'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Friday, February 24, 2012

Die idees

Die groot lekkerte van laslapwerk is dat mens binne die veilige grense van bestaande patrone jou eie idees vrye teuels kan gee. Trek blokkiespapier nader en begin om dit in twee kleure in te kleur. Los areas oop , maak paadjies voeg nog kleure by met oop areas tussen gekleurde areas en gaan so voort tot 'n ontwerp begin vorm.


Hou twee spieëls op 'n hoek en die hele ontwerp vorm.
Gee die blok 'n kwart draai en 'n ander ontwerp vorm. (Myne is nie heeltemal 'n spieelbeeld nie- ek dink nie ek het die blokke reg ge"flip" in die program nie) Hopelik kry julle die idee.

Dit is altyd goed om 'n idee op papier te beplan voordat mens dit uitvoer- dan het jy 'n padkaart en weet jy waarheen jy oppad is.

Baie mense hou daarvan om patrone uit 'n boek of tydskrif te maak of aan te koop. Op die manier is jy verseker dat daardie mooi kwilt wat jy sien, die een is wat jy sal skep. Met die materiaal reekse wat deesdae te kry is kies party ontwerpers sekere reekse vir hul patrone. In Suid- Afrika is hierdie reekse nie altyd beskikbaar nie en is dit dan jou eerste kreatiewe uitdaging. Soek materiale wat min of meer soos die prentjie van die kwilt lyk of kies jou eie materiale. Van hier is dit dan net nog 'n treetjie om jou eie kwilt te ontwerp.

As 'n patroon of boek jou die nodige tegnieke leer om te volg met stap vir stap aanwysings is dit 'n goeie wegspringplek. As jy net instruksies kry van hoeveel van die verskillende parte van die onderskeie materiale benodig word, het jy dalk nog hulp nodig met tegnieke wat goeie resultate sal lewer.

In hierdie blog hoop ek om tegnieke wat ek gebruik met julle te deel.

Alles wat mooi is.

Marié


1 comment: