'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Woensdag 07 Oktober 2026

 Liewe Kwilt Vriendinne

Die spreekwoord: Hoogmoed kom tot 'n val, het vir my waar geword. Ek wat altyd so roem op my wiskundige vermoëns het met foutiewe berekeninge, 'n maand se werk tot niet gemaak.

Ek was eintlik besig om aan 'n paar projekte met afval lappies te werk. Terwyl ek weer my driehoek kwilt se inspirasie op gesoek het, het twee ander kwilts wat ek al lankal bewonder, sommer so voor my ingespring.

Mosaic Coverlet
Die Mosaiek kwilt in die Britse Quilt Museum in York het eerste my aandag getrek. Dit het goed ingepas met my plan om oortollige ses punt ster blokke en Baby blocks van 'n ander projek te verwerk. Hoe meer ek die kwilt bestudeer het, hoe meer het die gedagte pos gevat om liewer 'n reproduksie van hierdie kwilt te maak. Ek het die middel goed bekyk: Die Britse Quilt Museum stel mens in staat om op 'n gedeelte van die kwilt in te Zoom sodat mens die detail beter kan sien. Wat op die oog af na gelyksydige driehoekies lyk- is toe eintlik groter heksagoon blokkies wat uit 6 gelyksydige driehoeke op gebou is. Reg in die middel is 'n heksagoon blokkie wat deur diamante en driehoeke omring word. Dan volg 'n klomp heksagone op gebou uit driehoeke- dan Baby blocks daar rondom. Onder en bo is panele van 6 punt sterre en langs die twee sye, panele met Baby blocks.

Hierdie kwilt vereis dat ek deur my versameling lappies delf vir net die regte lappie. Ons hou Retreat by Marinda De Wet van Country Quilting en ek kan my versameling van regte lappies aanvul. Gou besef ek dit kan nie 'n saam dra projek wees nie, want ek moet die oorspronklike heeltyd bestudeer. en die regte lappies soek.  Ek kon wel lappies vir die 6 punt sterre knip.
Die middel van my Mosaiek reproduksie

Ek sou op 'n twee week vakansie vertrek na Alaë Grabe in Clarens. Ons sou saam Izotcha bywoon en dan die Fibre Festival in die Drakensberge. Terstond besluit ek om die Billings Coverlet- wat ek al lankal bewonder, aan te durf. Ek het Karen Styles se Mrs Billings patroon en ook 'n QuiltMania boek wat dieselfde kwilt, as die Hereford Kwilt, as patroon het. Nie een van hierdie twee weergawes het die verlengde heksagoon op die buiterand nie, maar net gewone heksagone.
Billings Coverlet
Ek is nou al goed vertroud om antieke kwilts te reproduseer- dit sal my 5de reproduksie wees. My eerste fout was om die kwilt op die skerm te meet. (Daarna meet ek die kwilt voor elke volgende randpatroon)
My tweede fout was dat ek die verkeerde heksagoon blok uit EQ 8 se biblioteek gelaai het. My derde fout was dat ek nie mooi getel en gemeet het nie. Die laaste fout was dat ek oorhaastig die patroonplaat laat maak het en nie toe eers 'n toets blok gemaak het nie.

Ek val dadelik weg om ongebleikte linne as agtergrond materiaal op te sny. Toe volg die  soektog na die 12 geskikte materiale vir die buiterand van die haksagoon piramide. Ek werk tydens my toer en vakansie saam met Alaë hieraan en ook die laaste twee weke by die huis.

Ja ek het by die buiterand begin- dit op sig self is nie die probleem nie. Die probleem is dat my heksagoon (ses kantig maar nie gelykhoekig en gelyksydig nie) te groot was.
Gister besluit ek om ook in die middel te begin, maar wil net weer my mates na gaan. Toe ek die voltooide rand meet is dit 21 cm breed en nie 15 cm soos my aanvanklike mates was nie!

Ek begin toe maar voor en druk 'n foto van die kwilt uit. Ek herhaal die hele prose van vooraf en tik die mates in 'n Xcel sprei blad. Die kwilt is 215 cm as dit voltooi is en dit is dan 'n verhouding som wat excel so maklik kan maak. Ek het tyd en beplan die kwilt, rand vir rand. Ek druk ook op skaal 'n gedeelte van elke rand sodat ek my voltooide werk kan monitor.

Nou sal ek maar druip stert in die middel begin terwyl ek besluit op die buiterand. Ek het verskeie opsies. Ek kan die pante wat ek nog nie gewerk het nie, kleiner sny sodra ek my nuwe patroonplaat het. Alternatiewelik kan ek net minder eenhede in die rand sit en dan wel hierdie rand gebruik. Dit sal afbreek doen aan my plan om so na as moontlik 'n getroue weergawe van die oorspronklike te maak.

Ek kan ook die foutiewe mate gebruik en aan pas om 'n groter kwilt te maak en dan miskien my eie rand patrone gebruik. Vir eers begin ek in die middel met my tweede poging. Ek het darem uit my fout geleer. Dit is defnitief nie die laaste reproduksie wat ek maak nie. Dit is ook altyd goeie praktyk om 'n toets blok te maak voor mens die lap sny vir 'n hele kwilt. Ek doen dit selde want ek is altyd ywerig om 'n nuwe kwilt te begin. Dit is na 44 jaar as kwilter, 'n goeie les vir my. ( Ek eet die "Humble Pie" maar teësinnig.)

Nou ja laat ek aan die werk spring! Die eerste taak is die regte materiaal vir die middel- ag hoe lekker!

Mag jul projekte ook meer plesier as moeilikheid gee. (En speel maar klaar met die moeilikheid soos Langenhoven voorstel: jou swaar kry met lekker kry, klaar te kry. )

Alles wat mooi is.

Laslapgroete,

Marié



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking