwilt nodig gehad en kon toe dadelik nog materiale kies om hierdie kleure aan te vul. 





Saterdag 04 Julie 2020

Corona Ster- 'n Tutoriaal

Hierdie blok (Rose star wat ons na Corona Ster herdoop het) is 'n lekker uitdaging. Nie net omdat die handwerk heelwat Y some het nie maar ook omdat die kleur en materiaal kombinasies verskillende effekte kan oplewer. As mens 'n groot kwilt maak hoef al die blokke nie dieselfde te lyk nie en maak dit nie saak as die blok nie uit gekom het soos jy gedink het dit sou nie. Tog help dit om van die lyn tekening (beskikbaar in die Facebook groep- Corona Ster) in te kleur met lig, medium en donker gedeeltes om jou 'n idee te gee hoe dit kan lyk. Soek ook op Pinterest na ander mense se voorbeelde.

Ek sal enige een aanraai om eers net een blok te maak. Dan verstaan mens die blok mooi en kry jy een effek. As jy besluit dat dit nie vir jou 'n lekker projek is nie, kan jy die blok op 'n sak vaswerk en so jou kuns adverteer waar jy jou sak ronddra.

Ek gaan verduidelik hoe ek dit doen en met foto's demonstreer. Ek sal ook 'n video op You Tube laai.. Ek bou my blok rondom 'n kaleidoskoop materiaal. Hierdie materiaal gebruik ek vir die 6 middelste pantjies. Ek gebruik ook die kleure in die materiaal om oor die ander materiale in my projek te besluit. My kaleidoskoop materiaal het dowwe kleure met vuil pink blomme daarin en olyfgroen takkies. Ek het ook bloue en gele in my lap versameling ingesluit.

Werkswyse
1. Ek begin met die laswerk van die 6 middelste vlieërs wat in 'n stapel van 6 identiese eenhede uitgesny is.


2. As jy pante merk hoef jy vir eers net twee pante te merk. Plaas 'n gemerkte pant op 'n ongemerkte pant.
3.Werk net op die naat lyntjie en nie in die naattoelating nie. Begin aan die buitekant met 'n dubbelsteek. Tel 3-4 stekies  op die naald trek dit deur, maak 'n agterstekie en tel weer 3-4 stekies op die naald.

4.Werk tot by die skerp punt- weer eens nie in die naat toelating nie en eindig met 'n dubbel steek. neem die naald na die agtertse pantjie.
5. Plaas die derde pantjie agter die gemerkte pant. Bring die naald vanaf die agterte pant na die nuwe pant en maak 'n stekie sodat die naald op die lyntjie van die gemerkte pant uitkom.
6. Die gemerkte pant is in die middel maar die twee buitenste pante is verbind. Dit verhoed dat daar 'n klein gaatjie reg in die middel ontstaan.
7. Werk  op die lyntjie op dieselfde wyse om die derde pant vas te werk. Eindig met 'n dubbel steek en werk so 3 stekies terug in die naat toelating.
8. Die patroonplaat word nou op die ongemerkte pante geplaas. Die lyntjie op die patroonplaat moet op die stekies wees. Merk dan die ander sye- eers deur die gleuwe en dan trek jy die patroonplaat af en verbind die merkies op die lap.
9. Herhaal die proses vir die ander drie pante. Jy het nou twee helftes. Speld die buiterand en die middel vas. Maak baie seker dat die middel speldjie presies op die plek is waar die drie pantjies by mekaar kom aan beide helftes.
10.Werk nou met stekies weer van buite na die middel. Maak seker dat steke op die voorste en agterste lyntjie is, deur die werk oor te vou nadat die naald ingesteek is. Eers as jy seker is dat die 3-4 stekies ook op die agterste lyn is trek jy die naald deur.
11. Maak 'n dubbelstekie in die middel maak seker dat dit die laaste steek aan die voor en agterkant is en trek dit goed styf.
12. Steek die naald deur die voorste pant, skuins na die agterste pant van die ander helfte. Bring dit na voor met 'n stekie na die ongewerkte lappie, maak 'n dubbel steek en trek styf. Nou is die middel goed geanker en presies by mekaar. Volg op met 3-4 stekies op die naald en maak seker dit is ook op die agtertse potlood lyntjie. Eindig met 'n dubbel steek en so 3 stekies terug gewerk in die naattoelating.
13. Die nate kan met die vingers plat gedruk word in een rigting of  versigtig gepars word sonder om dit te verrek.

Die middel is voltooi! Dit is so lekker om die verskillende kaleidoskoop effekte te sien. Heelwat gaan in die naattoelting verlore so dit lyk altyd anders as wat jy verwag het. Ek maak sommer 'n hele klomp hiervan net om lekker verras te word met die verskeidenheid van patrone wat hier ontstaan.

Ek hou daarvan as 'n ligte materiaal ook in die blok is en nie net buite om nie. Die "ring" wat om die middel pantjies gaan maak ek dan van 'n ligte materiaal. Party van myne het ek ook met 'n ligblou of ligpienk gemaak maar die meeste met 'n room kleurige agtergrond met fyn patroontjies op.

Ek sny 'n strook materiaal van 7.5 cm. Ek werk met 'n 60mm rolsnyer en kan met gemak 6 lae materiaal sny. Aangesien ek van 'n verskeidenheid materiale in my kwilt hou, kies ek twee ander ligte materiale waarvan ek ook 'n 7,5 cm materiaal strook sny. (Of stapel die drie materiale- elk dubbel gevou selfkante op mekaar- maak die bokant gelyk en sny gelyktydig die 7,5 cm strook af.


Ek plaas die 1/3 de heksagoon patroonplaat op die strook en sny teen die patroonplaat met die rolsnyer om die pant uit te sny. Verskuif die stapel stroke versigtig as jy dit moet draai om makliker te sny. Draai die patroonplaat om en sny die volgende stel pante uit. Daar kom 18 pante uit een strook so met hierdie 3 stroke het jy vir  9 blokke die pante gesny.

In die video wys ek verder hoe die blok voltooi word.

Met 'n kwilt soos dié wat ek net wil maak beplan ek later hoeveel blokke ek sal maak. 'n Enkelbed grote kwilt word verkry met 32 blokke en 6 halwe blokke. Dit sal voor rame  130 cm X 165 cm wees. Met 44 blokke en 8 halwe blokke in 'n rangskikking van 6 blokke in 'n ry sal 156 cm X 180 wees as jy dit meer vierkantig wil maak en 7 blokke in 'n ry sit sal dit 182 x 180 wees en 52 blokke en 8 halwes benodig.

Die blokke word nie voltooi met 1/3 heksagoon op die buiterand nie. Daar word 2 volle ligte heksagone aan elke blok gewerk. Die blokke pas dan soos 'n legkaart in mekaar, bietjie materiaal (wat andersinds in naattoelatings verlore sou gaan) word gespaar en heelwat werk met onnodige nate word gespaar. Aan die einde sal mens wel die blokke op die buiterand langs die sye en onder voltooi met die kleiner ligte pante.

Ek sal later ook ander maniere hoe die blokke gebruik kan word, wys. Begin eers met die middel gedeeltes, of maak eers net een blok.

Alles wat mooi is,
Marié