'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.
Wys tans plasings met die etiket Craftsy. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Craftsy. Wys alle plasings

Woensdag 06 Januarie 2016

'n Nuwe Jaar en nuwe Planne

Hier by ons is n gesegde: Jou planne moet net nie op raak nie. Ek probeer dit nou gestand doen met n plan vir die nuwe jaar. Ek het baie projekte waaraan ek wil werk en baie half klaar projekte waaraan ek moét werk. Ek word egter gepootjie met te min lus en energie en nou ook die warmte en' n lugversorger in my naaldwerkkamer wat nie wil werk nie.

My blog is vir 3 jaar lank verwaarloos. Gelukkig het dit nog nie in die kuber ruimte verdwyn nie. Ek sal nou my blog gebruik om my verantwoordbaar te hou. Ek voel altyd ek kan nie blog as ek nie foto's het nie. Met my iphone is dit maklik om die fotos op die rekenaar te kry en met die probleem oor kom, kan ek sekerlik nie meer dit as verskoning gebruik nie. (Het nou eers weer gesukkel- maar hopelik weet ek nou hoe.)

Ek het besluit om net maandeliks planne vir die maand te maak. So my plan vir die maand is:

1.Werk aan die kwilt op die raam. Die laslapwerk is al seker in 2009 voltooi, maar dit word nou eers gekwilt. Ek het n dik wol watteersel wat ek vanaf Sneeuberg bestel het. (Hulle maak nou toe so help bie ek gee die link nie.) Dit word eintlik in motor stoffering gebruik. Dit sal baie moeilik wees om dit te kwilt as dit nie op die raam is nie aangesien die vreeslike pofferigheid veroorsaak dat die lae skuif en mens dan plooie in kwilt.

Op die raam dra die dik watteersel daartoe by dat die ruimte om te kwilt al hoe kleiner word. Ek het dus net die eerste twee rye blokke gekwilt en toe dit net af gerol om in die naatjies (ditch) te kwilt om die lae op mekaar te anker. Nou moet dit omgedraai word om die anderkant te kwilt en dan sal ek dit ook afhaal en draai om elke sy bo te kry en te kwilt.

Wat is die ander haak plekke? Die Bernina 830 gee n groter ruimte om te kwilt maar is nie gelukkig met die vorentoe en agtertoe bewegings wat ek van haar vereis om die vere te kwilt nie. As ek weer sien is die spanning uit of die garing breek of die garing maak n knop aan die onderkant. Die masjien is pas gediens, ek sit nuwe en ander soortige naalde in, gebruik al die garings wat ek het maar ek kry steeds probleme. Sulke tye is dit maar op my tande byt en beplan aan die langarm masjien wat ek graag wil koop.

2. My tweede projek vir Januarie is my handlas projek- "Millefiori soos ek wil" wat ek met Willyne Hammerstein se patroon La Pasagaclia aanpak. Hierdie projek sal my n paar maande besig hou. Ek werk saans daaraan maar moet werklik n punt maak om elke aand te werk anders sal dit nie klaar kom nie. My handlasprojek van verlede jaar is ook nog in dele omdat ek nie voldoende tyd daaraan spandeer het nie.



Dis so lekker om die kaleidoskoop effek te sien.


3. Ek moet n ster blokkie maak vir ons Boland gilde se "sew a Row" projek. Die inligting sal ek sommer op my blog sit sodat lede daarna kan kom kyk.

4. Dan moet ek ook voorberei vir die klas wat ek gee om die "Dear Jane" kwilt te maak.

5. Ek het materiaal gekoop om Katja se New Heksagon projek aan te pak. Ek het deur mekaar geraak daar in Quilttalk en net 5 herhalings gekoop ipv 6 soos ek vir hierdie projek benodig. Ek het begin met die projek maar is nie tevrede met die algemene voorkoms nie. Ek sal maar verder soek vir die regte materiaal en dan weer oor begin.



6. Hierdie kwilt is n Patroon wat ek op Craftsy gekoop het. Rita het my gehelp om die blomme in die middel te rangskik. Nou moet ek die raam vasstik en dan weer haar hulp kry om blomme op die raam te rangskik.
Blomme is darem net altyd mooi.


7. My laaste projek vir Januarie is n kinder kwilt vir Siegfried, my oorlede broer se 3 jarige seuntjie. Ek wil sommer ook n klas hier in Riebeek aanbied vir 'n kinder kwilt en die patroon bied lekker geleentheid om basiese dinge in laslapwerk te leer. Hier is my EQ voorstelling van wat ek beplan.
Beplande kinder kwilt
Nou ja as ek by al hierdie kwilts uitkom kan ek myself sekerlik op die skouer klop. Ons sal sien hoe ek vaar.

Is jou planne vir die nuwe jaar al reg?

Marié

Sondag 15 Julie 2012

Alle kwilts is nie suksesvol nie

Ek eksperimenteer graag. Dit beteken dat ek nie altyd die uitkoms kan voorspel nie. Soms is die eindproduk onsuksesvol. Dit beteken nie dat dit nutteloos was of 'n Flop is nie. Ek leer baie tydens so 'n "onsuksesvolle" kwilt. Dikwels is die les wat om nie te doen nie.

Ek wou die kwilt in meer moderne materiale doen. Die uitslag het net weer eens vir my bevestig dat besige materiale nie vir kwilts met sterre en fyn skerp puntjies gebruik moet word nie- julle is welkom om  my verkeerd te bewys

Ek het 'n klas in Quick strip  paper piecing op die webwerf "Craftsy" gedoen. Ek het gelukkig nie soos gewoonlik die moeilikste ontwerp gekies en my eie idees tussen in gegooi nie. Ek het presies soos die instruksies gemaak behalwe: Ek het nie die patrone uit gedruk nie- ek het een patroon gedruk en toe dit bo-op 'n stapeltjie van  12 papiere gesit. Ek het met 'n naald sonder garing op al die lyne gestik. Die voordeel is dat mens ook aan die materiaal kant die lyne kan sien.

Die eerste keer wat ek aan "Paper based piecing" blootgestel is, is daar gedemonstreer dat dit op deursigtige papier afgetrek word sodat mens aan albei kante die lyne kan sien.

Die groot nadeel van "Paper based piecing" is om die papier agterna te verwyder. Daarom verkies ek om nie deur die papier te stik nie, op "freezer paper" te werk en die materiaal daarop vas te stryk. Ek vou dan die papier weg en stik langs die vou.

Die strook metode wat in hierdie klas gebruik word, is egter baie nuttig en het die tydsame proses wat "Paper based piecing" gewoonlik is, baie bespoedig.

In die klas word daar stap vir stap van eenvoudige patrone na meer ingewikkelde ontwerpe beweeg. Ek kan regtig die klas aan beveel. Vir die prys van een klas kan 5-7 kwilts van verskillende patrone gemaak word.

Mag al julle kwilts mooi en suksesvol wees.
Marié

Sondag 20 Mei 2012

Leer aanlyn

'n Kwiltklas is altyd lekker. Mens leer iets nuuts of werk met nuwe materiale of tegnieke. Dit is altyd rede vir groot opwinding. Die groot lekkerte van kwiltklasse is die mense wat saam met mens in die klas is. Mens maak maklik nuwe vriende en deel baie pret. Ook verwonder ek my aan my klasmaats se kreatiwiteit en mens put dikwels ewe veel genot uit die "teacher" se klas voorbeelde as dit wat jou klasmaats optower.
Gemaak in 'n klas met Priscilla Bianci met Guetemala weefstowwe

Aanlyn klasse is weer anders. Ek het graag klasse deur Quilt University gedoen. Daar is 'n klas forum en leer mens mense vanoor die wereld dmv die forum ken. Die klas inhoud word op papier lesings weer gegee en behels dikwels take en "huiswerk" dit hang natuurlik van jouself af of jy dit doen en dan kan mens in die Galery sien wat almal wat aktief deel neem, doen.

Bargello kwilt gemaak in 'n Quilt University klas

Ek het heelwat klasse waarvan ek net die lesings uit gedruk het, maar die inligting is net so waardevol soos 'n boek en ek kan dit altyd weer bestudeer. Ek het ongelukkig al die kursusse wat my interesseer op die web tuiste gedoen en daar kom net so een of 2 nuwes 'n jaar by.

Nou het ek n nuwe "Kollege" ontdek. Dit is die webtuiste Craftsy. (Die naam het my eers afgesit want ek neem my kwiltwerk ernstig op- dit is defnitief nie 'n tydverdryf of verkleinwoordjie nie). Eers het die breiwerk my interesseer en ek is nou besig met my tweede paar sokkies.

Die groot lekkerte van die klaskamer is dat die klas altyd daar is. Waar Quilt University se klasse oor 4-6 weke strek en dan klaar is, het jy altyd toegang tot die Craftsy klaskamer waarvoor jy ingeskryf het. Party keer begin mens iets met entoesiasme maar dan gebeur die lewe en het jy nie tyd om met die klasse voort te gaan nie. Dan kan jy later wanneer jy weer tyd het, weer na die klas gaan sonder dat jy verdere betalings moet maak. Die klasse is ook goedkoop en wissel van $7- $29. Hier is die klasse in die vorm van video's. Dit forseer jou om te sit en die inligting in te neem. (En nie net die notas uit te druk nie) Dit is ook baie lekker om goed wat mens nie altyd uit die beskrywing verstaan nie, te kan sien.

Gaan loer bietjie daar rond en skryf in op hul nuusbriewe om inligting oor klasse te ontvang.

Alles wat mooi is,
Marié du Toit