'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Sondag 20 Mei 2012

Leer aanlyn

'n Kwiltklas is altyd lekker. Mens leer iets nuuts of werk met nuwe materiale of tegnieke. Dit is altyd rede vir groot opwinding. Die groot lekkerte van kwiltklasse is die mense wat saam met mens in die klas is. Mens maak maklik nuwe vriende en deel baie pret. Ook verwonder ek my aan my klasmaats se kreatiwiteit en mens put dikwels ewe veel genot uit die "teacher" se klas voorbeelde as dit wat jou klasmaats optower.
Gemaak in 'n klas met Priscilla Bianci met Guetemala weefstowwe

Aanlyn klasse is weer anders. Ek het graag klasse deur Quilt University gedoen. Daar is 'n klas forum en leer mens mense vanoor die wereld dmv die forum ken. Die klas inhoud word op papier lesings weer gegee en behels dikwels take en "huiswerk" dit hang natuurlik van jouself af of jy dit doen en dan kan mens in die Galery sien wat almal wat aktief deel neem, doen.

Bargello kwilt gemaak in 'n Quilt University klas

Ek het heelwat klasse waarvan ek net die lesings uit gedruk het, maar die inligting is net so waardevol soos 'n boek en ek kan dit altyd weer bestudeer. Ek het ongelukkig al die kursusse wat my interesseer op die web tuiste gedoen en daar kom net so een of 2 nuwes 'n jaar by.

Nou het ek n nuwe "Kollege" ontdek. Dit is die webtuiste Craftsy. (Die naam het my eers afgesit want ek neem my kwiltwerk ernstig op- dit is defnitief nie 'n tydverdryf of verkleinwoordjie nie). Eers het die breiwerk my interesseer en ek is nou besig met my tweede paar sokkies.

Die groot lekkerte van die klaskamer is dat die klas altyd daar is. Waar Quilt University se klasse oor 4-6 weke strek en dan klaar is, het jy altyd toegang tot die Craftsy klaskamer waarvoor jy ingeskryf het. Party keer begin mens iets met entoesiasme maar dan gebeur die lewe en het jy nie tyd om met die klasse voort te gaan nie. Dan kan jy later wanneer jy weer tyd het, weer na die klas gaan sonder dat jy verdere betalings moet maak. Die klasse is ook goedkoop en wissel van $7- $29. Hier is die klasse in die vorm van video's. Dit forseer jou om te sit en die inligting in te neem. (En nie net die notas uit te druk nie) Dit is ook baie lekker om goed wat mens nie altyd uit die beskrywing verstaan nie, te kan sien.

Gaan loer bietjie daar rond en skryf in op hul nuusbriewe om inligting oor klasse te ontvang.

Alles wat mooi is,
Marié du Toit

Woensdag 02 Mei 2012

'n Lekker Stikdag

Vandag het ons Swartland kwilters 'n stikdag op Riebeek Kasteel gehad. Almal wat wou, het hul roos lappe gesny in die verskillende breedtes. Die wat die kwilt al gemaak het of nie hul swaar masjiene wou saambring nie, het hulle met handwerk of breiwerk besig gehou en saam die geselligheid belewe.
Rita- regs, se roos kwilt
Die roos kwilt is 'n baie lekker projek. Daar is niks skerp puntjies wat mooi hoef te pas nie. Mens knip groot blokke van mooi groot roos materiaal. Van kleiner drukstowe word smaller stroke gesny om Four- en Ninepatches te maak. Wag laat ek nou mooi Afrikaanse name bedink? Wat van Skaakmat (vir Checkerboard of four patch of Two Patch soos dit ook bekend is?)



                                                                    en Nege blokkies?

 Ag ek is nie goed met dit nie- wil julle nie help en voorstelle maak nie? (By die Boland gilde - nuut gestig 3 maande gelede het hulle die mooi naam "Oe en Aaaa" vir "Show en Tell" gekies, daar was ook voorstelle van "Haal uit en wys" en nog 'n paar goeies wat ek nie nou kan onthou nie)

Ons het ook twee ander blokkies gemaak waarvan een deur  Elmarie sommer die klaviertjie gedoop is.

                                         Die ander blokkie lyk so

Ons het dit alles met strook laswerk gedoen. Die seminole werk van ons eerste vergadering die jaar het baie gehelp dat almal die konsep van strookstelle, waarvan skywe af geknip word, goed verstaan het.

Ek het vandag weer besef hoe 'n belangrike rol stysel kan speel. Party mense het papperige materiaal wat met stysel baie makliker hanteerbaar sou wees, gehad of moes kleiner naattoelatings stik wat dan op gewip het en met stysel mooi sou plat lê.

Die stikdag is in die ACVV saal gehou en ons het die lekkerste sop gehad. Die pampoensop was soos poeding. Rita se lekker vars brood was ook 'n heerlikheid en daar om die brood tafel het ons eers botter se lof besing en idees uit geruil om botter met olyfolie smeerbaar te maak.

Almal is met 'n klompie voltooide blokke huis toe om daar oor die volgende weke die kwilt te gaan klaar maak. Kwilters is darem net ander kwilters se beste vriende. Ons deel nie net ons liefde vir lap en ontwerp nie maar ook mekaar se lief en leed. (Rita se hond het kleintjies gekry in haar awesigheid en aan die einde van die dag was daar 8- wie soek 'n Boerboel gekruis met 'n Great Dane-Bokser Pa ('n baie slim hond) se kleintjies?

Alles wat mooi is liewe kwilt vriendinne,Marié




Maandag 23 April 2012

Stysel op die Stikdag

Nou dat ek gereed is om te blog is my kamera net weg. Ek soek al 'n week lank daarna. Ek het foto's met my selfoon geneem en gehoop om dit na my rekenaar via die faks lyn te stuur maar dit wou nie werk nie. Wel die oplossing is om oor iets te praat wat nie foto's benodig nie.

Ons is nou die dag na Robertson vir die Langeberg gilde se stikdag. Wat 'n heerlike dag met 80 kwilters in die saal om saam te stik. Dit is tradisioneel ook hul poeding dag en vir die wat wou, was daar poedings te kus en te keur.

Ek het my stysel by die huis vergeet en moes eers 'n winkel soek. Ek  gebruik stoom as ek my materiaal stryk en my pante oop pars. As ek praat van oop pars, bedoel ek dat daar geen plooi of vou in die naat moet wees nie. (Ek pars wel my naattoelatings na een kant toe en nie soos by klere konstruksie waar mens elke naattoelating na sy eie pant terug vou nie.) 'n Plooi in die naat lei tot onakkuraatheid want die pante is nie die regte groote nie en daar waar mens die speld op die agterkant steek, is nie die werklike ontmoet punt as die naat nie behoorlik oop gepars is nie. Stoom en 'n goeie strykyster is die enigste manier om die pante in posisie te laat bly as mens dit gepars het,  dit fikseer die naat in die posisie.

Stoom kan baie maklik die pante uit proporsie rek en daarom is dit belangrik vir my om stysel te gebruik. Ek gebruik 1 teelepel Robin Starch poeier op 1 koppie water. Ek gooi dit in 'n goeie spuitbottel met 'n pomp. Die ander bottels raak verstop en kan nie 'n goeie fyn sproei maak nie. Skud dit goed en dit is gereed om te gebruik. In hierdie druk pomp bly dit langer vars, maar as dit soos ou brood begin ruik gooi ek dit weg en maak vars stysel aan.

Ek kon nie rou stysel te koop kry nie en het toe ten duurste die kannetjie stysel gekoop.( Ek gebruik te veel stysel om net dit te gebruik.) Stysel help ook om 'n stewiger oppervlakte te gee as mens kwilt so selfs al sny mens nie die materiaal op die skuinste nie, is dit steeds voordelig om dit te stysel. Ek stysel net die materiaal wat ek gebruik want stysel kan glo vismotte trek-  maak dus seker dat die kwilt in wording daarteen beskerm is en was die kwilt by voltooiing.

'n Ander voordeel van die gebruik van stysel en stoom is, as die materiaal goed nat gemaak word, krimp dit. As jy nie jou materiaal vooraf was nie- is hierdie stap nodig om dit te krimp. Dit is veral voordelig wanneer mens klaar geknipte stroke soos Jelly Rolls gebruik wat jy nie kan was nie.

Mens kan die stysel mengsel sterker of flouer aan maak. As jy met 'n baie pap materiaal werk kan jy meer stysel gebruik (2-3 teelepels op 'n koppie water). Wanneer mens stysel gebruik om die randjies van appliek in te vou en oor freezer paper te stryk, is 'n flouer stysel mengsel beter. Indien 'n puntjie op die rand gepars is waar mens 'n egalige ronding wil hê, is dit makliker om dit te herstel as 'n flouer stysel mengsel gebruik word.

Vir masjien appliek werk is stysel ook noodsaaklik om die materiaal te stabiliseer sodat die satynsteke dit nie uit proporsie trek nie. Dit verleen ook stabiliteit as mens sierstiksels op materiaal maak- 'n afskeur stabiliseerder is ook noodsaaklik, maar as jou materiaal self gestysel is, is die resultate net soveel netjiese. Ek stysel ook al my materiaal wat ek vir digitale borduurwerk op my masjien gebruik. Viva Stysel!

Alles wat mooi is


Marié du Toit

Dinsdag 20 Maart 2012

Seminole Werk

Die Seminole Indiane het stroke lap aan mekaar gestik, dit op gesny, die eenhede verskuif en weer aan mekaar gestik om interessante kleur bande te lewer.

Die bande is gebruik as versiering op kledingstukke. Die konsep is eenvoudig maar die moontlikhede legio. Die stroke se breedtes kan wissel, of die kleur samestelling kan interessante sekondêre patrone op lewer.

Die stroke wat aan mekaar gestik is kan ons 'n strookstel noem. Deur die strookstel teen 'n 60 of 45 grade hoek in skywe te sny kan twee verskillende bande (Die klaar produk) gevorm word. In die een band staan die diamante regop op hul skerp punte.


Deur die skywe af te skuif word 'n smaller band gevorm waar die daiamante se skerp punte aan mekaar raak.



Die boek van Cheryl Greider Bradkin, The Seminole Patchwork Book  en 'n tydskrif artikel het my aan gespoor om hierdie tegnieke op gewone laslapwerk toe te pas.

 Ek het die Trip Around the World en Lone Star kwilts met die tegniek gemaak.

Trip Around the world
Uiteindelik het ek ook gesien hoe mens dit in enige projek kan gebruik om laswerk te bespoedig.

In hierdie kwilt is die "ontwerp element" wat die oog deur die kwilt lei, die Nine Patch in hul spesifieke oriëntasie. Al die Nine Patches is gemaak deur eers stroke aan mekaar vas te stik, dit in skywe te sny, elke tweede skyf om te draai en dan vas te stik om die eenheid te vorm. Die eenheid is in die hoeke van die blokke gestik.
Burgoyne Surrounded

Alles wat mooi is


Marié