'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Sunday, July 15, 2012

Alle kwilts is nie suksesvol nie

Ek eksperimenteer graag. Dit beteken dat ek nie altyd die uitkoms kan voorspel nie. Soms is die eindproduk onsuksesvol. Dit beteken nie dat dit nutteloos was of 'n Flop is nie. Ek leer baie tydens so 'n "onsuksesvolle" kwilt. Dikwels is die les wat om nie te doen nie.

Ek wou die kwilt in meer moderne materiale doen. Die uitslag het net weer eens vir my bevestig dat besige materiale nie vir kwilts met sterre en fyn skerp puntjies gebruik moet word nie- julle is welkom om  my verkeerd te bewys

Ek het 'n klas in Quick strip  paper piecing op die webwerf "Craftsy" gedoen. Ek het gelukkig nie soos gewoonlik die moeilikste ontwerp gekies en my eie idees tussen in gegooi nie. Ek het presies soos die instruksies gemaak behalwe: Ek het nie die patrone uit gedruk nie- ek het een patroon gedruk en toe dit bo-op 'n stapeltjie van  12 papiere gesit. Ek het met 'n naald sonder garing op al die lyne gestik. Die voordeel is dat mens ook aan die materiaal kant die lyne kan sien.

Die eerste keer wat ek aan "Paper based piecing" blootgestel is, is daar gedemonstreer dat dit op deursigtige papier afgetrek word sodat mens aan albei kante die lyne kan sien.

Die groot nadeel van "Paper based piecing" is om die papier agterna te verwyder. Daarom verkies ek om nie deur die papier te stik nie, op "freezer paper" te werk en die materiaal daarop vas te stryk. Ek vou dan die papier weg en stik langs die vou.

Die strook metode wat in hierdie klas gebruik word, is egter baie nuttig en het die tydsame proses wat "Paper based piecing" gewoonlik is, baie bespoedig.

In die klas word daar stap vir stap van eenvoudige patrone na meer ingewikkelde ontwerpe beweeg. Ek kan regtig die klas aan beveel. Vir die prys van een klas kan 5-7 kwilts van verskillende patrone gemaak word.

Mag al julle kwilts mooi en suksesvol wees.
MariƩ

No comments:

Post a Comment