'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Monday, February 27, 2012

Daan Desimaal

Toe ek skool toe is, het Suid Afrika net gemetriseer en was Daan Desimaal daar om aan almal bystand te verleen met die metrieke stelsel. Kwilters ouer as 55 het nog met duime te doen gehad maar diegene jonger as 55, het van duime geleer uit Amerikaanse kwiltboeke.

Aangesien ek lief is vir somme maak  (dit is een van die redes waarom ek laslapwerk so geniet- ek kan baie berekeninge maak) en ek maklik diagramme kan lees, het dit nooit vir my sin gemaak om 'n Amerikaanse patroon te volg nie. As ek 'n idee sien waarvan ek hou, het ek self besluit watter grootte ek dit wil hê en my patrone gemaak (indien nodig). Deesdae werk ons graag sonder patrone met die multi lyn liniaal. Ek verkies my liniaal in sentimeters en my hele sisteem is in sentimeters.

Toe ek begin laslapwerk doen het en dit met die masjien wou doen, (daar is in 1980 nog hoofsaaklik met die hand gewerk) het ek gou besef dat die naat toelating en die masjien voet met mekaar  verband moet hou. Die VSA tydskrifte het van 'n spesiale kwartduim voetjie gepraat wat mense moes aankoop of lyne wat op die masjienbed getrek moes word om die mate te gee. Ek het gereken as ek die masjien voetjie van die naald tot die buitekant van my voetjie meet, het ek my naat toelating en so het ek dan 7 mm bygevoeg.

Ek het wel gesien dat my blokke nie altyd die verlangde grootte is nie (So 2-4 mm minder) maar dit was klein verskille wat nie my akkuraatheid beïnvloed het nie. Ek het milimeter grafiekpapier gehad en kon my patroon plate daarop trek. Dit is dan ook die naat toelating van die patroon plate in my boek: Masjienlaslap.

Met die patroon plaat vrye era waar ons met die lyne op die liniaal gewerk het, was ek 1 mm kort van die 1,5 cm wat ek op die liniaal kon lees.  As ek vierkante of reghoeke sny waar daar 'n naat toelating aan elke sy is, moes daar 2 naat toelatings by getel word, dus 1,4 cm.

Ek het weer die masjien voetjie om gedop- gedagtig aan my blokke wat so 4 mm kleiner is en toe die hele voet gemeet. Ja ek het vergeet van die mm spasie wat die naald in beslag neem! Die voetjie was 1,5 cm breed en die helfte daarvan 7,5 mm. Nou kon ek ook patroonplaatvry werk en vierkante en reghoeke met my liniaal en rolsnyer tot 8 lae hoog sny.

In die duim sisteem geld die volgende:
Vierkante:   voeg 1/2 duim by
HST- Half Square Triangles (Dit is driehoeke waar 2 driehoeke uit 'n vierkant gesny word)- voeg 7/8 duim by
QST Quarter square triangles (4 driehoeke word uit 'n vierkant gesny word twee maal oorhoeks verdeel)- voeg 1en 1/4 duim by.

As jy dit uit teken of wiskundig bereken is die mates vir die desimale stelsel as volg:
Vierkante- voeg 1,5 cm by
HST - voeg 2,5 cm by
QST -voeg 3,5 cm by

Dit is belangrik om nie die twee sisteme uit te ruil nie. Moenie die vierkante in sentimeters gebruik en die driehoeke in duime en dan die pante kombineer nie.

Noodsaaklik: Die naattoelating wat jy byvoeg is die naattoelating wat jy moet stik.


Die manier waarop mens die materiaal gids bepaal wat jou naat toelating werklik is. As jy 'n spesiale kwartduim voetjie gebruik maar jy gids die materiaal so dat jy dit duidelik kan sien (dan steek daar 1 mm materiaal uit) stik jy nie 'n kwart duim naat toelating nie maar nader aan 7,5 mm. (Dit is hoekom Amerikaanse boeke van 'n "scant 1/4 inch" naat praat.

Naat toelating steek uit
Dieselfde geld as jy met die 1,5 cm voetjie gids moet die materiaal net gelyk aan die buiterand van die voetjie sigbaar wees en nie uit steek nie.
Korrek
Maak dit saak? Mense wat naat toelating foute maak sal dit nie agterkom as al die pantjies dieselfde is nie. Bv as jy net met vierkante werk raak die naat toelating onbelangrik. Dan is die enigste ding wat belangrik is: konstante handhawing van dieselfde naat toelating.


Die kleefstrook wat mens gebruik om spieëls vas te plak, is dik en bied 'n goeie gids om die materiaal voor die masjienvoet in die regte posisie te hou.

Noodsaaklik: Handhaaf deurgaans dieselde naat toelating.


Alles wat mooi is.


Marié

1 comment:

  1. Wonnerlike nuus dat jy nou 'n Afrikaanse blog ook het! Ek het gewonder hoekom jy so stil is op jou ander blog en toe vang my oog gisteraand hierdie een. Ek werk ook in sentimeters en my "duim" liniale is net vir klasse en reguit sny. :-) Ek geniet ook die uitwerk-en-sommemaak deel van patrone.

    Doe so voort en alles wat mooi is! Elma

    ReplyDelete