'n Afrikaanse blog oor kwiltwerk in al sy fasette.
Hier deel ek my kennis, liefde en passie vir my werk met mede kwilters.

Maandag 23 Julie 2012

Te veel moontlikhede

Daar is niks so verlammend soos 'n te wye keuse nie. Ek het hierdie blokke gemaak in 'n Quilt University klas met Karen Combs. (Sy gee ongelukkig nie meer daar klas nie- maar die boek is net so volledig.)
3 Blokke-een met ligte vierkante, een met donker vierkante en een wat diagonaal in lig en donker verdeel is met driehoeke en vierkante.
Ek kon nie besluit watter uitleg ek sou gebruik nie. Dit was 'n groot werk om die blokke te maak en ek wou nie dit aan mekaar stik en dan later spyt wees nie. Uiteindelik het ek besluit dat hierdie blokke nou aan mekaar gestik moet word. Toe ek die boks  oop maak- sien ek dat ek eintlik reeds 'n goeie uitleg beplan het.
Begin van uitleg
Ek weet nou al te veel moontlikhede lei tot besluitloosheid- so ek het dit net eenvoudig volgens die diagram uit gelê op my ontwerp muur. Tot my verbasing het ek so baie blokke gehad dat ek nog 'n rand patroon ook kon beplan. 
Uitleg sonder raam

Daar is steeds blokke oor. Ek sal nog 'n geleentheid kry om weer eens te besluit hoe ek die kleiner kwilt sal uit lê.
Ek het al twee kwarte aan mekaar gestik en gepars. Hopelik sal ek die ander twee kwarte vandag kan voltooi.

Vir hierdie kwilt het ek baie materiale gebruik wat oor was na ek dit in ander kwilts gebruik het. Mens raak moeg om dieselfde lappies oor en oor te gebruik Jy voel ook "skuldig" as ou bekendes in die klas bly lê- so asof jy jou ou vriende verwerp. Op hierdie manier kon ek die geliefde lappies eens en vir altyd op gebruik.

Alles wat mooi is en geniet jou "scraps".

Sondag 15 Julie 2012

Alle kwilts is nie suksesvol nie

Ek eksperimenteer graag. Dit beteken dat ek nie altyd die uitkoms kan voorspel nie. Soms is die eindproduk onsuksesvol. Dit beteken nie dat dit nutteloos was of 'n Flop is nie. Ek leer baie tydens so 'n "onsuksesvolle" kwilt. Dikwels is die les wat om nie te doen nie.

Ek wou die kwilt in meer moderne materiale doen. Die uitslag het net weer eens vir my bevestig dat besige materiale nie vir kwilts met sterre en fyn skerp puntjies gebruik moet word nie- julle is welkom om  my verkeerd te bewys

Ek het 'n klas in Quick strip  paper piecing op die webwerf "Craftsy" gedoen. Ek het gelukkig nie soos gewoonlik die moeilikste ontwerp gekies en my eie idees tussen in gegooi nie. Ek het presies soos die instruksies gemaak behalwe: Ek het nie die patrone uit gedruk nie- ek het een patroon gedruk en toe dit bo-op 'n stapeltjie van  12 papiere gesit. Ek het met 'n naald sonder garing op al die lyne gestik. Die voordeel is dat mens ook aan die materiaal kant die lyne kan sien.

Die eerste keer wat ek aan "Paper based piecing" blootgestel is, is daar gedemonstreer dat dit op deursigtige papier afgetrek word sodat mens aan albei kante die lyne kan sien.

Die groot nadeel van "Paper based piecing" is om die papier agterna te verwyder. Daarom verkies ek om nie deur die papier te stik nie, op "freezer paper" te werk en die materiaal daarop vas te stryk. Ek vou dan die papier weg en stik langs die vou.

Die strook metode wat in hierdie klas gebruik word, is egter baie nuttig en het die tydsame proses wat "Paper based piecing" gewoonlik is, baie bespoedig.

In die klas word daar stap vir stap van eenvoudige patrone na meer ingewikkelde ontwerpe beweeg. Ek kan regtig die klas aan beveel. Vir die prys van een klas kan 5-7 kwilts van verskillende patrone gemaak word.

Mag al julle kwilts mooi en suksesvol wees.
Marié

Maandag 25 Junie 2012

Is kleur keuses moeilik?

Toe ek 30 jaar gelede begin laslapwerk doen het, was ons grootste probleem om geskikte materiaal in die hande te kry. Om materiaal van die VSA te bestel het die verkryging van 'n banktjek behels- wat 'n beslommernis was dit net nie! Hier in die Kaap kon ons uit die klein verskeidenheid materiale van Biggie Best kies. Verder het ek by Sacks & Futeran (ai waar is daardie ou winkel van ons!) geskikte Da Gama materiale uit gesoek.Wat 'n vreugde toe die Suid Afrikaans vervaardigde Percy Burlin reeks op die mark gekom het. 


Ons het dit nie toe besef nie, maar die beperkte keuse het dit vir ons eintlik makliker gemaak. Dit was defnitief nie oorweldigend soos wat nuwe kwilters vandag moet ervaar nie.
Ster: hoofsaaklik Percy Burlin materiale

As gevolg van die beperkte materiaal keuse en my onervarenheid het ek aanvanklik 'n monochromatiese kleurskema gebruik. Mens kan nie eintlik 'n fout maak as jy net pink lappe gebruik nie?  Die patroon/ontwerp  in 'n monochromatiese kleurskema sal net duidelik uitstaan as mens seker maak dat daar genoeg verskil tussen ligte, medium en donker materiale is. Die essensiële vaardigheid het ek  dus op hierdie wyse aan geleer.


Ek het baie gesukkel om die konsep van 'n agtergrond mooi te verstaan. Ek wou graag 'n verskeidenheid lap gebruik soos aan beveel deur my geliefkoosde skrywers van daardie tyd, Beth Gutcheon en Jinny Beyer. Ek het dan soms 'n ligte en 'n medium materiaal as agtergrond gebruik. Dit het gelei tot snaakse vorms in die agtergrond wat my patroon versteur het. Aanvanklik het ek Laslap blokke gemaak en dit in kussings gebruik. Ek kon dus na my handewerk kyk wanneer ek in my sitkamer ontspan het. Op hierdie manier het my eie werk belangrike lesse aan my geleer.
Dit is min of meer soos dit gelyk het- met die versteurde agtergrond.


Mens leer maar net die beste deur te doen, en dan jou werk te bestudeer. Beginner kwilters gee graag hul werk weg. Sorg dat jy genoeg kwilts vir jouself maak en dit gebruik sodat jy die lesse wat jou kwilts jou kan leer kan ervaar.


Alles wat mooi is
Marié


Sondag 20 Mei 2012

Leer aanlyn

'n Kwiltklas is altyd lekker. Mens leer iets nuuts of werk met nuwe materiale of tegnieke. Dit is altyd rede vir groot opwinding. Die groot lekkerte van kwiltklasse is die mense wat saam met mens in die klas is. Mens maak maklik nuwe vriende en deel baie pret. Ook verwonder ek my aan my klasmaats se kreatiwiteit en mens put dikwels ewe veel genot uit die "teacher" se klas voorbeelde as dit wat jou klasmaats optower.
Gemaak in 'n klas met Priscilla Bianci met Guetemala weefstowwe

Aanlyn klasse is weer anders. Ek het graag klasse deur Quilt University gedoen. Daar is 'n klas forum en leer mens mense vanoor die wereld dmv die forum ken. Die klas inhoud word op papier lesings weer gegee en behels dikwels take en "huiswerk" dit hang natuurlik van jouself af of jy dit doen en dan kan mens in die Galery sien wat almal wat aktief deel neem, doen.

Bargello kwilt gemaak in 'n Quilt University klas

Ek het heelwat klasse waarvan ek net die lesings uit gedruk het, maar die inligting is net so waardevol soos 'n boek en ek kan dit altyd weer bestudeer. Ek het ongelukkig al die kursusse wat my interesseer op die web tuiste gedoen en daar kom net so een of 2 nuwes 'n jaar by.

Nou het ek n nuwe "Kollege" ontdek. Dit is die webtuiste Craftsy. (Die naam het my eers afgesit want ek neem my kwiltwerk ernstig op- dit is defnitief nie 'n tydverdryf of verkleinwoordjie nie). Eers het die breiwerk my interesseer en ek is nou besig met my tweede paar sokkies.

Die groot lekkerte van die klaskamer is dat die klas altyd daar is. Waar Quilt University se klasse oor 4-6 weke strek en dan klaar is, het jy altyd toegang tot die Craftsy klaskamer waarvoor jy ingeskryf het. Party keer begin mens iets met entoesiasme maar dan gebeur die lewe en het jy nie tyd om met die klasse voort te gaan nie. Dan kan jy later wanneer jy weer tyd het, weer na die klas gaan sonder dat jy verdere betalings moet maak. Die klasse is ook goedkoop en wissel van $7- $29. Hier is die klasse in die vorm van video's. Dit forseer jou om te sit en die inligting in te neem. (En nie net die notas uit te druk nie) Dit is ook baie lekker om goed wat mens nie altyd uit die beskrywing verstaan nie, te kan sien.

Gaan loer bietjie daar rond en skryf in op hul nuusbriewe om inligting oor klasse te ontvang.

Alles wat mooi is,
Marié du Toit