'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Maandag 13 Januarie 2025

Nuwejaars voornemens

Ek bruik graag die Nuwe Jaar om 'n nuwe blaadjie om te slaan. Navorsing bewys glo dat slegs 'n handjievol mense by hul voornemens hou. Ek het darem nie te sleg gevaar in 2024 nie. Ek het 'n kalender by ORM's laat druk met 13 kwilts wat ek in 2024 voltooi het. Alhoewel een of twee nog gekwilt moet word, is die ander klaar. Nie net klaar gekwilt nie! Die etiket is aan en die omboorsel is vas gewerk- iets wat my soms tot 'n jaar kan neem. (Nou ja ek moet bieg daar is nog so 'n paar wat nie klaar-klaar is nie! Daarvoor is daar gelukkig 2025)
My skoonseun sê ek moet vir my spertye stel. Dis iets wat my kwilt vriendin Ronél Pistorius baie gemaklik reg kry. Vir my brein werk spertye nie. Dis nie dat ek doelloos dobber nie. Ek het planne van watter kwilts ek wanneer wil aanpak. Ek vind net dat ek moeilik bepaal hoeveel werk daar nog oor is. Handwerk vat ook altyd langer as mens gedink het, so dis nie so maklik om realistiese spertye te stel nie. Ek funksioneer ook beter as ek 'n wortel voor my neus het. Ek bruik een kwilt waaraan ek lekker werk en wat my opgewonde maak om my energie te gee om die minder lekker projek ook uit te voer.
                                                  Crysalis my "wortel" kwilt. 

Een van my minder lekker projekte is my Stars upon Stars kwilt. Ek geniet dit steeds om daaraan te werk maar dit is 'n tydrowende presiesie kwilt. Ek het die nuwe jaar gebruik om twee sterre wat al vir 6 maande halfpad en onaangeraak en hul boksie gelê het, aan te pak. Ek werk ook aan die klein sterretjies wat rondom die sterre gaan en het al twee stelle voltooi.
Ek is met vakansie op Buffelsbaai waar ek tot middel van Februarie gaan bly. Meeste van my kinders en kleinkinders is huis toe. Tussen kuier met hulle en swem in die riviermond het ek nie so baie uit gerig nie, maar my prioriteit was by hulle. Daar is nog net een klein kleinkind (en haar ouers) en sy weet reeds om nie met Ouma se skêr en speldjies te peuter nie.
Voltooide sterre

 

Ek het materiaal vir nog 3 sterre en nog 5 stelle kleiner sterretjies gebring. As ek elke week 'n ster en 'n stel sterretjies voltooi sal ek dit reg kry om alles te voltooi voor ek huis toe gaan. Die materiaal stroke moet nog gemerk word voor ek dit kan werk- so die voorbereidings werk moet ook nog gedoen word. 



By elke ster is daar 2 opsies. Keuses, keuses, keuses! 

Hoop jou 2025 is ook vol planne en doelwitte en miskien spertye? 
(Kunsmatige Intelligensie het my forseer om hierdie blog 2 maal oor te skryf. Ek hoop nie daar het nog 'n snaakse sin agter gebly nie)

Alles wat mooi is vir 2025.

Marié

Sondag 07 November 2021

Nog Mosaiëk

 Die afgelope twee maande het ek aan die buiterand eenhede spandeer. Eers het ek net op die 4 hoeke gekonsentreer, toe het ek die 4 blokke van die bo en onder sy gedoen en daarna die 4 blokke aan die sye.

'n Sykant eenheid met die volgende stap.

Ek het nie genoeg van die helderblou gehad nie maar gelukkig 'n baie soortgelyke materiaal, wat ek toe by die sykante gebruik het. My volgende stap was om die klein "Grandmothers Flower" agtergrond eenhede voor te berei en in die korrekte oriëntasies in te las. Ek het besef om groot stukke agtergrond heksagone wat almal dieselfde is aan mekaar te las, sou vir my net te siel dodend wees. 



Op my skets in EQ8 kon ek mooi sien waar ek met die agtergrond kon speel. Ek het baie gesukkel om die regte liggroen materiaal in my lap versameling te vind. Alhoewel dit radikaal in voorkoms van die agtergrond materiaal verskil vorm dit nie 'n kontras met die agtergrond nie en sal mens na aan die kwilt moet wees om die rosette van die agtergrond te onderskei.

Die voorbereide hoek met die agtergrond lappies asook die groen en donker rand.
Die lappie in die middel van die rosette het al die kleure wat in die kwilt is daarin maar omdat dit ook op 'n ligte agtergrond is, is dit net 'n spatsel kleur in die agtergrond.

Die vierhoeke is voltooi met die groen en donker rand om. Die buiterand moet nog gemaak word. Die eenhede daarvoor is al gemaak. Ek het nou begin om die bo en onder rand te maak.

Net die rand gedeelte

Die rosette in gespeld

My agtergrond materiaal wat wit met 'n vuilgroen drukwerk daarop is, is baie min. Ek kan nie iets anders in die middel van die kwilt gebruik nie- dit gaan nie reg lyk nie, maar ek kan die groter gedeeltes in die buiterand met halwe GMFG in vul in die ligte groen materiaal. Dit is altyd voordelig om in eenhede te werk. Dit kan mens gemaklik in geselskap sit en doen. Ek tel gewoonlik hoeveel ek benodig en maak dan daardie hoeveelheid. 

Vir die rand het ek het eers 'n sak vol donker heksagone 2-2 aan mekaar gewerk, so ook met die groen en die agtergrond. Dit kon ek ook in geselskap doen of waar ek gemaklik op die bank gesit het.

Toe ek die donker rand aan mekaar werk, was dit makliker om by 'n tafel te sit. Met die hoeke moes ek ook onthou om twee identiese eenhede en twee spieëlbeelde te maak. Ek het een hoek gemaak en dit toe as "patroon" gebruik om die ander hoeke te maak. Die spieëlbeelde het ek onderste bo gemaak. Ek kon maklik die groot eenhede op die tafel uitsprei om dit as gids vir die ander eenhede te gebruik. Die lappies wat 2-2 aan mekaar gewerk was, het die laswerk by die tafel bespoedig. Dit was maklik om hierdie eenhede net in die regte oriëntasie te draai en vas te werk om die rand wat in verskillende rigtings krul te maak.

Ek maak die buiterand se agtergrond ook net 'n bietjie interessanter om te las

Gisteraand moes ek eers hierdie GHFG maak,want ek het nie genoeg vir die rand gehad nie. Vir my is dit soos saad saai. Die klein eenhede lyk na niks maar dan is dit gereed om in die groter geheel in te gaan en is die laaste stap eintlik gou. Mens doen 'n groot klomp voorbereidings werk wat eintlik na niks lyk nie en dan ewe skielik het jy hierdie wonderlike resultaat as 'n maand se werk op een dag by mekaar kom. 'n Ander voordeel is dat mens die eenhede kan pars en seker maak die nate is mooi plat. As die groter eenhede gevorm word is dit nie so moeilik om die nate mooi plat te pars nie, want die helfte is reeds gepars.

My doelwit is om teen Kersfees die kwilt klaar te hê. Dit sal die gouste wees wat ek al 'n handlas projek voltooi het. (Ek werk terselftertyd aan twee ander handprojekte ook, net vir afwisseling om dinge interessant te hou en te verseker dat ek nie iets nuuts bedink nie!)

Alles wat mooi is,

Marié

Donderdag 21 Oktober 2021

Mosaiëk Groei

Ek het die afgelope maande regtig lekker aan my Mosaiêk kwilt gewerk. Ek het nie gedink dat die 2 cm 6-kantige patroontjie my aandag so sou hou nie. Ek het regtig gedink dit sou maar 'n vervelige projek wees. Toe nou nie! Hierdie kwilt is deur twee Mosaiëk vloerteel ontwerpe geinspireer- sien my vorige blog. Dit lyk wel heel anders, maar ek is tevrede met die rigting wat die kwilt self aan geneem het.

Middel met ligblou heksagone wat nog kort. (onder om)
Ek het toe nie 'n alternatiewe blou gebruik nie maar die openinge gelos in die hoop dat ek die ligblou Grunge sou vind. Verlede week by Fabric Contessa was my geluk daar toe ek dit in die "oorskiet" stukkies mandjie kry- in 'n netjiese rolletjie gedraai. Die Grunge materiaal is baie uniek. Dit is 'n effe kleur maar met verfkwas hale van ander kleure soos lig groen en wit daarop. Dit is eintlik 'n wonderlike agtergrond materiaal .
Grunge in die voorgrond en enigste alternatief daaragter

'n Pers Grunge vir die wat nie weet hoe "Grunge" materiaal lyk nie- Die foto wys beter as die ligblou.

Ek werk nog steed die kwilt in seksies en werk dit dan aan mekaar vas.

Die middelste gedeelte is vas gewerk met losstaande eenhede buite om.

Die buite groot blokke het nie klein heksagone in die middel nie maar een stuk materiaal. 


Ek is gelukkig om buiten die randpatroon materiaal wat ek vir die kleiner heksagone gebruik het, ook 'n bypassende materiaal te h♠ (nie vir die projek gekoop nie, maar aangekoop omdat dit vir my mooi was)



Waneer ek die kleiner heksagone maak werk ek dit in 3 rye en dan die rye aan mekaar. Die groen rande werk ek in 'n sirkel vas (eers 2-2) en werk dan die sirkel aan die middelste 7 heksagone. Dit was 'n goeie rond dra projek die afgelope paar maande. Die "verrassings" wat elke sirkel opgelewer het, het my aangespoor om hard hier aan te werk.





Ek hoop jy het ook 'n projek waaraan jy lekker werk en wat jou inspireer!

Alles wat mooi is
Marié

Sondag 11 Julie 2021

'n Vloer Inspireer

Pinterest is 'n baie lekker plek vir my! Ongelukkig kry ek daar so baie idees wat ek nooit sal kan gebruik nie- tyd is mos darem 'n faktor, al probeer ek dit omseil. Ek het hierdie Mosaiëk vloer in Pinterest gesien en dit in my EQ program begin ontwerp.
Ek het 'n ander vloer voorbeeld gebruik om die rand te ontwerp.
My ontwerp is deur baie verskillende fases en die uiteindelike ontwerp lyk nou glad nie meer soos die oorspronklikes nie.
As verjaarsdag geskenk vir myself- gee ek my verlof om die kwilt te begin. (Ek moet maar gereeld onderhandel as ek 'n nuwe kwilt wil begin.) So ek begin die kwilt op 12 Junie- die naweek na my verjaarsdag, en kan dit nie neer sit nie. Die middel is amper voltooi, die verkillende dele moet net aan mekaar gewerk word. Ek werk nie volgens die English Paper Piecing metode waar die heksagone oor papiertjies getrek word nie. Ek werk'n gewone naatjie en "running stitch" soos ek al my hand laswerk doen. Aangesien ek al so lank laslapwerk doen en 'n goeie aanvoeling vir die naat toelating het, skat ek die naatjie en begin en eindpunte. Dit spaar baie tyd, want ek hoef niks te merk nie. Aangesien heksagone in 6 rigtings kan uit dy, is dit baie vergewensgesind. Ek sny die heksagone van stroke wat ek op mekaar stapel. Ek sny eers 60 grade diamante en dan sny ek die twee punte af met my Perspex Heksagoon patroonplaat
My aanvanklike idee was om die vloer in bruin materiale te interpeteer. Na ek die materiaal begin sny het wat ek in gedagte gehad het, het ek besluit dit sou te vervelig wees. Ek is op die plaas en het nie my hele materiaal versameling hier nie. Gelukkig kry ek 'n materiaal waarop randpatrone gedruk is en ek het baie moontlikhede. My planne verander onmiddelik!

Ek begin in die middel. Ek werk aan eenhede en stel dit dan saam.


Aangesien ek net begin het, het ek nie seker gemaak dat ek genoeg materiaal het nie. Veral die agtergrond ligte blou in die middel raak min. Dit is 'n Grunge materiaal en ek kan nie nog van die ligte blou kry nie. Ek kort so 10 heksagone en sal dit nou maar van 'n ander ligte blou materiaal sny.

Ek raak darem bewus dat ek groot stukke materiaal gaan nodig kry en gaan doen bietjie inkopies spesifiek vir die projek. Nou sal ek darem nie weer te min hê van die "hoof" materiale nie.

Ek voltooi heelwat elemente vir die middel en moet dit nog net vaswerk.



COVID keer my op die plaas vas (My seun raak siek en ons moet isoleer). Ek het die middelste gedeelte by die see gelos en kan nie verder hieraan werk nie. Ek gaan nou voort om aan die heksagone wat buite om kom te werk. Ek hou daarvan as die kwilt so groei. Eers is daar niks en dan as jy die elemente byvoeg het jy ewe skielik 'n kwilt.

Oor 2 weke sal ek die voltooide middel kan wys.

Alles at mooi is.
Marié













Dinsdag 03 November 2020

Windmeul Kwilt

Gereelde lesers van my blog weet al dat ek meer projekte begin as wat ek klaar maak. Op die oomblik het ek ook 'n hele paar handwerk projekte. Een daarvan is my Windmeul kwilt. Ek het nog nie daaroor geskryf nie en dit is nou amper klaar. Ek is nou al 'n jaar en 2 maande daarmee besig.

Ek het dit verlede jaar in Augustus begin voor ons na die Nasionale Kwiltfees in Johannesburg is. Net voor die fees besef ek dat my ander handprojek nie genoeg handwerk sou lewer vir die 10 dae wat ons weg is nie. Nie voordat ek weer sou moes merk en sny nie. Goed wat ek makliker in my naaldwerkkamer sou kon doen.

Dit was dus 'n maklike besluit om stroke te sny vir 'n nuwe projek en al die ligte stroke te merk. Dit is dan gekombineer met medium en donker stroke. Ek kon baie van hierdie stroke waarop driehoeke getrek was aan mekaar vas werk met my Las-Eers-sny-dan metode terwyl ons gery het. Saans as ons in die koffiekamer saam kuier het ek verder gewerk en as ek nie klasse gehad het of na die uitstallings gekyk het nie, het ek hieraan gewerk. So het ek baie fees herinneringe in die kwilt vas gewerk.

Ek het genoeg stroke saam geneem dat ek eers by die huis weer die merk en los sny werk gedoen het en die eenhede aan mekaar begin las het. Direhoek eenhede bied altyd 'n uitdaging as dit aan mekaar gewerk word. Daar is oral skerp puntjies wat moet skerp wees. As dit in 'n Windmeul gerangskik word, kom daar 8 puntjies by mekaar wat almal mooi skerp moet wees.





Toe ek so halfpad met die projek was, het ek 'n baie goeie plan gekry. Ek is nou al vir 3 jaar besig om te probeer mediteer en vind dit baie moeilik. Ek behoort aan 'n Facebook groep "Stitch Meditation" waar die mense die mooiste goed sonder enige beplanning werk- hoofsaaklik borduurwerk. Ek het al baie gedink hoe ek dit in my kreatiewe werk kan inkorporeer. Die besef het by my pos gevat dat ek hierdie laslapwerk van my met konsentrasie en gedagtes slegs gefokus op dit waarmee ek besig is, kan doen. Dit het die kwaliteit van my laswerk onmiddelik baie verbeter en ek het ook nuwe tegnieke (vir my) ontwikkel om die laswerk nog meer akkuraat te maak. Ek pluk ook die vrugte in my lewe van hierdie meditasie praktyk.

Pinterest

Die projek het ek die eerste keer in Pinterest gesien en dit is eintlik 'n miniatuur projek. Die patroon daarvoor is ook hier te kry. Ek het besluit om met dieselfde soort materiale te werk, drukstowwe met klein motiewe sodat die kleurwaarde nie versteur word nie. In 'n paar gevalle het ek wel ander materiale gebruik omdat ek nie nog van die soort materiaal gehad het nie- wat ook interessantheid aan die finale produk verleen.

Ek het 4 cm en 8 cm perspex driehoeke laat maak wat die merk van die eenhede baie vergemaklik het. Karton patroonplate raak pap van die potlood lyne wat so baie daarom getrek word en moet vervang word. Ek het stroke van 13,5 cm gesny en kon 4 blokke uit elke strook merk. Daar was 'n paar gevalle waar ek net drie blokke en 'n paar eenhede kon uit kry (party materiale is net smaller) en hierdie eenhede het ek in die rand gebruik.

Toe ek 50 blokke gemaak het, besef ek my kwilt het te veel blou in en te min groen, mostert en dowwe oranje. Ek het 120 blokke vir die kwilt nodig gehad en kon toe dadelik nog materiale kies om hierdie kleure aan te vul. 





Saterdag 04 Julie 2020

Corona Ster- 'n Tutoriaal

Hierdie blok (Rose star wat ons na Corona Ster herdoop het) is 'n lekker uitdaging. Nie net omdat die handwerk heelwat Y some het nie maar ook omdat die kleur en materiaal kombinasies verskillende effekte kan oplewer. As mens 'n groot kwilt maak hoef al die blokke nie dieselfde te lyk nie en maak dit nie saak as die blok nie uit gekom het soos jy gedink het dit sou nie. Tog help dit om van die lyn tekening (beskikbaar in die Facebook groep- Corona Ster) in te kleur met lig, medium en donker gedeeltes om jou 'n idee te gee hoe dit kan lyk. Soek ook op Pinterest na ander mense se voorbeelde.

Ek sal enige een aanraai om eers net een blok te maak. Dan verstaan mens die blok mooi en kry jy een effek. As jy besluit dat dit nie vir jou 'n lekker projek is nie, kan jy die blok op 'n sak vaswerk en so jou kuns adverteer waar jy jou sak ronddra.

Ek gaan verduidelik hoe ek dit doen en met foto's demonstreer. Ek sal ook 'n video op You Tube laai.. Ek bou my blok rondom 'n kaleidoskoop materiaal. Hierdie materiaal gebruik ek vir die 6 middelste pantjies. Ek gebruik ook die kleure in die materiaal om oor die ander materiale in my projek te besluit. My kaleidoskoop materiaal het dowwe kleure met vuil pink blomme daarin en olyfgroen takkies. Ek het ook bloue en gele in my lap versameling ingesluit.

Werkswyse
1. Ek begin met die laswerk van die 6 middelste vlieërs wat in 'n stapel van 6 identiese eenhede uitgesny is.


2. As jy pante merk hoef jy vir eers net twee pante te merk. Plaas 'n gemerkte pant op 'n ongemerkte pant.
3.Werk net op die naat lyntjie en nie in die naattoelating nie. Begin aan die buitekant met 'n dubbelsteek. Tel 3-4 stekies  op die naald trek dit deur, maak 'n agterstekie en tel weer 3-4 stekies op die naald.

4.Werk tot by die skerp punt- weer eens nie in die naat toelating nie en eindig met 'n dubbel steek. neem die naald na die agtertse pantjie.
5. Plaas die derde pantjie agter die gemerkte pant. Bring die naald vanaf die agterte pant na die nuwe pant en maak 'n stekie sodat die naald op die lyntjie van die gemerkte pant uitkom.
6. Die gemerkte pant is in die middel maar die twee buitenste pante is verbind. Dit verhoed dat daar 'n klein gaatjie reg in die middel ontstaan.
7. Werk  op die lyntjie op dieselfde wyse om die derde pant vas te werk. Eindig met 'n dubbel steek en werk so 3 stekies terug in die naat toelating.
8. Die patroonplaat word nou op die ongemerkte pante geplaas. Die lyntjie op die patroonplaat moet op die stekies wees. Merk dan die ander sye- eers deur die gleuwe en dan trek jy die patroonplaat af en verbind die merkies op die lap.
9. Herhaal die proses vir die ander drie pante. Jy het nou twee helftes. Speld die buiterand en die middel vas. Maak baie seker dat die middel speldjie presies op die plek is waar die drie pantjies by mekaar kom aan beide helftes.
10.Werk nou met stekies weer van buite na die middel. Maak seker dat steke op die voorste en agterste lyntjie is, deur die werk oor te vou nadat die naald ingesteek is. Eers as jy seker is dat die 3-4 stekies ook op die agterste lyn is trek jy die naald deur.
11. Maak 'n dubbelstekie in die middel maak seker dat dit die laaste steek aan die voor en agterkant is en trek dit goed styf.
12. Steek die naald deur die voorste pant, skuins na die agterste pant van die ander helfte. Bring dit na voor met 'n stekie na die ongewerkte lappie, maak 'n dubbel steek en trek styf. Nou is die middel goed geanker en presies by mekaar. Volg op met 3-4 stekies op die naald en maak seker dit is ook op die agtertse potlood lyntjie. Eindig met 'n dubbel steek en so 3 stekies terug gewerk in die naattoelating.
13. Die nate kan met die vingers plat gedruk word in een rigting of  versigtig gepars word sonder om dit te verrek.

Die middel is voltooi! Dit is so lekker om die verskillende kaleidoskoop effekte te sien. Heelwat gaan in die naattoelting verlore so dit lyk altyd anders as wat jy verwag het. Ek maak sommer 'n hele klomp hiervan net om lekker verras te word met die verskeidenheid van patrone wat hier ontstaan.

Ek hou daarvan as 'n ligte materiaal ook in die blok is en nie net buite om nie. Die "ring" wat om die middel pantjies gaan maak ek dan van 'n ligte materiaal. Party van myne het ek ook met 'n ligblou of ligpienk gemaak maar die meeste met 'n room kleurige agtergrond met fyn patroontjies op.

Ek sny 'n strook materiaal van 7.5 cm. Ek werk met 'n 60mm rolsnyer en kan met gemak 6 lae materiaal sny. Aangesien ek van 'n verskeidenheid materiale in my kwilt hou, kies ek twee ander ligte materiale waarvan ek ook 'n 7,5 cm materiaal strook sny. (Of stapel die drie materiale- elk dubbel gevou selfkante op mekaar- maak die bokant gelyk en sny gelyktydig die 7,5 cm strook af.


Ek plaas die 1/3 de heksagoon patroonplaat op die strook en sny teen die patroonplaat met die rolsnyer om die pant uit te sny. Verskuif die stapel stroke versigtig as jy dit moet draai om makliker te sny. Draai die patroonplaat om en sny die volgende stel pante uit. Daar kom 18 pante uit een strook so met hierdie 3 stroke het jy vir  9 blokke die pante gesny.

In die video wys ek verder hoe die blok voltooi word.

Met 'n kwilt soos dié wat ek net wil maak beplan ek later hoeveel blokke ek sal maak. 'n Enkelbed grote kwilt word verkry met 32 blokke en 6 halwe blokke. Dit sal voor rame  130 cm X 165 cm wees. Met 44 blokke en 8 halwe blokke in 'n rangskikking van 6 blokke in 'n ry sal 156 cm X 180 wees as jy dit meer vierkantig wil maak en 7 blokke in 'n ry sit sal dit 182 x 180 wees en 52 blokke en 8 halwes benodig.

Die blokke word nie voltooi met 1/3 heksagoon op die buiterand nie. Daar word 2 volle ligte heksagone aan elke blok gewerk. Die blokke pas dan soos 'n legkaart in mekaar, bietjie materiaal (wat andersinds in naattoelatings verlore sou gaan) word gespaar en heelwat werk met onnodige nate word gespaar. Aan die einde sal mens wel die blokke op die buiterand langs die sye en onder voltooi met die kleiner ligte pante.

Ek sal later ook ander maniere hoe die blokke gebruik kan word, wys. Begin eers met die middel gedeeltes, of maak eers net een blok.

Alles wat mooi is,
Marié

Vrydag 29 Mei 2020

Kaleidoskoop in Materiaal

My Oupa het 'n koperkleurige Kaleidoskoop gehad. As klein dogtertjie was dit vir my 'n absolute magiese apparaat. Ek kon regtig vir lank daarmee sit en dit draai en draai. Ek weet nou nog hoe teleurgesteld ek was as die kaleidoskoop 'n patroon in net een of twee kleure vertoon het. Ek het aan hou draai tot ek by die multi kleur patrone gekom het en hulle dan een vir een bewonder. Dit is seker waar my liefde vir kleur vandaan kom. Dit is daar dat ek gesien het jy kan nie te veel kleure in een ontwerp hê nie en hoe meer kleure hoe mooier!

Ek speel al lankal met Kaleidoskoop effekte in my 8 puntsterre en het al 'n paar kwilts uit Sarah Nephew se boeke waar heksagoon ontwerpe  gebruik word, gemaak. One -block Wonders van Maxine Rosenthal het my nooit gemotiveer om een te maak nie- die feit dat ek nie self kon kleure byvoeg nie en moes werk met wat die een materiaal my gee, het dit nie uitdagend genoeg gemaak nie. Ek kon wel in haar boek en ook in Bethany Reynolds se boeke "Stack-n-Wack" leer hoe om vinnig en maklik my Kaleidoskoop pante uit te sny.

Ek het nie 'n Afrikaanse benaming vir "Fussy cut" nie. Dit is waar mense 'n spesifieke element uitsoek in die materiaal en dit uitsny. Dan soek jy verder na 'n identiese element en sny dit ook presies so uit, tot jy 5 of 6 van dieselfde het- soos jou patroon vereis. Nou is jou lap vol gate. As jy 'n tweede element soek word jy beperk deur jou vorige snitte. As die tweede element nie genoeg materiaal om dit het nie, omdat dit in die eerste rondte te naby daaraan gekom het, moet jy dit laat vaar. Op die ou einde sit jy met 'n baie stadige proses en 'n groot vermorsing van materiaal.



Geskikte materiale vir Kaleidoskoop patrone

STAPEL, SOEK EN SNY

Die proses kan bespoedig word deur identiese lae materiaal op mekaar te STAPEL. Die patroon wat op die materiaal gedruk word word meestal elke 60 cm herhaal maar soms ook elke 30 cm. Om 6 herhalings te kry benodig jy dus 1,8m- 3,6 m afhangende van hoe groot 'n enkele deel is. Die patroon word ook  oor die breedte herhaal daar is soms klein verskille en dit is ook nie reg langsaan nie maar 'n bietjie op geskuif. Deur daardie herhalings ook te gebruik kan mens  wegkom met net 1,8 meter. (Die presises lengte word deur die hoogte van die herhaling bepaal.)

Vir 'n groot projek waar jy baie van die materiaal in 'n kaleidoskoop gaan gebruik benodig jy 3,6m. (Vir my LaPasagaclia  (Willyne Hammerstein se Millefiori boek) het ek die kaleidoskoop in verskeie aspekte van die sirkel ontwerpe gebruik en het die hele stuk op gebruik en moes nog by koop)

Materiaal waar die patroon dig op mekaar is, kan amper teen mekaar uit gesny word. As die patroon yler is moet jy ideale gedeeltes soek. Dan verloor jy baie materiaal. Om in die soektog te help het jy twee goed nodig.

As jy 'n vensterpatroonplaat maak, kan jy dit oor die materiaal skuif om moontlike gedeeltes van die materiaal te identifiseer.
Met twee spieeltjies wat aan die eenkant vas is en soos 'n boek kan oopvou kan jy sien of 'n gedeelte van die patroon vir jou 'n mooi kaleidoskoop effek gaan gee. Dit werk goed met simmetriese motiewe- andersinds gee dit vir jou 'n spieëlbeeld wat ook help, maar nie die ware voorkoms vertoon nie.

Twee spieëls gee 'n aanduiding of 'n mooi effek verkry sal word.
Die elemente wat ek gebruik is dikwels nie staties nie. Ek sal 'n groot blom opsny in drie pante om verskillende effekte te lewer. Ek hou van die verassing as mens die pante afpak en die ontwerp voor jou verskein- net soos met my Oupa se kaleidoskoop.

Daar is so baie plekke waar mens 'n Kaleidoskoop in jou Laslapwerk kan gebruik. Willyne Hammerstein het al haar 4 de Millefiori boek uit gegee en oral gebruik sy die Kaleidoskoop effek.Nou vir die soektog na die regte materiaal.

Die groot lekkerte van so 'n materiaal in jou projek is dat dit die blokke of elemente saam bind. Dit gee ook vir jou die  kleurpalet waarin jy kan werk en mens soek dan net ligter en donkerder skakerings van die kleure in die kaleidoskoop lap om in die projek te gebruik. Jou kwilt vorm outomaties 'n samehorige geheel.

Wil jy deelneem aan die Corona Ster projek waar ons ook hierdie Kaleidoskoop effek gaan gebruik? Sluit aan bydie Corona Ster Facebook groep:
https://www.facebook.com/groups/244744929929209/

Alles wat mooi is en Kaleidoskope in het vir jou,
Marié

Dinsdag 26 Mei 2020

Kom ons doen Hand laslapwerk

Ek wil so graag hê meer mense moet laslapwerk met die hand doen. Dit is so lekker om saam te sit en werk. Mens kan handwerk oral met jou saam neem, waar jy wag kan jy werk. In geselskap, by die Televisie en op 'n motor reis kan jy aan jou hand projek werk. Ek voltooi jaarliks 'n hand gelaste kwilt en dit meestal in wat andersinds vermorste tyd sou wees.

Ek is tans besig met 'n Rose Star projek en het gewonder of daar nie mense is wat saam met my aan hierdie projek wil werk nie? Oorspronklik is die patroon uit "vlieër " (Kite) eenhede opgebou. As jy dieselfde materiaal herhaal en nie noodwendig 'n kaleidoskoop effek wil kry nie kan jy ook 'n volle heksagoon en 'n derde Heksagoon patroon saam met die Vlieër gebruik om die blok te bou.

2 Vlieërs saam vorm 'n derde van 'n Heksagoon
As jy nie 'n Kaleidoskoop effek in die middel met 6 Vlieërs wil vorm nie, kan dit met 'n Heksagoon vervang word.
Ek het .my projek begin met 'n materiaal wat mooi motiewe op het (nie te groot nie) van verskillende vorms en kleure is en 'n spesifieke kleur palet dikteer. Met hierdie materiaal kan ek interessante kaleidoskoop effekte in die middel van die blok kry. Ek gebruik ook die materiaal om die ander lappies te kies. Die blok leen hom daartoe om op verskillende maniere ingekleur te word.
Eksperimenteer deur lig , medium en donker op verskillende plekke te plaas.
Ek het 'n Facebook Groep(Corona Ster) begin waarby almal wat saam aan die projek wil werk kan aansluit. Ek sal die patroonplate drukstuk in die "File" gedeelte kan plaas. Ek sal ook sekere tegnieke beskryf en dit hier op my blog verduidelik of ook in die Facebook groep beskikbaar maak. Ek het 'n stel patroonplate van Perspex laat maak en dit werk baie lekker. Die patroonplate sal by Thimbles, 'n kwiltwinkel in Durbanville beskikbaar wees.

Geskikte materiale om vir die kaleidoskoop effek te gebruik is ook by Thimbles, by Fabric Contessa in die Paarl en by Country Quilting in Villiersdorp beskikbaar. Al die winkels verskaf 'n posbestellings of courier diens.

Ek hou daarvan om my pante so te sny dat die element beweging aandui en nie byvoorbeeld 'n statiese blommetjie is nie. Kyk na My La Paz kwilt hoe ek die 5 diamante se kaleidoskoop effek aan gepak het.

Onthou wanneer jy die pante uitsny dat daar dele in die naattoelating verlore gaan. Hier sou ek daarby gebaat het om die Kite patroonplaat bietjie op te skuif want die blom sit vas gedruk nadat dit vas gewerk is. Hier is nog 'npaar voorbeelde van die effek wat mens kan kry.



Al het jy die motief te hoog of te laag op die pantjie, jy kry verskillende effekte en almal is goed genoeg om te gebruik!

Ek nooi jou om by die Facebook groep aan te sluit en saam te werk om jou eie Corona ster en meer van hulle te maak.
https://www.facebook.com/groups/244744929929209/

Alles wat mooi is

Marié