Sondag 11 Julie 2021
'n Vloer Inspireer
Dinsdag 03 November 2020
Windmeul Kwilt
Gereelde lesers van my blog weet al dat ek meer projekte begin as wat ek klaar maak. Op die oomblik het ek ook 'n hele paar handwerk projekte. Een daarvan is my Windmeul kwilt. Ek het nog nie daaroor geskryf nie en dit is nou amper klaar. Ek is nou al 'n jaar en 2 maande daarmee besig.
Ek het dit verlede jaar in Augustus begin voor ons na die Nasionale Kwiltfees in Johannesburg is. Net voor die fees besef ek dat my ander handprojek nie genoeg handwerk sou lewer vir die 10 dae wat ons weg is nie. Nie voordat ek weer sou moes merk en sny nie. Goed wat ek makliker in my naaldwerkkamer sou kon doen.
Dit was dus 'n maklike besluit om stroke te sny vir 'n nuwe projek en al die ligte stroke te merk. Dit is dan gekombineer met medium en donker stroke. Ek kon baie van hierdie stroke waarop driehoeke getrek was aan mekaar vas werk met my Las-Eers-sny-dan metode terwyl ons gery het. Saans as ons in die koffiekamer saam kuier het ek verder gewerk en as ek nie klasse gehad het of na die uitstallings gekyk het nie, het ek hieraan gewerk. So het ek baie fees herinneringe in die kwilt vas gewerk.
Ek het genoeg stroke saam geneem dat ek eers by die huis weer die merk en los sny werk gedoen het en die eenhede aan mekaar begin las het. Direhoek eenhede bied altyd 'n uitdaging as dit aan mekaar gewerk word. Daar is oral skerp puntjies wat moet skerp wees. As dit in 'n Windmeul gerangskik word, kom daar 8 puntjies by mekaar wat almal mooi skerp moet wees.
Toe ek so halfpad met die projek was, het ek 'n baie goeie plan gekry. Ek is nou al vir 3 jaar besig om te probeer mediteer en vind dit baie moeilik. Ek behoort aan 'n Facebook groep "Stitch Meditation" waar die mense die mooiste goed sonder enige beplanning werk- hoofsaaklik borduurwerk. Ek het al baie gedink hoe ek dit in my kreatiewe werk kan inkorporeer. Die besef het by my pos gevat dat ek hierdie laslapwerk van my met konsentrasie en gedagtes slegs gefokus op dit waarmee ek besig is, kan doen. Dit het die kwaliteit van my laswerk onmiddelik baie verbeter en ek het ook nuwe tegnieke (vir my) ontwikkel om die laswerk nog meer akkuraat te maak. Ek pluk ook die vrugte in my lewe van hierdie meditasie praktyk.
![]() |
| Pinterest |
Die projek het ek die eerste keer in Pinterest gesien en dit is eintlik 'n miniatuur projek. Die patroon daarvoor is ook hier te kry. Ek het besluit om met dieselfde soort materiale te werk, drukstowwe met klein motiewe sodat die kleurwaarde nie versteur word nie. In 'n paar gevalle het ek wel ander materiale gebruik omdat ek nie nog van die soort materiaal gehad het nie- wat ook interessantheid aan die finale produk verleen.
Ek het 4 cm en 8 cm perspex driehoeke laat maak wat die merk van die eenhede baie vergemaklik het. Karton patroonplate raak pap van die potlood lyne wat so baie daarom getrek word en moet vervang word. Ek het stroke van 13,5 cm gesny en kon 4 blokke uit elke strook merk. Daar was 'n paar gevalle waar ek net drie blokke en 'n paar eenhede kon uit kry (party materiale is net smaller) en hierdie eenhede het ek in die rand gebruik.
Toe ek 50 blokke gemaak het, besef ek my kwilt het te veel blou in en te min groen, mostert en dowwe oranje. Ek het 120 blokke vir die kwilt nodig gehad en kon toe dadelik nog materiale kies om hierdie kleure aan te vul.
Saterdag 04 Julie 2020
Corona Ster- 'n Tutoriaal
Ek sal enige een aanraai om eers net een blok te maak. Dan verstaan mens die blok mooi en kry jy een effek. As jy besluit dat dit nie vir jou 'n lekker projek is nie, kan jy die blok op 'n sak vaswerk en so jou kuns adverteer waar jy jou sak ronddra.
Ek gaan verduidelik hoe ek dit doen en met foto's demonstreer. Ek sal ook 'n video op You Tube laai.. Ek bou my blok rondom 'n kaleidoskoop materiaal. Hierdie materiaal gebruik ek vir die 6 middelste pantjies. Ek gebruik ook die kleure in die materiaal om oor die ander materiale in my projek te besluit. My kaleidoskoop materiaal het dowwe kleure met vuil pink blomme daarin en olyfgroen takkies. Ek het ook bloue en gele in my lap versameling ingesluit.
Werkswyse
1. Ek begin met die laswerk van die 6 middelste vlieërs wat in 'n stapel van 6 identiese eenhede uitgesny is.
2. As jy pante merk hoef jy vir eers net twee pante te merk. Plaas 'n gemerkte pant op 'n ongemerkte pant.
3.Werk net op die naat lyntjie en nie in die naattoelating nie. Begin aan die buitekant met 'n dubbelsteek. Tel 3-4 stekies op die naald trek dit deur, maak 'n agterstekie en tel weer 3-4 stekies op die naald.
4.Werk tot by die skerp punt- weer eens nie in die naat toelating nie en eindig met 'n dubbel steek. neem die naald na die agtertse pantjie.
5. Plaas die derde pantjie agter die gemerkte pant. Bring die naald vanaf die agterte pant na die nuwe pant en maak 'n stekie sodat die naald op die lyntjie van die gemerkte pant uitkom.
6. Die gemerkte pant is in die middel maar die twee buitenste pante is verbind. Dit verhoed dat daar 'n klein gaatjie reg in die middel ontstaan.
7. Werk op die lyntjie op dieselfde wyse om die derde pant vas te werk. Eindig met 'n dubbel steek en werk so 3 stekies terug in die naat toelating.
8. Die patroonplaat word nou op die ongemerkte pante geplaas. Die lyntjie op die patroonplaat moet op die stekies wees. Merk dan die ander sye- eers deur die gleuwe en dan trek jy die patroonplaat af en verbind die merkies op die lap.
9. Herhaal die proses vir die ander drie pante. Jy het nou twee helftes. Speld die buiterand en die middel vas. Maak baie seker dat die middel speldjie presies op die plek is waar die drie pantjies by mekaar kom aan beide helftes.
10.Werk nou met stekies weer van buite na die middel. Maak seker dat steke op die voorste en agterste lyntjie is, deur die werk oor te vou nadat die naald ingesteek is. Eers as jy seker is dat die 3-4 stekies ook op die agterste lyn is trek jy die naald deur.
11. Maak 'n dubbelstekie in die middel maak seker dat dit die laaste steek aan die voor en agterkant is en trek dit goed styf.
12. Steek die naald deur die voorste pant, skuins na die agterste pant van die ander helfte. Bring dit na voor met 'n stekie na die ongewerkte lappie, maak 'n dubbel steek en trek styf. Nou is die middel goed geanker en presies by mekaar. Volg op met 3-4 stekies op die naald en maak seker dit is ook op die agtertse potlood lyntjie. Eindig met 'n dubbel steek en so 3 stekies terug gewerk in die naattoelating.
13. Die nate kan met die vingers plat gedruk word in een rigting of versigtig gepars word sonder om dit te verrek.
Die middel is voltooi! Dit is so lekker om die verskillende kaleidoskoop effekte te sien. Heelwat gaan in die naattoelting verlore so dit lyk altyd anders as wat jy verwag het. Ek maak sommer 'n hele klomp hiervan net om lekker verras te word met die verskeidenheid van patrone wat hier ontstaan.
Ek hou daarvan as 'n ligte materiaal ook in die blok is en nie net buite om nie. Die "ring" wat om die middel pantjies gaan maak ek dan van 'n ligte materiaal. Party van myne het ek ook met 'n ligblou of ligpienk gemaak maar die meeste met 'n room kleurige agtergrond met fyn patroontjies op.
Ek sny 'n strook materiaal van 7.5 cm. Ek werk met 'n 60mm rolsnyer en kan met gemak 6 lae materiaal sny. Aangesien ek van 'n verskeidenheid materiale in my kwilt hou, kies ek twee ander ligte materiale waarvan ek ook 'n 7,5 cm materiaal strook sny. (Of stapel die drie materiale- elk dubbel gevou selfkante op mekaar- maak die bokant gelyk en sny gelyktydig die 7,5 cm strook af.
Ek plaas die 1/3 de heksagoon patroonplaat op die strook en sny teen die patroonplaat met die rolsnyer om die pant uit te sny. Verskuif die stapel stroke versigtig as jy dit moet draai om makliker te sny. Draai die patroonplaat om en sny die volgende stel pante uit. Daar kom 18 pante uit een strook so met hierdie 3 stroke het jy vir 9 blokke die pante gesny.
In die video wys ek verder hoe die blok voltooi word.
Met 'n kwilt soos dié wat ek net wil maak beplan ek later hoeveel blokke ek sal maak. 'n Enkelbed grote kwilt word verkry met 32 blokke en 6 halwe blokke. Dit sal voor rame 130 cm X 165 cm wees. Met 44 blokke en 8 halwe blokke in 'n rangskikking van 6 blokke in 'n ry sal 156 cm X 180 wees as jy dit meer vierkantig wil maak en 7 blokke in 'n ry sit sal dit 182 x 180 wees en 52 blokke en 8 halwes benodig.
Die blokke word nie voltooi met 1/3 heksagoon op die buiterand nie. Daar word 2 volle ligte heksagone aan elke blok gewerk. Die blokke pas dan soos 'n legkaart in mekaar, bietjie materiaal (wat andersinds in naattoelatings verlore sou gaan) word gespaar en heelwat werk met onnodige nate word gespaar. Aan die einde sal mens wel die blokke op die buiterand langs die sye en onder voltooi met die kleiner ligte pante.
Ek sal later ook ander maniere hoe die blokke gebruik kan word, wys. Begin eers met die middel gedeeltes, of maak eers net een blok.
Alles wat mooi is,
Marié
Vrydag 29 Mei 2020
Kaleidoskoop in Materiaal
Ek speel al lankal met Kaleidoskoop effekte in my 8 puntsterre en het al 'n paar kwilts uit Sarah Nephew se boeke waar heksagoon ontwerpe gebruik word, gemaak. One -block Wonders van Maxine Rosenthal het my nooit gemotiveer om een te maak nie- die feit dat ek nie self kon kleure byvoeg nie en moes werk met wat die een materiaal my gee, het dit nie uitdagend genoeg gemaak nie. Ek kon wel in haar boek en ook in Bethany Reynolds se boeke "Stack-n-Wack" leer hoe om vinnig en maklik my Kaleidoskoop pante uit te sny.
Ek het nie 'n Afrikaanse benaming vir "Fussy cut" nie. Dit is waar mense 'n spesifieke element uitsoek in die materiaal en dit uitsny. Dan soek jy verder na 'n identiese element en sny dit ook presies so uit, tot jy 5 of 6 van dieselfde het- soos jou patroon vereis. Nou is jou lap vol gate. As jy 'n tweede element soek word jy beperk deur jou vorige snitte. As die tweede element nie genoeg materiaal om dit het nie, omdat dit in die eerste rondte te naby daaraan gekom het, moet jy dit laat vaar. Op die ou einde sit jy met 'n baie stadige proses en 'n groot vermorsing van materiaal.
| Geskikte materiale vir Kaleidoskoop patrone |
STAPEL, SOEK EN SNY
Die proses kan bespoedig word deur identiese lae materiaal op mekaar te STAPEL. Die patroon wat op die materiaal gedruk word word meestal elke 60 cm herhaal maar soms ook elke 30 cm. Om 6 herhalings te kry benodig jy dus 1,8m- 3,6 m afhangende van hoe groot 'n enkele deel is. Die patroon word ook oor die breedte herhaal daar is soms klein verskille en dit is ook nie reg langsaan nie maar 'n bietjie op geskuif. Deur daardie herhalings ook te gebruik kan mens wegkom met net 1,8 meter. (Die presises lengte word deur die hoogte van die herhaling bepaal.)
Vir 'n groot projek waar jy baie van die materiaal in 'n kaleidoskoop gaan gebruik benodig jy 3,6m. (Vir my LaPasagaclia (Willyne Hammerstein se Millefiori boek) het ek die kaleidoskoop in verskeie aspekte van die sirkel ontwerpe gebruik en het die hele stuk op gebruik en moes nog by koop)
Materiaal waar die patroon dig op mekaar is, kan amper teen mekaar uit gesny word. As die patroon yler is moet jy ideale gedeeltes soek. Dan verloor jy baie materiaal. Om in die soektog te help het jy twee goed nodig.
As jy 'n vensterpatroonplaat maak, kan jy dit oor die materiaal skuif om moontlike gedeeltes van die materiaal te identifiseer.
![]() |
| Twee spieëls gee 'n aanduiding of 'n mooi effek verkry sal word. |
Daar is so baie plekke waar mens 'n Kaleidoskoop in jou Laslapwerk kan gebruik. Willyne Hammerstein het al haar 4 de Millefiori boek uit gegee en oral gebruik sy die Kaleidoskoop effek.Nou vir die soektog na die regte materiaal.
Die groot lekkerte van so 'n materiaal in jou projek is dat dit die blokke of elemente saam bind. Dit gee ook vir jou die kleurpalet waarin jy kan werk en mens soek dan net ligter en donkerder skakerings van die kleure in die kaleidoskoop lap om in die projek te gebruik. Jou kwilt vorm outomaties 'n samehorige geheel.
Wil jy deelneem aan die Corona Ster projek waar ons ook hierdie Kaleidoskoop effek gaan gebruik? Sluit aan bydie Corona Ster Facebook groep:
https://www.facebook.com/groups/244744929929209/
Alles wat mooi is en Kaleidoskope in het vir jou,
Marié






