'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.
Wys tans plasings met die etiket Willyne Hammerstein. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Willyne Hammerstein. Wys alle plasings

Vrydag 29 Mei 2020

Kaleidoskoop in Materiaal

My Oupa het 'n koperkleurige Kaleidoskoop gehad. As klein dogtertjie was dit vir my 'n absolute magiese apparaat. Ek kon regtig vir lank daarmee sit en dit draai en draai. Ek weet nou nog hoe teleurgesteld ek was as die kaleidoskoop 'n patroon in net een of twee kleure vertoon het. Ek het aan hou draai tot ek by die multi kleur patrone gekom het en hulle dan een vir een bewonder. Dit is seker waar my liefde vir kleur vandaan kom. Dit is daar dat ek gesien het jy kan nie te veel kleure in een ontwerp hê nie en hoe meer kleure hoe mooier!

Ek speel al lankal met Kaleidoskoop effekte in my 8 puntsterre en het al 'n paar kwilts uit Sarah Nephew se boeke waar heksagoon ontwerpe  gebruik word, gemaak. One -block Wonders van Maxine Rosenthal het my nooit gemotiveer om een te maak nie- die feit dat ek nie self kon kleure byvoeg nie en moes werk met wat die een materiaal my gee, het dit nie uitdagend genoeg gemaak nie. Ek kon wel in haar boek en ook in Bethany Reynolds se boeke "Stack-n-Wack" leer hoe om vinnig en maklik my Kaleidoskoop pante uit te sny.

Ek het nie 'n Afrikaanse benaming vir "Fussy cut" nie. Dit is waar mense 'n spesifieke element uitsoek in die materiaal en dit uitsny. Dan soek jy verder na 'n identiese element en sny dit ook presies so uit, tot jy 5 of 6 van dieselfde het- soos jou patroon vereis. Nou is jou lap vol gate. As jy 'n tweede element soek word jy beperk deur jou vorige snitte. As die tweede element nie genoeg materiaal om dit het nie, omdat dit in die eerste rondte te naby daaraan gekom het, moet jy dit laat vaar. Op die ou einde sit jy met 'n baie stadige proses en 'n groot vermorsing van materiaal.



Geskikte materiale vir Kaleidoskoop patrone

STAPEL, SOEK EN SNY

Die proses kan bespoedig word deur identiese lae materiaal op mekaar te STAPEL. Die patroon wat op die materiaal gedruk word word meestal elke 60 cm herhaal maar soms ook elke 30 cm. Om 6 herhalings te kry benodig jy dus 1,8m- 3,6 m afhangende van hoe groot 'n enkele deel is. Die patroon word ook  oor die breedte herhaal daar is soms klein verskille en dit is ook nie reg langsaan nie maar 'n bietjie op geskuif. Deur daardie herhalings ook te gebruik kan mens  wegkom met net 1,8 meter. (Die presises lengte word deur die hoogte van die herhaling bepaal.)

Vir 'n groot projek waar jy baie van die materiaal in 'n kaleidoskoop gaan gebruik benodig jy 3,6m. (Vir my LaPasagaclia  (Willyne Hammerstein se Millefiori boek) het ek die kaleidoskoop in verskeie aspekte van die sirkel ontwerpe gebruik en het die hele stuk op gebruik en moes nog by koop)

Materiaal waar die patroon dig op mekaar is, kan amper teen mekaar uit gesny word. As die patroon yler is moet jy ideale gedeeltes soek. Dan verloor jy baie materiaal. Om in die soektog te help het jy twee goed nodig.

As jy 'n vensterpatroonplaat maak, kan jy dit oor die materiaal skuif om moontlike gedeeltes van die materiaal te identifiseer.
Met twee spieeltjies wat aan die eenkant vas is en soos 'n boek kan oopvou kan jy sien of 'n gedeelte van die patroon vir jou 'n mooi kaleidoskoop effek gaan gee. Dit werk goed met simmetriese motiewe- andersinds gee dit vir jou 'n spieëlbeeld wat ook help, maar nie die ware voorkoms vertoon nie.

Twee spieëls gee 'n aanduiding of 'n mooi effek verkry sal word.
Die elemente wat ek gebruik is dikwels nie staties nie. Ek sal 'n groot blom opsny in drie pante om verskillende effekte te lewer. Ek hou van die verassing as mens die pante afpak en die ontwerp voor jou verskein- net soos met my Oupa se kaleidoskoop.

Daar is so baie plekke waar mens 'n Kaleidoskoop in jou Laslapwerk kan gebruik. Willyne Hammerstein het al haar 4 de Millefiori boek uit gegee en oral gebruik sy die Kaleidoskoop effek.Nou vir die soektog na die regte materiaal.

Die groot lekkerte van so 'n materiaal in jou projek is dat dit die blokke of elemente saam bind. Dit gee ook vir jou die  kleurpalet waarin jy kan werk en mens soek dan net ligter en donkerder skakerings van die kleure in die kaleidoskoop lap om in die projek te gebruik. Jou kwilt vorm outomaties 'n samehorige geheel.

Wil jy deelneem aan die Corona Ster projek waar ons ook hierdie Kaleidoskoop effek gaan gebruik? Sluit aan bydie Corona Ster Facebook groep:
https://www.facebook.com/groups/244744929929209/

Alles wat mooi is en Kaleidoskope in het vir jou,
Marié

Maandag 20 Junie 2016

Nog bietjie oor La Paz

Ek het Woensdag 'n bietjie my werkswyse vir Willyne Hammersteins se kwilt: La Passacaglia by ons gilde gedemonstreer en het besef dat alhoewel ek al hier daaroor geblog het, is daar nog meer te sê. Ek wil graag ook vir die Boland Gilde die inligting hier by mekaar gee so sal dalk herhaal wat ek in my vorige blog geskryf het.

Ek dink almal wat hierdie kwilt maak, maak gebruik van motiewe wat op n fuzzy cut metode uit materiaal gesny word. Waar my werkswyse van ander kwilts wat ek op die internet sien verskil, is dat ek hoofsaaklik een materiaal, deur Jane Sassaman ontwerp, gebruik het. Ek het vyf herhalings van die materiaal identifiseer. (Ek kon baie meer herhalings kry maar dan sou dit kleiner stukkies wees en mens verloor baie lap op die buiterand waar motiewe deur gesny word) As jy een materiaal vir jou La Paz wil gebruik maak seker dat n herhaling ongeveer 60-80 cm groot is, anders sal jy nie genoeg eenhede kan sny nie.

Ek dui die herhalings met skêr en pen aan

Ek het vyf identiese lae op mekaar gestapel net soos wat mens sou doen as jy n "One Block Wonder" of "Stack n Wack " kwilt sou maak. As ek dan my pantjies uit gesny het, het ek 5 identiese ontwerpe gehad. Mens moet net onthou dat jy 5 ontwerpies vir die middelste "ster" benodig maar 10 vir die pentagoon rand wat daarom gaan. Hierdie tien kan van twee identiese ontwerpe geknip word. Mens kry eintlik baie interessante resultate as jy dit van spieëlbeelde kan sny. Nie alle materiale het simmetriese ontwerpe waar mens dan ook n spieëlbeeld kan sny soos hierdie lieflike materiaal van Jane Sassaman nie. So as jy spesiaal materiaal gaan aan koop kyk of jy een kan kry wat aan jou die opsie bied.



Baie ander kwilters het elke sirkel uit 'n ander materiaal en kleur gemaak. My sirkels is uit dieselfde materiaal maar party is meer groen, blou of pink afhangende van watter motiewe uit die Jane Sassaman materiaal wat ek gebruik he,t gesny is, asook die kleure wat ek daarmee kombineer het.

By The DIYaddict  stel Karen voor dat mens eers n paar van die kleiner sirkels maak- die 5 diamante met die 5 smaller diamante en die 10 pentagone, sodat mens eers' n gevoel kry van wat die materiaal waarmee jy werk kan doen en ook watter effekte die beste werk. Dit is baie goeie raad. Ek het al 33  kleiner Rosette gemaak voor ek met my 4 groot Rosette begin het.

Ek het gesien dat alhoewel enkel ontwerpe mooi lyk, is dit veral die interaksie wat die pantjie met die een langs hom het wat besonderse resultate lewer. Ook kan lyne wat in 'n rigting gaan die oog lei om oor die ontwerp te beweeg. Vaste ontwerpe soos blommetjies kan die kwilt baie besig maak omdat dit 'n spikkel effek lewer. As dit al is wat mens gebruik kan dit uiteindelik steurend wees omdat jou oog nêrens 'n rusplek op die kwilt oppervlakte het nie.

Daar is net 4 groot Rosette en net drie van hulle het 'n volle sirkel sterretjies. Slegs een kleiner Rosette het n volle sirkel sterretjies. Slegs die groter Rosette het dan ook kleiner sirkeltjies van 6 pentagone. Dit hoef nie noodwendig in sirkeltjies gerangskik te word nie en mense kry wonderlike effekte met wat hulle doen. Ek het die naweek myne beplan en die pantjies daarvoor gesny.
Die groot onvolledige Rosette

Dit hang af watter ontwerpe mens hier aan pak, hoeveel groot pentagone mens benodig.(Soms tot 24 van dieselfde of ek het ook 18 en 18 spieëlbeelde benodig.) Almal was toe nie identies nie maar ek kon dit maak werk.  Dit het dus sorgvuldig tel gekos en areas uitsoek om daardie pantjies te sny. Moet dus nie al jou pentagone aan die begin sny nie, sny soos jy aangaan en sien wat werk en sorg dat n groot stuk van die 5 lae materiaal nog beskikbaar is om die variasies wat in hierdie 4 groter Rosette nodig is te kan sny.


Hier is nog n paar skakels:

Die boek is te kry van Quilt Mania

Allyson Richbieter verkoop die boek en patroonplate by haar Craf Academy,

Daar is heelwat Pinterest plekke waar mens n verskeidenheid van die kwilts kan sien soos ook hier en hier

Dit is goedkoper om in dollar te koop as in pond maar hier is n Engelse skakel vir die wat wel daarin belangstel

'n Artikel deur Love Patchwork

'n Blogger Sharon  beskryf hoe sy die proses aangepak het.

Nog van die Rosette



Ek hoop ek kon julle belangstelling hierin prikkel. As jy nie self een wil maak nie weet jy nou waaroor al die internet opgewondenheid gaan!

Lekkeer Las
Marié

Maandag 11 Januarie 2016

La Passacaglia



Hierdie kwilt, wat kwilters oor die wereld inspireer is deur Willyne Hammerstein ontwerp. Ek het my boek en akrieliese  patroonplaat stel teen ongeveer R1300 uit Engeland bestel. Ek ontdek eers nou dat Allyson Rischbieter dit hier in Suid Afrika vir veel goedkoper beskikbaar het. Ek is so bly want nou kan ek ook bietjie klas gee as mense sou vra- sonder die beskikbaarheid van patroonplate en verkieslik ook die boek is dit onmoontlik om 'n klas aan te bied.


Millefiori Quilts

Vandat ek hierdie kwilt gesien het was ek gefassineer. Ek het die versoeking weerstaan om ook so n kwilt te maak maar het uiteindelik geswig. Ek is nie spyt nie. Dit is regtig lekker om iets so mooi onder jou hande te sien ontvou. Ek doen dit nie oor papiertjies nie(Allyson het ook die opsie van net patroonplate sonder die papier) maar met n oop soom. Wanneer mens die soort van werk doen is dit bellangrik om nooit in die naattoelatings te werk nie. Dit doen mens in elk geval nie as jy handlas nie. Met masjien werk sal hierdie patroon baie moeilik en tydrowend wees omdat die eenhede so klein is. Dit is nie onmoontlik om dit met die masjien te doen nie- daar is mense wat nou een maal nie van handwerk hou nie. So die belangrike ding is dat alle nate "vry" moet wees om in enige rigting te vou en dan ook oop kan vou om al die stukkies wat "in gelas" moet word sonder plooie te kan inlas.

Ek het oor die naweek nog 4 eenhede voltooi.


Die eenhede wat ek voltooi is slegs die middelste 5 punt ster, 5 diamant stukkies en die ring pentagone rondom. In die kwilt is daar ongeveer 33 sulke eenhede wat dan in verskillende grotes verder gewerk word. Daar is 4 groot eenhede met  kleiner eenhede in sirkels daarom. Die kleiner eenhede pas in mekaar en ook in die groter eenhede deurdat nie alle stukkies in die volgende ring gewerk word nie. My redenasie is: As ek die basiese eenhede voltooi het kan ek soveel makliker die eenhede bou op die regte manier.

Passacaglia Quilt by Willyne Hammerstein
Willyne bespreek ongelukkig nie in haar boek waar haar inspirasie vir die kwilt vandaan kom en waar sy die pentagoon ontwerp gekry het nie. Google het min ander pentagoon ontwerpe gegee as net hare. So volgens my is dit n kragtoer om n nuwe ontwerp vir kwilters moontlik te maak. Haar boek is eintlik vol van nog unieke ontwerpe wat ek ook brand om te maak.

Daar is baie verskillende maniere waarop kwilters hierdie patroon aanpak. Kyk op Pinterest en Instagram vir baie inspirasie. Willyne het n materiaal as haar inspirasie gebruik  waarvan sy identiese eenhede gesny het. Baie kwilters maak elke ring uniek en in n kleur kombinasie. Dan pas die verskillende kleurringe in mekaar om werklik asemrowende kwilts op te lewer.

Ek het al lank die materiaal van Jane Sassaman en ek het genoeg gekoop om  6 herhalings uit tekry. Vir hierdie kwilt benodig ek net 5 herhalings. Ek sny dus die materiaal soos in "Stack n Wack" (kyk na die You Tube video as jy nie weet hoe om dit te doen nie) sodat ek 5 lae materiaal wat almal identies is, op mekaar kan stapel. Ek hoef dus nie nou te "fuzzy cut" om 5 identiese eenhede te kry nie, maar sny net een maal  deur al vyf lae om die 5 eenhede te lewer. Ek gebruik hierdie materiaal oral waar 5 identiese eenhede benodig word. Vir die ringe rondom die ster het ek soms 5 eenhede en 5 spieelbeelde daarvan gesny om verdere interessante effekte te verkry.

My mikpunt is om einde Januarie al die basiese eenhede te voltooi. Ek hoop dis n lang maand- ons is al n derde weg en ek het al omtrent 11 voltooi. As ek een elke dag maak kan ek daar kom. Die gesegde: Hoe eet mens n olifant- stukkie vir stukkie, is ook waar van n kwilt. Dit is n groot onderneming maar as jy elke dag iets doen kan jy aan die einde van die jaar n voltooide kwilt hê. Mens moet net nie terug deins vir die grote van n projek en moedeloos wees voor jy begin nie!

Werk lekker aan jul projekte.

Marié



Woensdag 06 Januarie 2016

'n Nuwe Jaar en nuwe Planne

Hier by ons is n gesegde: Jou planne moet net nie op raak nie. Ek probeer dit nou gestand doen met n plan vir die nuwe jaar. Ek het baie projekte waaraan ek wil werk en baie half klaar projekte waaraan ek moét werk. Ek word egter gepootjie met te min lus en energie en nou ook die warmte en' n lugversorger in my naaldwerkkamer wat nie wil werk nie.

My blog is vir 3 jaar lank verwaarloos. Gelukkig het dit nog nie in die kuber ruimte verdwyn nie. Ek sal nou my blog gebruik om my verantwoordbaar te hou. Ek voel altyd ek kan nie blog as ek nie foto's het nie. Met my iphone is dit maklik om die fotos op die rekenaar te kry en met die probleem oor kom, kan ek sekerlik nie meer dit as verskoning gebruik nie. (Het nou eers weer gesukkel- maar hopelik weet ek nou hoe.)

Ek het besluit om net maandeliks planne vir die maand te maak. So my plan vir die maand is:

1.Werk aan die kwilt op die raam. Die laslapwerk is al seker in 2009 voltooi, maar dit word nou eers gekwilt. Ek het n dik wol watteersel wat ek vanaf Sneeuberg bestel het. (Hulle maak nou toe so help bie ek gee die link nie.) Dit word eintlik in motor stoffering gebruik. Dit sal baie moeilik wees om dit te kwilt as dit nie op die raam is nie aangesien die vreeslike pofferigheid veroorsaak dat die lae skuif en mens dan plooie in kwilt.

Op die raam dra die dik watteersel daartoe by dat die ruimte om te kwilt al hoe kleiner word. Ek het dus net die eerste twee rye blokke gekwilt en toe dit net af gerol om in die naatjies (ditch) te kwilt om die lae op mekaar te anker. Nou moet dit omgedraai word om die anderkant te kwilt en dan sal ek dit ook afhaal en draai om elke sy bo te kry en te kwilt.

Wat is die ander haak plekke? Die Bernina 830 gee n groter ruimte om te kwilt maar is nie gelukkig met die vorentoe en agtertoe bewegings wat ek van haar vereis om die vere te kwilt nie. As ek weer sien is die spanning uit of die garing breek of die garing maak n knop aan die onderkant. Die masjien is pas gediens, ek sit nuwe en ander soortige naalde in, gebruik al die garings wat ek het maar ek kry steeds probleme. Sulke tye is dit maar op my tande byt en beplan aan die langarm masjien wat ek graag wil koop.

2. My tweede projek vir Januarie is my handlas projek- "Millefiori soos ek wil" wat ek met Willyne Hammerstein se patroon La Pasagaclia aanpak. Hierdie projek sal my n paar maande besig hou. Ek werk saans daaraan maar moet werklik n punt maak om elke aand te werk anders sal dit nie klaar kom nie. My handlasprojek van verlede jaar is ook nog in dele omdat ek nie voldoende tyd daaraan spandeer het nie.



Dis so lekker om die kaleidoskoop effek te sien.


3. Ek moet n ster blokkie maak vir ons Boland gilde se "sew a Row" projek. Die inligting sal ek sommer op my blog sit sodat lede daarna kan kom kyk.

4. Dan moet ek ook voorberei vir die klas wat ek gee om die "Dear Jane" kwilt te maak.

5. Ek het materiaal gekoop om Katja se New Heksagon projek aan te pak. Ek het deur mekaar geraak daar in Quilttalk en net 5 herhalings gekoop ipv 6 soos ek vir hierdie projek benodig. Ek het begin met die projek maar is nie tevrede met die algemene voorkoms nie. Ek sal maar verder soek vir die regte materiaal en dan weer oor begin.



6. Hierdie kwilt is n Patroon wat ek op Craftsy gekoop het. Rita het my gehelp om die blomme in die middel te rangskik. Nou moet ek die raam vasstik en dan weer haar hulp kry om blomme op die raam te rangskik.
Blomme is darem net altyd mooi.


7. My laaste projek vir Januarie is n kinder kwilt vir Siegfried, my oorlede broer se 3 jarige seuntjie. Ek wil sommer ook n klas hier in Riebeek aanbied vir 'n kinder kwilt en die patroon bied lekker geleentheid om basiese dinge in laslapwerk te leer. Hier is my EQ voorstelling van wat ek beplan.
Beplande kinder kwilt
Nou ja as ek by al hierdie kwilts uitkom kan ek myself sekerlik op die skouer klop. Ons sal sien hoe ek vaar.

Is jou planne vir die nuwe jaar al reg?

Marié