'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Sunday, July 11, 2021

'n Vloer Inspireer

Pinterest is 'n baie lekker plek vir my! Ongelukkig kry ek daar so baie idees wat ek nooit sal kan gebruik nie- tyd is mos darem 'n faktor, al probeer ek dit omseil. Ek het hierdie Mosaiëk vloer in Pinterest gesien en dit in my EQ program begin ontwerp.
Ek het 'n ander vloer voorbeeld gebruik om die rand te ontwerp.
My ontwerp is deur baie verskillende fases en die uiteindelike ontwerp lyk nou glad nie meer soos die oorspronklikes nie.
As verjaarsdag geskenk vir myself- gee ek my verlof om die kwilt te begin. (Ek moet maar gereeld onderhandel as ek 'n nuwe kwilt wil begin.) So ek begin die kwilt op 12 Junie- die naweek na my verjaarsdag, en kan dit nie neer sit nie. Die middel is amper voltooi, die verkillende dele moet net aan mekaar gewerk word. Ek werk nie volgens die English Paper Piecing metode waar die heksagone oor papiertjies getrek word nie. Ek werk'n gewone naatjie en "running stitch" soos ek al my hand laswerk doen. Aangesien ek al so lank laslapwerk doen en 'n goeie aanvoeling vir die naat toelating het, skat ek die naatjie en begin en eindpunte. Dit spaar baie tyd, want ek hoef niks te merk nie. Aangesien heksagone in 6 rigtings kan uit dy, is dit baie vergewensgesind. Ek sny die heksagone van stroke wat ek op mekaar stapel. Ek sny eers 60 grade diamante en dan sny ek die twee punte af met my Perspex Heksagoon patroonplaat
My aanvanklike idee was om die vloer in bruin materiale te interpeteer. Na ek die materiaal begin sny het wat ek in gedagte gehad het, het ek besluit dit sou te vervelig wees. Ek is op die plaas en het nie my hele materiaal versameling hier nie. Gelukkig kry ek 'n materiaal waarop randpatrone gedruk is en ek het baie moontlikhede. My planne verander onmiddelik!

Ek begin in die middel. Ek werk aan eenhede en stel dit dan saam.


Aangesien ek net begin het, het ek nie seker gemaak dat ek genoeg materiaal het nie. Veral die agtergrond ligte blou in die middel raak min. Dit is 'n Grunge materiaal en ek kan nie nog van die ligte blou kry nie. Ek kort so 10 heksagone en sal dit nou maar van 'n ander ligte blou materiaal sny.

Ek raak darem bewus dat ek groot stukke materiaal gaan nodig kry en gaan doen bietjie inkopies spesifiek vir die projek. Nou sal ek darem nie weer te min hê van die "hoof" materiale nie.

Ek voltooi heelwat elemente vir die middel en moet dit nog net vaswerk.



COVID keer my op die plaas vas (My seun raak siek en ons moet isoleer). Ek het die middelste gedeelte by die see gelos en kan nie verder hieraan werk nie. Ek gaan nou voort om aan die heksagone wat buite om kom te werk. Ek hou daarvan as die kwilt so groei. Eers is daar niks en dan as jy die elemente byvoeg het jy ewe skielik 'n kwilt.

Oor 2 weke sal ek die voltooide middel kan wys.

Alles at mooi is.
Marié













No comments:

Post a Comment