'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.
Wys tans plasings met die etiket Las-eers-sny-dan. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Las-eers-sny-dan. Wys alle plasings

Dinsdag 03 November 2020

Windmeul Kwilt

Gereelde lesers van my blog weet al dat ek meer projekte begin as wat ek klaar maak. Op die oomblik het ek ook 'n hele paar handwerk projekte. Een daarvan is my Windmeul kwilt. Ek het nog nie daaroor geskryf nie en dit is nou amper klaar. Ek is nou al 'n jaar en 2 maande daarmee besig.

Ek het dit verlede jaar in Augustus begin voor ons na die Nasionale Kwiltfees in Johannesburg is. Net voor die fees besef ek dat my ander handprojek nie genoeg handwerk sou lewer vir die 10 dae wat ons weg is nie. Nie voordat ek weer sou moes merk en sny nie. Goed wat ek makliker in my naaldwerkkamer sou kon doen.

Dit was dus 'n maklike besluit om stroke te sny vir 'n nuwe projek en al die ligte stroke te merk. Dit is dan gekombineer met medium en donker stroke. Ek kon baie van hierdie stroke waarop driehoeke getrek was aan mekaar vas werk met my Las-Eers-sny-dan metode terwyl ons gery het. Saans as ons in die koffiekamer saam kuier het ek verder gewerk en as ek nie klasse gehad het of na die uitstallings gekyk het nie, het ek hieraan gewerk. So het ek baie fees herinneringe in die kwilt vas gewerk.

Ek het genoeg stroke saam geneem dat ek eers by die huis weer die merk en los sny werk gedoen het en die eenhede aan mekaar begin las het. Direhoek eenhede bied altyd 'n uitdaging as dit aan mekaar gewerk word. Daar is oral skerp puntjies wat moet skerp wees. As dit in 'n Windmeul gerangskik word, kom daar 8 puntjies by mekaar wat almal mooi skerp moet wees.





Toe ek so halfpad met die projek was, het ek 'n baie goeie plan gekry. Ek is nou al vir 3 jaar besig om te probeer mediteer en vind dit baie moeilik. Ek behoort aan 'n Facebook groep "Stitch Meditation" waar die mense die mooiste goed sonder enige beplanning werk- hoofsaaklik borduurwerk. Ek het al baie gedink hoe ek dit in my kreatiewe werk kan inkorporeer. Die besef het by my pos gevat dat ek hierdie laslapwerk van my met konsentrasie en gedagtes slegs gefokus op dit waarmee ek besig is, kan doen. Dit het die kwaliteit van my laswerk onmiddelik baie verbeter en ek het ook nuwe tegnieke (vir my) ontwikkel om die laswerk nog meer akkuraat te maak. Ek pluk ook die vrugte in my lewe van hierdie meditasie praktyk.

Pinterest

Die projek het ek die eerste keer in Pinterest gesien en dit is eintlik 'n miniatuur projek. Die patroon daarvoor is ook hier te kry. Ek het besluit om met dieselfde soort materiale te werk, drukstowwe met klein motiewe sodat die kleurwaarde nie versteur word nie. In 'n paar gevalle het ek wel ander materiale gebruik omdat ek nie nog van die soort materiaal gehad het nie- wat ook interessantheid aan die finale produk verleen.

Ek het 4 cm en 8 cm perspex driehoeke laat maak wat die merk van die eenhede baie vergemaklik het. Karton patroonplate raak pap van die potlood lyne wat so baie daarom getrek word en moet vervang word. Ek het stroke van 13,5 cm gesny en kon 4 blokke uit elke strook merk. Daar was 'n paar gevalle waar ek net drie blokke en 'n paar eenhede kon uit kry (party materiale is net smaller) en hierdie eenhede het ek in die rand gebruik.

Toe ek 50 blokke gemaak het, besef ek my kwilt het te veel blou in en te min groen, mostert en dowwe oranje. Ek het 120 blokke vir die kwilt nodig gehad en kon toe dadelik nog materiale kies om hierdie kleure aan te vul. 





Maandag 15 April 2013

Handlas in Bloem

Mense is dikwels verbaas om te sien dat ek, 'n masjien kwilter, hand laswerk doen. As ek hulle dan vertel dat ek omtrent 1 kwilt per jaar met die hand maak is hulle nog meer verbaas. Hand laswerk is baie "vervoerbaar". Ek het baie oninteressante dae langs my kinders se netbal bane met my laswerk verwyl.

Die wonderlike is ook dat herinneringe aan die verskillende projekte vas geknoop is. As ek na my Liberty projek kyk onthou ek die paar dae in Mainz. Ek was op 'n wyn skou om ons wyn (Middelpos) te probeer verkoop. Ek het bietjie gaan stap en niks vermoedend langs die moderne hoofweg af gestap. Ek is by 'n groot afdelings winkel in om wol onderklere te gaan soek. Toe ek by die winkel se agterdeur uitloop was dit soos om in 'n ander wêreld te beland. Ek het regtig soos Alice in Wonderland gevoel.

Hier was keisteen straatjies met ou wêreldse winkeltjies. Vol verwondering het ek in die straatjie gestap en alles in gedrink. Toe ek daarna in my hotel kamer aan my hand projek werk het ek hierdie verwondering vir ewig in die kwilt vas gewerk.

Ek vertel in my Engelse blog hoe ek 'n vinnige handlas metode ontwikkel het. (Regs kliek op die verligte woorde en kliek op "Open in a new tab". Dan kan u daar meer lees en weer terug kom na hierdie skrywe).

Tydens Bloemfontein se Nasionale Fees bied ek op 3 Julie 'n handlas klas aan. In die klas gaan die vinnige handlas metode toegepas word om 'n Feathered Star te maak. 'n Ster met die hand is maklik. Wanneer dit met die masjien gemaak word moet mens die Y nate afsonderlik stik wat tydrowend is. (Mens stik eers, speld dan die volgende naat in posisie en stik dit dan vas) Met handwerk werk mens net die een sy vas, herposisioneer vir die volgende sy en gaan aan om die sy vas te werk.

As 'n mens sulke klein driehoekies moet vas werk behels masjien werk dat mens noukeurig moet speld om te verseker dat die hoekies mooi skerp is. Aangesien die puntjie dikwels deur 'n naattoelating toe gevou word kan mens foute maak en moet jy uittrek en weer oor speld. Met handwerk speld jy ook, maar jy sit in 'n gerieflike stoel (as jy by jou huis aan jou handprojekte werk) en vou die naattoelatings weg om presies korrek te kan werk- so geen uittrek is nodig nie.

Daar is 'n plek vir hand en masjien werk. Ongelukkig het baie kwilters se handlaswerk by heksagone begin en geeindig. Appliekwerk word dikwels met die hand gedoen en die handwerk entoesiaste kan gerus die vaardigheid om met die hand te las ook aan leer.

Ek wil graag my vinnige metode wat handwerk bespoedig, met julle deel. Die metode behels dat eers net die een stel lappies gemerk word. Die patroonplaat word dan na die eerste sy vas gewerk is, op die naatjie van die ander lappie geplaas om die ander sye te merk. Laspante word ook eers agterna los gesny wat die verlore raak van laspantjies beperk. (Ek noem my metode LAS- EERS-SNY-DAN.) Wanneer die individuele pante gesny word, word die rolsnyer gebruik en word 2 lae gelyktydig gesny. Dit is alles dinge wat die handlaswerk bespoedig en dit moontlik maak om kwilts vinniger met die hand te las. (Vinniger werk se voordeel is dat jy meer kwilts in dieselfde tyd kan maak- ons kry nie meer tyd nie en moet die tyd wat ons het effektief benut)
Tydens die Fynbos Wegbreek in Riebeek Kasteel het 14 entoesiastiese kwilters hierdie muurbehangsel aan gepak. As jy 'n nuwe vaardigheid wil leer en hand laswerk deel van jou repertoire wil maak, dan sien ek jou op 3 Julie in Bloemfontein.