'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Friday, January 11, 2019

2019 'n Skoon Bladsy

Ek is mal oor n nuwe jaar. Waar ander mense tou op gooi oor nuwe jaars voornemens omdat hulle nie daarby kan hou nie, het ek graag 'n klomp voornemens. Die nuwe jaar gee mens so 'n lekker geleentheid om oor te begin en te kyk of jy nie kan beter doen as die vorige jaar nie. Ek is n gereelde leser van Leo Baubata se Zenhabits en het weer die jaar by sy Sea change program in geskryf. By hom het ek geleer wat die geheim van die aanleer van nuwe gewoontes is.

Met sy hulp het ek oor die laaste 5 jaar my eetgewoontes verander, baie meer aktief geword en 'n wilde water swemmer geword wat al twee keer vanaf Robben Eiland na Big Bay in n gewone swembroek, geswem het.

Kwilt werk sal altyd my eerste liefde bly maar ek val baie keer vas met my projekte omdat ek 'n redelike besige lewe lei. Ek het ook hierdie groot slegte gewoonte en dit is om nuwe kwilts te begin en nie die ou goed klaar te maak nie. Hierdie gewoonte het begin toe ek  die melkery bestuur het en nie baie tyd vir my laslapwerk gehad het nie. Nuwe projekte het aan my energie gegee en dit was altyd makliker om iets nuut aan te pak as om goed klaar te maak.

Met my 60 projek wat ek so 2 jaar terug aangepak het, het ek myself uit gedaag om in die twee jaar rondom my 60 ste verjaardag, 60 kwilts te voltooi. Die maklikste sou wees om 60 half voltooide kwilts te voltooi, maar julle weet almal dit werk teen produktief as mens net aan ou goed "mag" werk. Ek het so 25 kwilts in die proses voltooi waarvan 'n hele paar nuwe kwilts was.

Ek het nie hierdie projek goed gedokumenteer nie en ook nie behoorlik foto'sgeneem van al my voltooide kwilts nie. 'n Hele klomp van hulle is weg gegee sonder dat ek behoorlik foto's geneem het.

Nou is daar 'n nuwe jaar en' n nuwe uitdaging. My vriendin Ronel Pistorius ('n inspirerende produktiewe kwilter wat die mooiste kwilts maak, vinnig dog uiters akkuraat) het my voor die uitdaging gestel om 3 half voltooide kwilts te voltooi voor ek aan 'n nuwe kwilt mag werk. Ek noem dit 3 vir 1 Uitdaging)

Ek het besluit dat ek hierdie projek beter moet dokumenteer. In 2008 het ek fotos van al my halfklaar goed geneem en 'n boekie daarvan gemaak. Dit het nogal gehelp om te weet waaraan ek werk en waaraan ek moet werk. Die foto papier is duur en die ink van mens se huis drukker ook. Ek vind toe n program van ORMS op die internet waar mens 'n 28 bladsy sagte band boek kan laat druk vir R280. Jy laai die foto's op, die program het n verskeidenheid bladsy opsies en mens kan 'n enkel foto of 4-5 fotos per bladsy plaas.

Dit was n groot taak om al die half voltooide projekte van die verskillende bêreplekke te kry om foto's te neem. Ek het nie probeer om vreeslike kwaliteit foto's te neem nie, as die kwilt voltooi is sal ek n beter foto  neem. Nadat ek die boek van die drukkers gekry het, het ek al die kwilts genommer. Ek het ook nog ,n klomp half klaar projekte in ander houers en plekke ontdek en die getal half voltooide goed staan op 90. (Ek is nie trots hier op nie)

As ek die dag hierdie 90 voltooi het, sou ek ook 30 nuwe goed kon aanpak. As daardie 30 voltooi is, sal ek nog 10 kan aan pak en met daardie 10 voltooi nog 3 en uit eindelik nog een. Hierdie projek sal dus by voltooing 'n totaal van 134 voltooide kwilts op lewer. Ek het nie 'n tyd skedule hieraan gekoppel nie. My dryfveer is die nuwe kwilts wat ek wil aan pak en die grootste struikel blok is om die self dissipline aan die dag te lê om nie nuwe projekte te begin voor 3 ou goed nie voltooi is nie.

 By die Nasionale fees in KZN het ons n kwilt joernaal boekie gekry. Ek skryf nou ook hierin soos ek aan 'n projek werk en plak foto's in. Ek hou daarvan om my kwilt projekte te dokumenteer- dit is een van die hoof redes vir my blog, dat dit soos 'n dagboek van my kwilt projekte is. (Natuurlik sal ek dan ook meer gereeld moet blog- wat ook een van my nuwejaars voornemens is. Ek het 'n plan om dit reg te kry- sal later daaroor gesels)

Dit is alles baie motiverend en ek werk getrou en met 'n plan aan my projekte. Ek het Desember 2018 met die uitdaging begin en reeds 8 projekte voltooi.

Ek hoop jou 2019 het ook lekker uitdagings en goeie voornemens om dit aan te pak. Kom ons kyk wat ons hierdie jaar kan uitrig!

Alles wat mooi is.

Marié

No comments:

Post a Comment