'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Sunday, March 26, 2017

'n Plan is nie genoeg nie

My 60 projek het bietjie vas geval. Ek kan nog geen voltooide produk rapporteer nie! Ek is veronderstel om een kwilt 'n week klaar te hê as ek my 60 projek suksesvol wil uitvoer. Wat my die afgelope maand in die wiele gery het, was hoofsaaklik 2 goed.

Die een is ou slegte gewoontes. Na my oggend swem en ontbyt sak ek voor my rekenaar in, deurentyd antwoord ek emails (ja dit moet gedoen word) besoek ek gou die "links" wat ek kry en lees bietjie Moneyweb. Dan doen ek bietjie admin en herhaal die proses deur weer emails na te gaan. Voor ek weet is die oggend om en niks het op die kwilt front gebeur nie.

Die tweede probleem is 'n doelwit en 'n plan is nie voldoende nie. Die plan moet meer detail bevat. Een kwilt 'n week gebeur nie van self nie. Ek het begin om vir myself te sê dat vir die handwerk projek waar aan ek werk ek daagliks een ster moet voltooi. So "ek is te moeg vanaand" is nie meer n geldige verskoning nie. As ek net eers aan die werk kom voltooi ek sommer twee so ek het al 'n mooi oes.


Die kwilt op die raam wat ek al verlede maand by Boland gilde gaan wys het, kom ook nie klaar nie. Deels omdat ek telkens nog iets wil by kwilt (dit sal net beter werk om ook daar te "ditch" en hier nog iets in die agtergrond te kwilt) en deels omdat ek so selde gaan kwilt.

My naaldwerk kamer was so vol en deur mekaar met halwe projekte wat oral rond staan. Ek kon beswaarlik op my snyplank sny want die boonste helfte was vol allerlei lappe en later ook die regter helfte. Ek kon ook nie behoorlik stryk nie want dieselfde deur mekaar spul was op my lekker ekstra groot strykplank. Dan was halfklaar blokkies van my Dear Jane projek ook oral so ek kon nie begin opruim voor ek nie daarmee 'n plan gemaak het nie.

Verlede Donderdag het ek en Rita 'n klas in Villiersdorp by Marinda gaan bywoon en het ek tuis gekom met n nuwe projek in die begin stadium, 'n sak vol scrap lappe en 'n deur mekaar eetkamer tafel waarop ek alles afgepak het. Dit was die keerpunt.

'n Groot reg pak aksie het begin maar tussen deur het ek ook my detail plan in werking gestel. Die detail plan moet ek nog verder verfyn maar op die oomblik behels dit dat ek elke dag op die langarm masjien moet werk al is dit net vir 10 minute. Dit het reeds vrugte af gewerp want my Tribute to Sue is van die raam af en my volgende projek is op die raam gereed vir die eerste stiksels.


Ek moet ook elke dag in my naaldwerk kamer kom. Ek maak nou gou klaar met my rekenaar werkies en gaan dan dadelik naaldwerk kamer toe. Ek werk op die oomblik aan drie kwilts (nuwes) wat ook my klas voorbeelde is. (Ek het so n paar beginners in 'n kursus wat ek op Moorreesburg aanbied).

By Boland gilde het ons n jaar projek waar ons aan New York Beauty gaan werk. Ek wou al lankal Karen Stone se Ginko de Mayo aanpak en dit was nou goeie motivering. Dit het my so 'n dag voor die rekenaar gekos om al die patrone in my EQ 7 program uit te druk. Ek maak my blokke 36 cm en daar moet 36 blokke gemaak word. Die eerste een is klaar. (Het ek gesê ek gaan net ou goed klaar maak vir my 60 projek?- dan is dit n misverstand. Ek het lankal gesien dat nuwe projekte my energie gee. As ek net aan ou goed moet werk sal ek werklik niks uit gerig kry nie.)

Dinsdag het ek my eetkamertafel uit sorteer, goed in 'n kas wat ek nie gebruik nie verskuif sodat die goed wat ek nodig het netjies gestoor kan word en 'n werkstasie op die sytafel langs Bagel die Marmot ingerig. Gister was dit my naaldwerk kamer se beurt. My werkstafel is skoon met alles wat daarop was weg gepak nie net verskuif nie. So ook met die strykplank. Nou kan ek die binding aan my groot kwilt speld (een van die redes waarom ek vir my so n groot stryk blad gemaak het) en het ook lekker plek gehad om die kwilttop en agterkant wat ek op die raam gesit het, mooi voor te berei.

As ek dit nou reg kry om al drie goed op een dag te doen kan ek n kruis op die almanak trek. My doelwit is om elke dag so 'n kruis te kan trek om n aaneenlopende ketting te vorm. Na twee dae waarin ek reeds suksesvol is, het die volgende vir my duidelik geword. Dit help nie om 'n versugting te hê soos: Ek wil graag al my UFO's klaar maak nie. Dit help ook nie as dit 'n doelwit of selfs 'n plan word nie. Die plan het detail soos wanneer, hoe dikwels en wat,  nodig.

Ek gaan nou vir elke week vooruit beplan en dan sorg dat ek in my naaldwerkkamer en by my langarm masjien uit kom op 'n daaglikse basis! Laat ons sien of dit werk!

Alles wat mooi is

Marié

No comments:

Post a Comment