'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Maandag 21 Maart 2016

Dis al Maart

As die jaar so spoed optel soek mens die brieke. Die eerste skoolvakansie van die jaar het aangebreek en ek het iets  om oor te bieg. Ek het n nuwe projek begin. Ja ek weet ek het klaar te veel projekte! Dit help my geestes gesondheid om nuwe goed aan te pak, dan is ek gemotiveerd en besig. Die belangrikste is om n sekere momentum op te bou en dan laat waai ek. My projek is die Sundial kwilt en ek rapporteer daaroor by my ander blog.


My Pasagaclia vorder ook mooi. Ek het vir twee rosette die sterretjies bygevoeg en dit lyk nou so:

Hier wou ek die individuaele sterretjies laat uit staan

Ek gebruik Tina van der Walt se idee om die hele Rosette soos n groter ster te laat lyk.
Hierdie sirkel laat ook die middelste deel blom en tot sy reg kom. Ek het n skeurtjie in my Retina op gedoen en sukkel bietjie met die fyn werk want ek kan nou net met een oog fokus. (Vir eers tot die bloed in my ander oog op geklaar het)

Ek het twee weke gelede die Bootcamp wat deur Claire Wallis en Stephanie Geldenhuys vir ons hier in die Kaap aangebied is, by gewoon. Dit het die knoop vir my deur gehaak en my Simply Sixteen is oppad!  Ek glo die masjien sal aan my behoeftes voldoen. Ek wil nie vir ander mense kwilt nie en wil ook nie Pantographs kwilt nie. As ek n dikker wol wateersel gebruik sal die 16 duim dalk bietjie smal wees as mens na die onderkant van die kwilt gaan, maar dan draai jy dit maar net om sodat jy altyd net n boonste helfte kwilt.

Hoop om julle gou te wys wat ek daarmee kan uitrig.

Geniet jul Las en Kwilt werk.

Marié



Woensdag 03 Februarie 2016

Vier uit Sewe

Miskien moes ek nie so baie projekte vir Januarie gelys het nie, dan het ek beter gevaar. Tog is ek tevrede met wat ek uit gerig het. Vanoggend het ek na n week en n half weer die eerste keer in my naaldwerk kamer gekom.(Daar was net elke dag iets anders wat ek moes doen.) In die tussentyd het ek darem goed aan my Handlasprojek gewerk en ek het nou in totaal 21 middel gedeeltes voltooi en 4 is half voltooi.

My kwilt op die raam het ek glad nie aangepak nie en Dear Jane sal ek volgende week takel.
Die Sew n Row sterre het ek voorberei vir Boland gilde maar was bietjie siek en het toe die sorgvuldig voorbereide laswerk in my naaldwerkkamer vergeet. Dit is n maklike ster maar soos alle laslapwerk kan dinge skeef loop as mens nie elke fase korrek uit voer nie. Ek moes n paar keer uittrek!
Sew a Row met Spinning Star in onderste ry

Ek het nie een nie maar twee kinder kwilts gemaak. Siegfried se kwilt is klaar en sal more na hom gestuur word. Stefnik se kwilt moet voor 13 Februarie klaar wees want dan verjaar hy. Die blou langhaar sagte materiaal wat ek vir agterkant en Batting gebruik het is baie rekkerig en het nie mooi hanteer nie. Ek sal n ander plan maak wanneer ek Stefnik se kwilt voltooi. Die baba kombers wat ek gemaak het, het mooi gekom, maar hierdie groter kwilt op die rekkerige materiaal wou nie lekker werk nie.

By Boland gilde gaan ons in groepe aan trooskomberse werk sodat ons n kwilt het om aan n lid wat siek raak te gee. Ek koordineer die Stellenbosch/Somerset Wes en Malmesbury groep. Ek het besluit om Katja se New Hexagon met die groep te doen. Ons gaan die kwilt met die masjien maak. Rita het al haar Rosette 4 voltooi. Kyk hoe mooi!
My plan vir Februarie is dan:
1. Die kwilt op die raam moet ek die maand aanpak.
2. My Dear Jane/ Liewe Hedwig kwilt gaan ek volgende week uit sorteer. Ek moet die blokke en instruksies vir die klas op 10 Februarie maak en opstel. Dan wil ek die blokke wat ek half voltooi het klaar maak en die rand en hoeke aan mekaar begin vas werk. Ek wil ook die masjien appliek doen.
3. Ek gaan voort met my handlas Millefiori
4. Stefnik se kwilt moet klaar kom
5. Katja's Quilt: ek help Boland lede teen die einde van die maand met hul blokke en sal daarvoor voorberei.
Ek beplan niks nuut vir Februarie nie maar hoop om by hierdie lysie te hou.

Het jy jou planne reg vir Februarie? Het jy beter as ek gevaar met jou beplande Januarie projekte?

Las lekker!

Marié

Vrydag 15 Januarie 2016

Vir die manne in my lewe

Daar is twee klein mannetjies in my lewe wat elk n kwilt moet kry. So voor dit net by beloftes en voornemens bly het ek aan die werk gespring. Vir 'n kinder kwilt is prentjies altyd n goeie begin punt. Dit maak hul slaap kombersie sommer n storiekombers en 'n lekker aand geselsie met wie hul ook al in die bed sit.

Ek versamel prentjie lap en weet presies op watter rak dit is. Behalwe dat ek verlede jaar die rak reg gepak het. Ek het gedink en gedink, waar sou ek dit gepak het. Einde ten laaste het ek maar begin soek. Op alle moontlike en onmoontlike plekke gekyk. Die leer gaan haal en houers bo uit die kaste gehaal. Toe sommer materiaal gekry wat ek in die komberse kan gebruik.

Ook kry ek die lekker sagte langhaar materiaal wat ek juis vir my kinderkwilts gekoop het. Dit gebruik ek as watteersel en agterkant. Ek het met my kinders gesien dat hulle nie so lief vir hul kwilts was al het dit n flennie agterkant gehad. Die langhaar sagte kombersies was altyd hul keuse. Ek hou nie eintlik van sintetiese lap nie- ek glo dis plastiek en sweterig. Hier moes ek swig as ek wil hê my kwiltswat  met liefde gemaak is, moet gebruik word.

Die prentjielappe kry ek nie. Een of twee verdwaaldes wat by ander lappe is, kry ek wel. Gelukkig het ek twee prente lappe by Quilttalk gekoop toe ek deur George huis toe gekom het van my vakansie by Buffelsbaai. Ek kry ook 'n John Deere paneel en n almanak van 2008  paneel met prentjies wat bruikbaar is.

Die tweede stap is om die kwilt te ontwerp. Ek sien n kwilt wat uit eenvoudige en bietjie meer komplekse blokke bestaan in n nuusbrief van Jinny Beyer. Dit is n kwilt van Heather Spencer Dan's Climb. Sy het dit ontwerp as n Mystery en die patroon kan nou as geheel gekoop word vir fondse om kankerlyers te help met die kostes tydens behandeling. Ek gebruik dit as inspirasie om my Slangetjies en leertjies kwilt vir Siegfried te ontwerp.
Ek hou van strook laswerk. Dit is vinnig om te sny en te stik. My blok groote is 20 cm. Die prentjies moet rame om kry sodat dit 20 cm (plus naattoelating is- 21,5 cm) So dit is my eerste stap en ek kan dit op die ontwerp muur pak. Die groot checkerboard blokke is maklik om te maak met twee stroke van 11,5 cm wat aan mekaar gestik word en dan in skywe van 11,5 cm op gesny word.

Die slangetjies en leertjies blok is meer gekompliseerd en bestaan uit verskillende eenhede. Ek las drie stroke van 6,5 cm aan mekaar en sny dit in skywe op van 6,5 cm.(Dit is die middelste twee eenhede bestaande uit die groen, rooi en blou vierkante)


 Dit kan nie verder gelas word nie die leertjie eenhede moet ek eers maak.

Hier het ek n denkfout gemaak en ipv die vier stroke 4 cm breed te sny doen ek dit 4,5 cm. (As die 4 cm stroke aan mekaar gestik is, word dit in 4,5 cm skywe op gesny.) Weerskante van die skyfies kom n donker strokie 2,5 cm breed. (Ek sny dit maar net korter- die blokkies is dan nie almal ewe groot nie.) Gelukkig vergewe n kinder kwilt mens se foute-dis net nog n gesels onderwerp.

Aan die helfte van die leertjies kom 'n vierkant van 6,5 cm. Dit word dan aan 'n drieblok skyf van 6,5 cm gestik met 'n "leertjie" dwars oor die twee eenhede om die helfte van die blok te vorm. Twee helftes word aan mekaar gestik om die blok te voltooi. Die blok is nogal tydrowend om te maak. Met die blok voltooi kan ek dit op my ontwerp muur pak en die blokke aan mekaar stik.


Ek weet nie hoe ek gekyk het nie, maar ek het gedink dat die slangetjie en leertjie blok in enige oriëntasie kan wees en dit toe net uitgepak. Natuurlik toe dit klaar aan mekaar gestik is sien ek dat die maroon vierkante in die slangetjie en leertjie blok in verskillende rigtings wys. As dit n muurkwilt was, het ek dit defnietief uitgehaal en verander. Nou is dit net nog n gesels onderwerp vir Siegfried en sy Ma Hester. (Sy Pa, my boetie Danie is ongelukkig verlede jaar oorlede)

Ek besluit dat die Slangetjies en leetjies blokke interessant is maar die kwilt baie besig maak en nie noodwendig bydra tot die voorkoms nie. Die volgende kwilt vir Stefnic wil ek vereenvoudig en meer van die Checkerboard blokke gebruik en minder Slangetjies en leertjies. Pleks dat ek dit eers in my EQ7 program gaan probeer stik ek sommer die blokke. Die een geel is op en ek gebruik n ander geel materiaal. Aarde land, Liewe Heksie se gifappeltjies sal heerlik verdwaal in die kwilt!


Nee dit sal nie deug nie! Ek sal die blou materiaal behou (Gelukkig het ek baie daarvan) en dit met iets groen kombineer- of dalk n ligblou?



Ek dink ek kies die groen- dit pas beter by die materiale wat ek reeds in die kwilt gebruik het. Hopelik kan ek vandag ook die raam omsit. My naaldwerkkamer is n oond, my lugversorger kom hopelik Maandag maar tot dan moet ek maar so swetende werk as ek iets gedoen wil kry.

Hopelik werk jy gemakliker-  dan het jy nie n verskoning nie?Het jy al begin aan jou eerste kwilt vir die jaar?

Marié



Maandag 11 Januarie 2016

La Passacaglia



Hierdie kwilt, wat kwilters oor die wereld inspireer is deur Willyne Hammerstein ontwerp. Ek het my boek en akrieliese  patroonplaat stel teen ongeveer R1300 uit Engeland bestel. Ek ontdek eers nou dat Allyson Rischbieter dit hier in Suid Afrika vir veel goedkoper beskikbaar het. Ek is so bly want nou kan ek ook bietjie klas gee as mense sou vra- sonder die beskikbaarheid van patroonplate en verkieslik ook die boek is dit onmoontlik om 'n klas aan te bied.


Millefiori Quilts

Vandat ek hierdie kwilt gesien het was ek gefassineer. Ek het die versoeking weerstaan om ook so n kwilt te maak maar het uiteindelik geswig. Ek is nie spyt nie. Dit is regtig lekker om iets so mooi onder jou hande te sien ontvou. Ek doen dit nie oor papiertjies nie(Allyson het ook die opsie van net patroonplate sonder die papier) maar met n oop soom. Wanneer mens die soort van werk doen is dit bellangrik om nooit in die naattoelatings te werk nie. Dit doen mens in elk geval nie as jy handlas nie. Met masjien werk sal hierdie patroon baie moeilik en tydrowend wees omdat die eenhede so klein is. Dit is nie onmoontlik om dit met die masjien te doen nie- daar is mense wat nou een maal nie van handwerk hou nie. So die belangrike ding is dat alle nate "vry" moet wees om in enige rigting te vou en dan ook oop kan vou om al die stukkies wat "in gelas" moet word sonder plooie te kan inlas.

Ek het oor die naweek nog 4 eenhede voltooi.


Die eenhede wat ek voltooi is slegs die middelste 5 punt ster, 5 diamant stukkies en die ring pentagone rondom. In die kwilt is daar ongeveer 33 sulke eenhede wat dan in verskillende grotes verder gewerk word. Daar is 4 groot eenhede met  kleiner eenhede in sirkels daarom. Die kleiner eenhede pas in mekaar en ook in die groter eenhede deurdat nie alle stukkies in die volgende ring gewerk word nie. My redenasie is: As ek die basiese eenhede voltooi het kan ek soveel makliker die eenhede bou op die regte manier.

Passacaglia Quilt by Willyne Hammerstein
Willyne bespreek ongelukkig nie in haar boek waar haar inspirasie vir die kwilt vandaan kom en waar sy die pentagoon ontwerp gekry het nie. Google het min ander pentagoon ontwerpe gegee as net hare. So volgens my is dit n kragtoer om n nuwe ontwerp vir kwilters moontlik te maak. Haar boek is eintlik vol van nog unieke ontwerpe wat ek ook brand om te maak.

Daar is baie verskillende maniere waarop kwilters hierdie patroon aanpak. Kyk op Pinterest en Instagram vir baie inspirasie. Willyne het n materiaal as haar inspirasie gebruik  waarvan sy identiese eenhede gesny het. Baie kwilters maak elke ring uniek en in n kleur kombinasie. Dan pas die verskillende kleurringe in mekaar om werklik asemrowende kwilts op te lewer.

Ek het al lank die materiaal van Jane Sassaman en ek het genoeg gekoop om  6 herhalings uit tekry. Vir hierdie kwilt benodig ek net 5 herhalings. Ek sny dus die materiaal soos in "Stack n Wack" (kyk na die You Tube video as jy nie weet hoe om dit te doen nie) sodat ek 5 lae materiaal wat almal identies is, op mekaar kan stapel. Ek hoef dus nie nou te "fuzzy cut" om 5 identiese eenhede te kry nie, maar sny net een maal  deur al vyf lae om die 5 eenhede te lewer. Ek gebruik hierdie materiaal oral waar 5 identiese eenhede benodig word. Vir die ringe rondom die ster het ek soms 5 eenhede en 5 spieelbeelde daarvan gesny om verdere interessante effekte te verkry.

My mikpunt is om einde Januarie al die basiese eenhede te voltooi. Ek hoop dis n lang maand- ons is al n derde weg en ek het al omtrent 11 voltooi. As ek een elke dag maak kan ek daar kom. Die gesegde: Hoe eet mens n olifant- stukkie vir stukkie, is ook waar van n kwilt. Dit is n groot onderneming maar as jy elke dag iets doen kan jy aan die einde van die jaar n voltooide kwilt hê. Mens moet net nie terug deins vir die grote van n projek en moedeloos wees voor jy begin nie!

Werk lekker aan jul projekte.

Marié