'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Tuesday, November 3, 2020

Windmeul Kwilt

Gereelde lesers van my blog weet al dat ek meer projekte begin as wat ek klaar maak. Op die oomblik het ek ook 'n hele paar handwerk projekte. Een daarvan is my Windmeul kwilt. Ek het nog nie daaroor geskryf nie en dit is nou amper klaar. Ek is nou al 'n jaar en 2 maande daarmee besig.

Ek het dit verlede jaar in Augustus begin voor ons na die Nasionale Kwiltfees in Johannesburg is. Net voor die fees besef ek dat my ander handprojek nie genoeg handwerk sou lewer vir die 10 dae wat ons weg is nie. Nie voordat ek weer sou moes merk en sny nie. Goed wat ek makliker in my naaldwerkkamer sou kon doen.

Dit was dus 'n maklike besluit om stroke te sny vir 'n nuwe projek en al die ligte stroke te merk. Dit is dan gekombineer met medium en donker stroke. Ek kon baie van hierdie stroke waarop driehoeke getrek was aan mekaar vas werk met my Las-Eers-sny-dan metode terwyl ons gery het. Saans as ons in die koffiekamer saam kuier het ek verder gewerk en as ek nie klasse gehad het of na die uitstallings gekyk het nie, het ek hieraan gewerk. So het ek baie fees herinneringe in die kwilt vas gewerk.

Ek het genoeg stroke saam geneem dat ek eers by die huis weer die merk en los sny werk gedoen het en die eenhede aan mekaar begin las het. Direhoek eenhede bied altyd 'n uitdaging as dit aan mekaar gewerk word. Daar is oral skerp puntjies wat moet skerp wees. As dit in 'n Windmeul gerangskik word, kom daar 8 puntjies by mekaar wat almal mooi skerp moet wees.





Toe ek so halfpad met die projek was, het ek 'n baie goeie plan gekry. Ek is nou al vir 3 jaar besig om te probeer mediteer en vind dit baie moeilik. Ek behoort aan 'n Facebook groep "Stitch Meditation" waar die mense die mooiste goed sonder enige beplanning werk- hoofsaaklik borduurwerk. Ek het al baie gedink hoe ek dit in my kreatiewe werk kan inkorporeer. Die besef het by my pos gevat dat ek hierdie laslapwerk van my met konsentrasie en gedagtes slegs gefokus op dit waarmee ek besig is, kan doen. Dit het die kwaliteit van my laswerk onmiddelik baie verbeter en ek het ook nuwe tegnieke (vir my) ontwikkel om die laswerk nog meer akkuraat te maak. Ek pluk ook die vrugte in my lewe van hierdie meditasie praktyk.

Pinterest

Die projek het ek die eerste keer in Pinterest gesien en dit is eintlik 'n miniatuur projek. Die patroon daarvoor is ook hier te kry. Ek het besluit om met dieselfde soort materiale te werk, drukstowwe met klein motiewe sodat die kleurwaarde nie versteur word nie. In 'n paar gevalle het ek wel ander materiale gebruik omdat ek nie nog van die soort materiaal gehad het nie- wat ook interessantheid aan die finale produk verleen.

Ek het 4 cm en 8 cm perspex driehoeke laat maak wat die merk van die eenhede baie vergemaklik het. Karton patroonplate raak pap van die potlood lyne wat so baie daarom getrek word en moet vervang word. Ek het stroke van 13,5 cm gesny en kon 4 blokke uit elke strook merk. Daar was 'n paar gevalle waar ek net drie blokke en 'n paar eenhede kon uit kry (party materiale is net smaller) en hierdie eenhede het ek in die rand gebruik.

Toe ek 50 blokke gemaak het, besef ek my kwilt het te veel blou in en te min groen, mostert en dowwe oranje. Ek het 120 blokke vir die kwilt nodig gehad en kon toe dadelik nog materiale kies om hierdie kleure aan te vul. 





Saturday, July 4, 2020

Corona Ster- 'n Tutoriaal

Hierdie blok (Rose star wat ons na Corona Ster herdoop het) is 'n lekker uitdaging. Nie net omdat die handwerk heelwat Y some het nie maar ook omdat die kleur en materiaal kombinasies verskillende effekte kan oplewer. As mens 'n groot kwilt maak hoef al die blokke nie dieselfde te lyk nie en maak dit nie saak as die blok nie uit gekom het soos jy gedink het dit sou nie. Tog help dit om van die lyn tekening (beskikbaar in die Facebook groep- Corona Ster) in te kleur met lig, medium en donker gedeeltes om jou 'n idee te gee hoe dit kan lyk. Soek ook op Pinterest na ander mense se voorbeelde.

Ek sal enige een aanraai om eers net een blok te maak. Dan verstaan mens die blok mooi en kry jy een effek. As jy besluit dat dit nie vir jou 'n lekker projek is nie, kan jy die blok op 'n sak vaswerk en so jou kuns adverteer waar jy jou sak ronddra.

Ek gaan verduidelik hoe ek dit doen en met foto's demonstreer. Ek sal ook 'n video op You Tube laai.. Ek bou my blok rondom 'n kaleidoskoop materiaal. Hierdie materiaal gebruik ek vir die 6 middelste pantjies. Ek gebruik ook die kleure in die materiaal om oor die ander materiale in my projek te besluit. My kaleidoskoop materiaal het dowwe kleure met vuil pink blomme daarin en olyfgroen takkies. Ek het ook bloue en gele in my lap versameling ingesluit.

Werkswyse
1. Ek begin met die laswerk van die 6 middelste vlieërs wat in 'n stapel van 6 identiese eenhede uitgesny is.


2. As jy pante merk hoef jy vir eers net twee pante te merk. Plaas 'n gemerkte pant op 'n ongemerkte pant.
3.Werk net op die naat lyntjie en nie in die naattoelating nie. Begin aan die buitekant met 'n dubbelsteek. Tel 3-4 stekies  op die naald trek dit deur, maak 'n agterstekie en tel weer 3-4 stekies op die naald.

4.Werk tot by die skerp punt- weer eens nie in die naat toelating nie en eindig met 'n dubbel steek. neem die naald na die agtertse pantjie.
5. Plaas die derde pantjie agter die gemerkte pant. Bring die naald vanaf die agterte pant na die nuwe pant en maak 'n stekie sodat die naald op die lyntjie van die gemerkte pant uitkom.
6. Die gemerkte pant is in die middel maar die twee buitenste pante is verbind. Dit verhoed dat daar 'n klein gaatjie reg in die middel ontstaan.
7. Werk  op die lyntjie op dieselfde wyse om die derde pant vas te werk. Eindig met 'n dubbel steek en werk so 3 stekies terug in die naat toelating.
8. Die patroonplaat word nou op die ongemerkte pante geplaas. Die lyntjie op die patroonplaat moet op die stekies wees. Merk dan die ander sye- eers deur die gleuwe en dan trek jy die patroonplaat af en verbind die merkies op die lap.
9. Herhaal die proses vir die ander drie pante. Jy het nou twee helftes. Speld die buiterand en die middel vas. Maak baie seker dat die middel speldjie presies op die plek is waar die drie pantjies by mekaar kom aan beide helftes.
10.Werk nou met stekies weer van buite na die middel. Maak seker dat steke op die voorste en agterste lyntjie is, deur die werk oor te vou nadat die naald ingesteek is. Eers as jy seker is dat die 3-4 stekies ook op die agterste lyn is trek jy die naald deur.
11. Maak 'n dubbelstekie in die middel maak seker dat dit die laaste steek aan die voor en agterkant is en trek dit goed styf.
12. Steek die naald deur die voorste pant, skuins na die agterste pant van die ander helfte. Bring dit na voor met 'n stekie na die ongewerkte lappie, maak 'n dubbel steek en trek styf. Nou is die middel goed geanker en presies by mekaar. Volg op met 3-4 stekies op die naald en maak seker dit is ook op die agtertse potlood lyntjie. Eindig met 'n dubbel steek en so 3 stekies terug gewerk in die naattoelating.
13. Die nate kan met die vingers plat gedruk word in een rigting of  versigtig gepars word sonder om dit te verrek.

Die middel is voltooi! Dit is so lekker om die verskillende kaleidoskoop effekte te sien. Heelwat gaan in die naattoelting verlore so dit lyk altyd anders as wat jy verwag het. Ek maak sommer 'n hele klomp hiervan net om lekker verras te word met die verskeidenheid van patrone wat hier ontstaan.

Ek hou daarvan as 'n ligte materiaal ook in die blok is en nie net buite om nie. Die "ring" wat om die middel pantjies gaan maak ek dan van 'n ligte materiaal. Party van myne het ek ook met 'n ligblou of ligpienk gemaak maar die meeste met 'n room kleurige agtergrond met fyn patroontjies op.

Ek sny 'n strook materiaal van 7.5 cm. Ek werk met 'n 60mm rolsnyer en kan met gemak 6 lae materiaal sny. Aangesien ek van 'n verskeidenheid materiale in my kwilt hou, kies ek twee ander ligte materiale waarvan ek ook 'n 7,5 cm materiaal strook sny. (Of stapel die drie materiale- elk dubbel gevou selfkante op mekaar- maak die bokant gelyk en sny gelyktydig die 7,5 cm strook af.


Ek plaas die 1/3 de heksagoon patroonplaat op die strook en sny teen die patroonplaat met die rolsnyer om die pant uit te sny. Verskuif die stapel stroke versigtig as jy dit moet draai om makliker te sny. Draai die patroonplaat om en sny die volgende stel pante uit. Daar kom 18 pante uit een strook so met hierdie 3 stroke het jy vir  9 blokke die pante gesny.

In die video wys ek verder hoe die blok voltooi word.

Met 'n kwilt soos dié wat ek net wil maak beplan ek later hoeveel blokke ek sal maak. 'n Enkelbed grote kwilt word verkry met 32 blokke en 6 halwe blokke. Dit sal voor rame  130 cm X 165 cm wees. Met 44 blokke en 8 halwe blokke in 'n rangskikking van 6 blokke in 'n ry sal 156 cm X 180 wees as jy dit meer vierkantig wil maak en 7 blokke in 'n ry sit sal dit 182 x 180 wees en 52 blokke en 8 halwes benodig.

Die blokke word nie voltooi met 1/3 heksagoon op die buiterand nie. Daar word 2 volle ligte heksagone aan elke blok gewerk. Die blokke pas dan soos 'n legkaart in mekaar, bietjie materiaal (wat andersinds in naattoelatings verlore sou gaan) word gespaar en heelwat werk met onnodige nate word gespaar. Aan die einde sal mens wel die blokke op die buiterand langs die sye en onder voltooi met die kleiner ligte pante.

Ek sal later ook ander maniere hoe die blokke gebruik kan word, wys. Begin eers met die middel gedeeltes, of maak eers net een blok.

Alles wat mooi is,
Marié

Friday, May 29, 2020

Kaleidoskoop in Materiaal

My Oupa het 'n koperkleurige Kaleidoskoop gehad. As klein dogtertjie was dit vir my 'n absolute magiese apparaat. Ek kon regtig vir lank daarmee sit en dit draai en draai. Ek weet nou nog hoe teleurgesteld ek was as die kaleidoskoop 'n patroon in net een of twee kleure vertoon het. Ek het aan hou draai tot ek by die multi kleur patrone gekom het en hulle dan een vir een bewonder. Dit is seker waar my liefde vir kleur vandaan kom. Dit is daar dat ek gesien het jy kan nie te veel kleure in een ontwerp hê nie en hoe meer kleure hoe mooier!

Ek speel al lankal met Kaleidoskoop effekte in my 8 puntsterre en het al 'n paar kwilts uit Sarah Nephew se boeke waar heksagoon ontwerpe  gebruik word, gemaak. One -block Wonders van Maxine Rosenthal het my nooit gemotiveer om een te maak nie- die feit dat ek nie self kon kleure byvoeg nie en moes werk met wat die een materiaal my gee, het dit nie uitdagend genoeg gemaak nie. Ek kon wel in haar boek en ook in Bethany Reynolds se boeke "Stack-n-Wack" leer hoe om vinnig en maklik my Kaleidoskoop pante uit te sny.

Ek het nie 'n Afrikaanse benaming vir "Fussy cut" nie. Dit is waar mense 'n spesifieke element uitsoek in die materiaal en dit uitsny. Dan soek jy verder na 'n identiese element en sny dit ook presies so uit, tot jy 5 of 6 van dieselfde het- soos jou patroon vereis. Nou is jou lap vol gate. As jy 'n tweede element soek word jy beperk deur jou vorige snitte. As die tweede element nie genoeg materiaal om dit het nie, omdat dit in die eerste rondte te naby daaraan gekom het, moet jy dit laat vaar. Op die ou einde sit jy met 'n baie stadige proses en 'n groot vermorsing van materiaal.



Geskikte materiale vir Kaleidoskoop patrone

STAPEL, SOEK EN SNY

Die proses kan bespoedig word deur identiese lae materiaal op mekaar te STAPEL. Die patroon wat op die materiaal gedruk word word meestal elke 60 cm herhaal maar soms ook elke 30 cm. Om 6 herhalings te kry benodig jy dus 1,8m- 3,6 m afhangende van hoe groot 'n enkele deel is. Die patroon word ook  oor die breedte herhaal daar is soms klein verskille en dit is ook nie reg langsaan nie maar 'n bietjie op geskuif. Deur daardie herhalings ook te gebruik kan mens  wegkom met net 1,8 meter. (Die presises lengte word deur die hoogte van die herhaling bepaal.)

Vir 'n groot projek waar jy baie van die materiaal in 'n kaleidoskoop gaan gebruik benodig jy 3,6m. (Vir my LaPasagaclia  (Willyne Hammerstein se Millefiori boek) het ek die kaleidoskoop in verskeie aspekte van die sirkel ontwerpe gebruik en het die hele stuk op gebruik en moes nog by koop)

Materiaal waar die patroon dig op mekaar is, kan amper teen mekaar uit gesny word. As die patroon yler is moet jy ideale gedeeltes soek. Dan verloor jy baie materiaal. Om in die soektog te help het jy twee goed nodig.

As jy 'n vensterpatroonplaat maak, kan jy dit oor die materiaal skuif om moontlike gedeeltes van die materiaal te identifiseer.
Met twee spieeltjies wat aan die eenkant vas is en soos 'n boek kan oopvou kan jy sien of 'n gedeelte van die patroon vir jou 'n mooi kaleidoskoop effek gaan gee. Dit werk goed met simmetriese motiewe- andersinds gee dit vir jou 'n spieëlbeeld wat ook help, maar nie die ware voorkoms vertoon nie.

Twee spieëls gee 'n aanduiding of 'n mooi effek verkry sal word.
Die elemente wat ek gebruik is dikwels nie staties nie. Ek sal 'n groot blom opsny in drie pante om verskillende effekte te lewer. Ek hou van die verassing as mens die pante afpak en die ontwerp voor jou verskein- net soos met my Oupa se kaleidoskoop.

Daar is so baie plekke waar mens 'n Kaleidoskoop in jou Laslapwerk kan gebruik. Willyne Hammerstein het al haar 4 de Millefiori boek uit gegee en oral gebruik sy die Kaleidoskoop effek.Nou vir die soektog na die regte materiaal.

Die groot lekkerte van so 'n materiaal in jou projek is dat dit die blokke of elemente saam bind. Dit gee ook vir jou die  kleurpalet waarin jy kan werk en mens soek dan net ligter en donkerder skakerings van die kleure in die kaleidoskoop lap om in die projek te gebruik. Jou kwilt vorm outomaties 'n samehorige geheel.

Wil jy deelneem aan die Corona Ster projek waar ons ook hierdie Kaleidoskoop effek gaan gebruik? Sluit aan bydie Corona Ster Facebook groep:
https://www.facebook.com/groups/244744929929209/

Alles wat mooi is en Kaleidoskope in het vir jou,
Marié

Tuesday, May 26, 2020

Kom ons doen Hand laslapwerk

Ek wil so graag hê meer mense moet laslapwerk met die hand doen. Dit is so lekker om saam te sit en werk. Mens kan handwerk oral met jou saam neem, waar jy wag kan jy werk. In geselskap, by die Televisie en op 'n motor reis kan jy aan jou hand projek werk. Ek voltooi jaarliks 'n hand gelaste kwilt en dit meestal in wat andersinds vermorste tyd sou wees.

Ek is tans besig met 'n Rose Star projek en het gewonder of daar nie mense is wat saam met my aan hierdie projek wil werk nie? Oorspronklik is die patroon uit "vlieër " (Kite) eenhede opgebou. As jy dieselfde materiaal herhaal en nie noodwendig 'n kaleidoskoop effek wil kry nie kan jy ook 'n volle heksagoon en 'n derde Heksagoon patroon saam met die Vlieër gebruik om die blok te bou.

2 Vlieërs saam vorm 'n derde van 'n Heksagoon
As jy nie 'n Kaleidoskoop effek in die middel met 6 Vlieërs wil vorm nie, kan dit met 'n Heksagoon vervang word.
Ek het .my projek begin met 'n materiaal wat mooi motiewe op het (nie te groot nie) van verskillende vorms en kleure is en 'n spesifieke kleur palet dikteer. Met hierdie materiaal kan ek interessante kaleidoskoop effekte in die middel van die blok kry. Ek gebruik ook die materiaal om die ander lappies te kies. Die blok leen hom daartoe om op verskillende maniere ingekleur te word.
Eksperimenteer deur lig , medium en donker op verskillende plekke te plaas.
Ek het 'n Facebook Groep(Corona Ster) begin waarby almal wat saam aan die projek wil werk kan aansluit. Ek sal die patroonplate drukstuk in die "File" gedeelte kan plaas. Ek sal ook sekere tegnieke beskryf en dit hier op my blog verduidelik of ook in die Facebook groep beskikbaar maak. Ek het 'n stel patroonplate van Perspex laat maak en dit werk baie lekker. Die patroonplate sal by Thimbles, 'n kwiltwinkel in Durbanville beskikbaar wees.

Geskikte materiale om vir die kaleidoskoop effek te gebruik is ook by Thimbles, by Fabric Contessa in die Paarl en by Country Quilting in Villiersdorp beskikbaar. Al die winkels verskaf 'n posbestellings of courier diens.

Ek hou daarvan om my pante so te sny dat die element beweging aandui en nie byvoorbeeld 'n statiese blommetjie is nie. Kyk na My La Paz kwilt hoe ek die 5 diamante se kaleidoskoop effek aan gepak het.

Onthou wanneer jy die pante uitsny dat daar dele in die naattoelating verlore gaan. Hier sou ek daarby gebaat het om die Kite patroonplaat bietjie op te skuif want die blom sit vas gedruk nadat dit vas gewerk is. Hier is nog 'npaar voorbeelde van die effek wat mens kan kry.



Al het jy die motief te hoog of te laag op die pantjie, jy kry verskillende effekte en almal is goed genoeg om te gebruik!

Ek nooi jou om by die Facebook groep aan te sluit en saam te werk om jou eie Corona ster en meer van hulle te maak.
https://www.facebook.com/groups/244744929929209/

Alles wat mooi is

Marié


Wednesday, May 13, 2020

'n Ongeluk en daarna

Ek kan nie op my blog skryf en 'n deel van my lewe net weg laat nie. Die blog is eintlik 'n dagboek vir myself. Almal wat nou in geperk is en nie deel van die noodsaaklike werkmag uit maak nie, sal goed verstaan as ek my tyd na die ongeluk ook as 'n inperking beskou.

Op 4 Februarie het ek oor die pad voor my huis gestap soos ek elke dag meer as een keer doen. My kar was gepak reg om plaas toe te ry, tot die katjies was in die kar. Ek het die groot Fortuner/of bakkie in die systraat gesien, maar aangesien ek 10 m weg was en die kar doodstil gestaan het, het ek geweet ek kan dit nog veilig oor die pad maak.

Die volgende oomblik het skreeuende bande my aandag getrek en toe ek na regs kyk storm die motor teen 'n hoë spoed op my af. Ek gil: "Waarom wil jy my dood maak, ek het niks verkeerd gedoen nie" en die volgende oomblik tref die motor my teen my knie, vergruis dit en laat my in die rondte tol. Ek beland op my arm, breek my bo-arm en dislokeer dit, breek die twee voorarm bene en sny my duim tendon af, wat ek eers 4 weke later uitvind.

Op daardie stadium is ek nie bewus van die erns van my beserings nie en is net gefokus op die 8 myle wat ek beplan het om weer die volgende naweek by Midmar Dam te swem. My bure is dadelik by. Fanie bel eers die dokters van Melkbos en probeer dan die nooddienste. Ek dink nog as ek so bietjie sit sal ek kan opstaan, maar toe ek die meter uit die pad na die sypaadjie skuif besef ek dat die seer nie sommer gaan weg gaan nie. 'n Verbyganger beveel ys aan en my buurvrou Elsa bring dit- wat geweldig baie help.

Intussen kry Fanie die brandweer in die hande, Elsa verlos die katjies uit die kar en ek laat my suster weet dat ons Midmar naweek letterlik in die wiele gery is. Die brandweer se personeel is net gereed om spalke aan te sit toe die nooddienste opdaag. Hulle neem my bloeddruk en spuit eers morfien vir die pyn. (Dit help ongelukkig nie tot eers 3 uur later toe dit my laat slaap.)

Ek word na Netcare Blaauwberg Hospitaal geneem en Dr Gerrieda Herbst, 'n susterskind en spesialis by die hospitaal oorsien die uitslag van die plate en verwys my na die beste arm en knie spesialis en maak ook seker dat 'n internis Dr Kim Barnard na my kyk. (Daar is ook 'n ribbesering met effense long defek wat hulle laat besluit om my in ICU op te neem.)

My arm word drie dae later deur Dr Mackerdhuj opereer, die hand en voorarm is in 'n spalk. Die swelsel in my been moet eers sak waarna dr Van Bornman die operasie 'n week na die ongeluk kan uitvoer. Ek is vir 2 weke "ingeperk" in 'n bed en is vir elke ding afhanklik van die personeel en my besoekers. Tot my selfoon kan ek nie gelaai kry as iemand my nie help nie.

Ek probeer in die hospitaal my geliefde handlaswerk doen. Dit is pynlik en so 'n groot gesukkel dat ek dit vir eers laat vaar. Ek is afhanklik van pyn medikasie wat my konsentrasie vlak beperk en my ook baie laat slaap. Na twee weke kan ek na Nurture Cape View gaan om my rehabilitasie verder te voer. Ek leer om van die bed na die rolstoel na die toilet te verplaas en dit is vir my 'n reuse vooruitgang. Bietjie onafhanklikheid waar dit regtig saak maak!

Ek werk bietjie aan elemente van my "crosses" kwilt. Dit is 'n moeilike en tydsame proses, maar ek kry darem iets uit gerig.

Hier kry ek daagliks fisioterapie en die arbeidsterapeut maak seker dat ek leer om met een hand klere oor my kop te trek en in die badkamer, met hulp, myself te was. Ek ontdek ook dat my duim nie agteroor kan buig nie en dit lei tot 'n verdere operasie . Gelukkig net een dag in en uit die hospitaal. My duim is in 'n spalk wat handlaswerk verder onmoontlik maak.
So lekker om na 2 weke se skeiding weer my kleinkinders te sien
Na twee weke kom my sussie Carla my van die hospitaal omgewing verlos. Ek word baie by haar bederf. Elke oggend word ek gestort, kos word aan gedra en ek het geen huis take nie. Sy is 'n fisioterapeut en oefen is elke dag op die program. Marijke. Pat en Marelize kom verras my met 'n kwilt wat 'n klomp Laslapvriendinne vir my gemaak het en wat Irene Voster gekwilt het.



Middel Maart kan ek begin om te staan en met 'n kruk vir kort endjies te beweeg. Ek mag slegs 50 % gewig op die regterbeen dra. Ek sien wel die naweek op Melkbos dat ek met die masjien kan stik!

Toe die inperking af gekondig word, word my tyd by Carla en Gert kort geknip. Alhoewel 'n week se Fisioterapie nog goed sou wees, wil ek nie nog 3 weke daar bly nie.

Ek kom plaas toe waar die werklikheid om sonder hulp klaar te kom, my inwag. Soggens gaan Stephanus boer. Ek kan net was by die wasbak, moet alleen aantrek en self ontbyt maak. Ons mag op die plaas rond beweeg en ek gaan my dogter help met haar kinders, maar is in die begin maar eintlik 'n nul op die kontrak. Saans braai Stephanus en ek maak met 'n groot gesukkel slaai want die linkerhand kan nie lekker sny nie en my regterhand is in die spalk. (Vir meeste take is jou duim noodsaaklik so alhoewel my ander vingers oop is, is daar min wat ek met die hand kan doen.)

Ek kan nou wel laswerk doen met die masjien. Die rolsnyer wat op 'n liniaal monteer is, wat ek wou gebruik sny treurig en my linkerhand moet vinnig leer om hierdie werk oor te neem. Dit gaan maar met 'n gesukkel en onakkuraatheid gepaard. Ek neem deel aan Edyta Sitar se "Lock Down Mystery," alhoewel ek eintlik 'n klomp halfklaar goed ingepak het om aan te werk.

Sy het die heeltyd in haar instruksies gesê dat mens dit nie aan mekaar moet werk nie. Ek het toe gedink dat sy dalk op die ou einde 'n ander uitleg sou doen en het die blokke in EQ geteken en met verskillende uitlegte gespeel.

Uiteindelik het ek dit op hierdie weergawe aan mekaar gewerk.

Ek voltooi ook nog 'n kwilt deur Edyta Sitar ontwerp, Sew in Love. Ek het reeds 37 van die 49 blokke gemaak en in 5 seksies vas gestik. Ek wyk van haar patroon af. Ek sien 'n baie mooi blok, My Favourite star, wat vir my meer soos 'n blom lyk en maak 8 daarvan.


Ek maak ook 4 hart blokke om by die tema te pas.   Ek voltooi die kwilt met twee foute! As ek die twee blokke in hul regte oriëntasie gestik het, sal ek 'n geskikte raam beplan- ek het so 'n idee of twee!

My hand kan aan die einde van April uit die spalk kom en dit is duidelik dat ek Arbeids en Fisioterapie vir my hand en arm dringend benodig. Ek kan nou self bestuur en moet Melkbos toe om die nodige terapie te kry. Dit is so jammer dat ek nie in die water kan kom in die inperkings tyd nie, dit sou baie help om my rehabilitasie te versnel.

Ek is dankbaar dat ek nou weer handwerk kan doen. Toe ek nie kon nie, het ek gehekel. As mens eers gewoond is om met handwerk besig te wees, kan jy nie net sit nie!

Alles wat mooi is en kyk goed voor julle oor die pad loop!

Marié